Markus 4:10-20

Markus 4:10-20 AFR20

Toe Hy alleen was, het die omstanders saam met die twaalf Hom uitgevra oor die gelykenisse. En Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die geheimenis van die •koninkryk van God bekend gemaak, maar vir hulle daar buite word alles in gelykenisse gegee, “ ‘sodat hulle sal sien, en tog nie sien nie, en hoor, en tog nie verstaan nie, en hulle nie terugdraai en vergewe word nie.’ ” En Hy sê vir hulle: “Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? Hoe sal julle dan al die gelykenisse verstaan? Die saaier saai die woord. Die saad langs die pad is die mense by wie die woord gesaai word – sodra hulle dit hoor, kom Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle gesaai is. En die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die mense wat die woord dadelik met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor; maar hulle het nie wortel geskiet nie en hou net 'n rukkie. As verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hulle dadelik. En ander weer is die saad wat tussen die dorings gesaai is. Hulle is diegene wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerlei dinge dring in en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Maar die saad wat op die goeie grond gesaai is, is daardie mense wat die woord hoor, dit aanneem en vrug dra, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 4:10-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid