MATTEUS 21:12-20

MATTEUS 21:12-20 AFR83

Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit 'n rowersnes.” Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig. Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing ?” Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het. Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry. Toe Hy 'n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.” En die vyeboom het dadelik verdroog. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?”

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTEUS 21:12-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid