MATTEUS 21:12-20

MATTEUS 21:12-20 NLV

Jesus het tempel toe gegaan en al die handelaars en hulle kliënte uitgejaag. Hy het die tafels van die bankiers en die hokkies van die duiweverkopers onderstebo gegooi en vir hulle gesê: “Daar staan in die Skrif geskryf: ‘My huis is bedoel om ’n huis van gebed te wees, maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak.’” Blinde en verlamde mense het daar op die tempelterrein na Hom toe gekom en Hy het hulle gesond gemaak. Maar toe die hoofpriesters en die skrifkenners die merkwaardige dinge sien wat Hy doen en hoor hoe selfs die kinders in die tempel uitroep: “Prys God vir die Seun van Dawid,” was hulle bitterlik ontsteld en het vir Jesus gesê: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” was Jesus se antwoord. “Het julle nog nooit in die Skrif gelees: ‘U het kinders en babatjies geleer om u lof te besing’ nie?” Toe is Hy weer daar weg en Hy het uit die stad na Betanië toe gegaan, waar Hy oornag het. Vroegdag op pad terug na Jerusalem het Jesus honger geword en ’n enkele vyeboom langs die pad sien staan. Hy gaan toe na die boom, maar al wat Hy daaraan gekry het, was blare. Hy sê toe vir die boom: “Mag jy nooit weer vrugte dra nie!” Die boom het onmiddellik totaal verskrompel. Die dissipels was verstom toe hulle dit sien en het gesê: “Hoe op aarde kon die boom so skielik heeltemal verdroog?”

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTEUS 21:12-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid