JOB 30:20-31

JOB 30:20-31 AFR83

Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie. Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie. U draai U teen my met u geweld, U val my aan met mag. U tel my op en laat die wind my wegwaai, U ruk my heen en weer in u stormwind. Ek weet dat U my bestem vir die dood, die plek waar alle mense saamkom. Sal ek hier van my puinhoop af dan nie my hand uitsteek om hulp nie? Sal ek in my ondergang nie om hulp roep nie? Het ek nie trane gestort vir dié wat swaarkry nie, het ek nie meegevoel betoon met die armes nie? Ek het toe die goeie verwag, maar rampe het my getref, ek het uitgesien na lig, maar donker het my oorval. Dit kook in my, ek kom nie tot rus nie, dae vol swaarkry bly my inwag. Ek het swart geword, maar nie van sonbrand nie. So staan ek hier tussen julle en roep om hulp. Al broers wat ek het, is die jakkalse; al vriende wat ek het, volstruise. Oor my hele lyf het my vel swart geword, ek gloei van die koors. Al wat vir my oorbly, is 'n treurlied op die lier, 'n lied van trane op die fluit.”