MARKUS 4:10-20

MARKUS 4:10-20 Bybel vir almal (ABA)

Later was Jesus alleen. Die twaalf dissipels en die ander mense by Hom het vir Hom gevra wat die gelykenisse beteken. Jesus het vir hulle gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy die Koning is en dat Hy regeer. Die ander mense wat nie aan My behoort nie, verstaan dit nie. Ek vertel vir hulle die gelykenisse “ want Ek wil hê hulle moet kyk en kyk maar niks sien nie, en hulle moet hoor en hoor maar niks verstaan nie. As die ander mense dit verstaan het, dan sou hulle begin lewe het soos God wil hê, en dan sou God hulle sonde vergewe het.” Jesus sê toe vir sy dissipels: “Verstaan julle nie hierdie gelykenis nie? As julle dit nie verstaan nie, dan sal julle die ander gelykenisse nog minder verstaan. Die saad wat die saaier saai, is die boodskap wat van God kom. Wanneer die saad op die voetpad val, dan is dit soos wanneer mense die woorde van die boodskap hoor, maar die Satan kom dadelik en hy vat die woorde weg wat God in hulle harte gesaai het. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dadelik bly is daaroor. Maar hulle is soos die plante wat nie diep wortels het nie en wat net 'n kort tydjie lewe. Hulle hoor die boodskap en hulle glo dit, maar wanneer die mense hulle daaroor verdruk, en hulle begin swaarkry, dan hou hulle op om te glo. Wanneer die saad tussen die dorings val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor maar hulle is bekommerd oor die dinge van hierdie wêreld. Hulle dink net aan geld en hulle wil baie ander dinge graag hê. Die dinge van die wêreld is soos die dorings wat die koringplantjies toegroei. Vir hierdie mense word ander dinge belangriker as die boodskap van God. Daarom kan die boodskap nie hulle lewe verander nie, soos die saad nie vrugte dra nie. Wanneer die saad in vrugbare grond val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dit glo, en dit verander hulle lewe. Dit dra vrugte, by party mense 30 maal meer as die saad wat die saaier gesaai het, by party mense 60 maal meer, en by party mense 100 maal meer.”

MARKUS 4:10-20 Die Boodskap (DB)

Later, toe die groot klomp mense weg was, het Jesus se twaalf getrouste volgelinge en die paar ander mense wat nog oor was, Hom uitgevra oor die verhale wat Hy vertel om hulle te leer. Jesus het hulle so geantwoord: “As julle mooi na die verhale luister, sal julle baie oor die geheime van God se heerskappy in die wêreld leer. Julle gaan dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg verstaan, maar vir die mense wat die verhale nie in die lig van my boodskap wil verstaan nie, sal alles net blote verhale bly. Die gevolg is dat die verhale vir hulle maar net stories sal wees. Hulle sal die stories hoor, maar nie ’n woord verstaan wat aangaan nie. As hulle iets verstaan het, sou hulle na God toe teruggedraai het en Hy sou hulle alles vergewe het wat hulle verkeerd gedoen het.” Jesus sê toe verder vir hulle: “Julle verstaan nie eens hierdie verhaal van die man wat saai nie. Hoe sal julle dan enige verhaal verstaan wat Ek julle vertel? Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal moet verstaan van die boer wat gaan saai het. Die boer saai die boodskap van God. “Party mense is soos die saad wat op die voetpad geval het ... Hulle hoor die boodskap van God, maar dit sink nie in nie. Sodra hulle dit hoor, sorg Satan dat hulle dit baie gou vergeet. Satan pik as’t ware daardie woorde uit hulle gedagtes uit. “Ander mense is weer soos die saad wat op die rotse geval het ... Ook hulle hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet begin maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in die doringbosse beland het  ... Hulle het ook die boodskap van God gehoor en dit gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat hulle beroep stel en al die ander dinge waarmee hulle besig is, ja, selfs die gejaag na geld, vir hulle belangriker as die geloof. Hulle het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat dit iemand is wat God se woord so gretig aanvaar het nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in goeie grond geval het ... Hulle hoor die boodskap van God en word diep daardeur getref. Hulle begin in oorgawe reg leef en in alles wat hulle doen, borrel hulle Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan hulle nie.”

MARKUS 4:10-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Later, toe Jesus alleen was saam met die twaalf dissipels en sy ander mense, het hulle Hom uitgevra: “Wat beteken hierdie gelykenisse?” Jesus het hulle geantwoord: “Julle word bevoorreg om die geheim van God se koningsheerskappy te verstaan. Maar vir die buitestanders bly hierdie dinge blote gelykenisse sodat die Skrifwoord vervul kan word: ‘Sodat hulle sien wat Ek doen, maar nie die bedoeling daarvan verstaan nie; sodat hulle my woorde hoor, en dit tog nie begryp nie; sodat hulle nie van hulle sondes wegdraai en vergewe word nie.’” Hy sê toe vir hulle: “As julle nie hierdie gelykenis verstaan nie, hoe sal julle al die ander begryp wat Ek vir julle gaan vertel? Die boer waarvan Ek julle vertel het, is die een wat die saad van die woord uitstrooi. Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg. En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem. Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die woord, en dit bly sonder vrug. Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ’n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is.”