NUMERI 27:1-11

NUMERI 27:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Die dogters van Selofgad was van die nageslag van Manasse. Selofgad was die seun van Gefer seun van Gilead seun van Makir seun van Manasse. Die name van die dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Hulle het nader gekom en hulle het gaan staan by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. Hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleasar en die leiers en die hele volk, en hulle het gesê: “Ons pa het in die woestyn gesterf. Hy was nie een van die groep wat saam met Korag teen die Here opstandig geword het nie, hy het gesterf omdat hy self sonde gedoen het. Maar hy het nie seuns gehad wat sy grond kan kry nie. Hoekom moet ons pa se naam nou verdwyn uit sy familie? Jy moet vir ons grond gee tussen ons pa se broers.” Moses het vir die Here gevra of die dogters reg is, en die Here het vir hom gesê: “Die dogters van Selofgad praat reg. Jy moet vir elkeen haar eie grond gee tussen haar pa se broers, jy moet dit doen. Jy moet vir hulle die grond gee wat hulle pa sou gekry het. “En jy moet vir die Israeliete sê: “Wanneer 'n man sterf en hy het nie 'n seun nie, dan moet julle sy grond vir sy dogter gee. As hy ook nie 'n dogter het nie, dan moet julle sy grond vir sy broers gee. As hy ook nie broers het nie, dan moet julle sy grond vir sy pa se broers gee. En as sy pa nie broers gehad het nie, dan moet julle sy grond gee vir die persoon wat sy naaste familie is, sodat dit daardie persoon se grond sal wees. “Dit is wat die Israeliete altyd moet doen.” Die Here het dit vir Moses gesê.

NUMERI 27:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA het nader gekom die dogters van Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, van die geslagte van Manasse, die seun van Josef — dit is die name van sy dogters: Magla, Noa en Hogla en Milka en Tirsa — en hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleásar en voor die owerstes en die hele vergadering, by die ingang van die tent van samekoms, en gesê: Ons vader het in die woestyn gesterwe, en hy het nie behoort by die bende van die wat teen die HERE vergader het in die bende van Korag nie, maar hy het om sy sonde ontwil gesterwe en geen seuns gehad nie. Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons 'n besitting onder die broers van ons vader. Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van die HERE. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik 'n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan. En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan. En as hy geen dogter het nie, moet julle sy erfdeel aan sy broers gee. En as hy geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan die broers van sy vader gee. En as sy vader geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan sy bloedverwant gee wat naaste aan hom is uit sy geslag, en dié moet dit in besit neem. En dit moet vir die kinders van Israel 'n regsinsetting wees, soos die HERE Moses beveel het.

NUMERI 27:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die dogters van Selofgad – hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa, van die Manasse-familiegroep – het na vore getree. Selofgad was die seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse, seun van Josef. Hulle het voor Moses, die priester Eleasar, die leiers en die hele volksvergadering by die ingang van die •Tent van Ontmoeting gaan staan en gesê: “ Ons vader is oorlede in die woestyn. Hy was egter nie onder die bende nie – daardie bende van Korag wat teen die HERE saamgespan het. Maar deur sy eie sonde het hy gesterf, en hy het nie seuns gehad nie. Waarom moet ons vader se naam verdwyn uit sy familiegroep omdat hy nie 'n seun gehad het nie? Gee vir ons erfgrond tussen ons vader se broers.” Moses het hulle saak toe voor die HERE gebring. Die HERE het vir Moses gesê: “ Die dogters van Selofgad se versoek is billik. Jy moet beslis vir hulle onvervreembare erfgrond gee tussen hulle vader se broers. Jy moet hulle vader se erfdeel na hulle laat oorgaan. Met die Israeliete moet jy praat en sê, ‘As iemand sterf en hy het nie 'n seun nie, moet julle sy erfdeel na sy dogter laat oorgaan. En as hy nie 'n dogter het nie, moet julle sy erfdeel vir sy broers gee. En as hy nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy vader se broers gee. En as sy vader nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy bloedverwant gee wat die naaste aan hom is in sy familiegroep. Hy moet dit dan in besit neem. Dit moet vir die Israeliete 'n wetlike voorskrif wees, soos die HERE Moses beveel het.’ ”

NUMERI 27:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe kom die dogters van Selofhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, uit die geslagte van Manasse, die seun van Josef; en dit is die name van sy dogters; Magla, Noag en Hogla en Milka en Tirsa. En hulle het voor Moses en voor Eleasar, die priester, en voor die owerstes en die hele vergadering by die ingang van die tent van samekoms gestaan en gesê: Ons vader het in die woestyn gesterf, en hy was nie in die bende van die wat teen die HERE vergader het in die bende van Korag nie; maar het in sy eie sonde gesterf en geen seuns gehad nie. Waarom moet die naam van ons vader onder sy familie weggedoen word, omdat hy geen seun het nie? Gee dan aan ons 'n besitting onder die broers van ons vader. En Moses het hulle saak voor die aangesig van die HERE gebring. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Die dogters van Selofhad spreek reg: jy moet hulle sekerlik 'n erfdeel gee onder die broers van hulle vader; en jy moet die erfdeel van hulle vader aan hulle laat oorgaan. En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: As iemand sterf en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel aan sy dogter laat oorgaan. En as hy geen dogter het nie, moet julle sy erfdeel aan sy broers gee. En as hy geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan sy vader se broers gee. En as sy vader geen broers het nie, moet julle sy erfdeel gee aan sy bloedverwant wat naas hom van sy geslag is, en hy moet dit in besit neem; en dit moet vir die kinders van Israel 'n insetting van oordeel wees, soos die HERE beveel het Moses.