MATTEUS 21:12-20

MATTEUS 21:12-20 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het na die tempel-gronde gegaan. Daar was mense besig om goed te koop en te verkoop. Jesus het hulle almal uitgejaag. Hy het die tafels omgegooi van die mense wat die geld omgeruil het en ook die stoele van die mense wat duiwe verkoop het. Jesus het gesê in die Ou Testament is geskryf: “God het gesê: Die mense sal sê my tempel is 'n plek waar mense moet bid. Maar julle verander dit, dit is nou 'n plek waar diewe bymekaarkom.” Blindes en kreupeles het na Jesus toe gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het die wonderlike dinge gesien wat Jesus gedoen het en hulle het gehoor hoe die kinders op die tempel-gronde hard skree en sê: “Prys die Seun van Dawid!” Toe het die priesterleiers en skrifgeleerdes kwaad geword en hulle het vir Jesus gesê: “Hoor jy wat die kinders sê?” Jesus sê toe vir hulle: “Ja. Julle kan dit lees: ‘ U laat klein kindertjies oor u krag sing.’ ” Jesus het hulle daar gelos en Hy het uit Jerusalem na die stad Betanië gegaan. Hy het die nag daar gebly. Vroeg die volgende oggend het Jesus teruggegaan na Jerusalem en Hy het honger geword. Hy het 'n vyeboom langs die pad gesien en Hy het daarnatoe gegaan. Toe Hy by die boom kom, sien Hy daar is niks vye nie, net blare. Jesus sê toe vir die boom: “Jy sal nooit weer vye dra nie, dit is seker.” En dadelik het die vyeboom doodgegaan. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en hulle het gevra: “Hoekom het die vyeboom so skielik doodgegaan?”

MATTEUS 21:12-20 Die Boodskap (DB)

In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die hoë tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Dit was ommuur en is as deel van die tempel beskou. Op hierdie tempelplein is allerhande offerdiere verkoop aan die dorpsmense wat nie self diere gehad het nie of aan mense wat ver gereis het en nie diere die hele ent kon saambring nie. Jy kon daar ook vreemde geld omruil vir die regte soort geld wat vir tempelbelasting gebruik is. Die plein was die ene bedrywigheid. Jesus het die gedoente so gekyk en toe die spul daar weggejaag. Tot die tafels en stoele het Hy omgekeer. Vir die mense wat verbaas gestaan en kyk het, sê Hy toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan: ‘Die bedoeling is dat mense My moet kom aanbid hier waar Ek woon! Julle het dit egter die bymekaarkomplek van skelms en diewe gemaak.’” Op die tempelplein was daar nou weer plek vir die blindes en lammes. Hulle het na Jesus toe gestroom en Hy het hulle gesond gemaak. Die Joodse godsdienstige leiers het Jesus natuurlik soos valke dopgehou. Niks het hulle oë ontglip nie. Hulle het gesien hoe wonderlik Jesus die mense help. Hulle het ook gehoor hoe die kinders op die plein rondhardloop en skreeu: “Hoera, koning Dawid se Seun is hier!” Dit alles het hulle baie omgekrap. Hulle konfronteer Jesus toe: “Hoor jy wat skreeu hierdie kinders oor jou?” “Ja,” sê Jesus. “Het julle dan nog nooit geleer nie: as kinders, wat nog nie eens behoorlik kan loop nie, iemand loof, verdien hy regtig daardie lof.” Jesus was nie lus om verder met hulle te stry nie en is daar weg, Betanië toe. Daar het Hy die nag geslaap. Die volgende môre is Jesus vroeg terug stad toe. Op pad het Hy honger begin voel. Hy sien toe ’n vyeboom langs die pad en gaan soek ’n paar vye. Die boom was die ene blare, maar daar was nie ’n enkele vy nie. “Een ding is seker: niemand sal ooit weer ’n vy van hierdie boom afpluk nie,” sê Jesus toe. Dadelik het die boom wortel en tak verdroog. Sy volgelinge was nogal uit die veld geslaan hieroor. “Het julle dit gesien? Hoe op aarde is dit moontlik?” vra hulle.