MARKUS 4:10-20

MARKUS 4:10-20 AFR83

Toe hulle alleen was, het die mense wat saam met die twaalf by Hom was, Hom oor die gelykenisse uitgevra, en Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die insig in die geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir dié wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse, sodat “hulle kyk en kyk en tog nie sien nie, en hoor en hoor en tog nie verstaan nie, dat hulle hulle nie miskien bekeer en vergewe word nie. ” Hy sê toe vir hulle: “Julle begryp nie eens hierdie gelykenis nie. Hoe sal julle dan al die ander gelykenisse kan verstaan? “Die saaier saai die woord. Daar is mense by wie daar soos op 'n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is. Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan. Hulle laat dit egter nie in hulle wortel skiet nie en hou nie lank uit nie. As hulle daarna ter wille van die woord verdruk of vervolg word, word hulle gou afvallig. Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor, maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 4:10-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid