Job 30:20-31

Job 30:20-31 AFR20

“Ek roep na U, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U kyk net na my. U het wreed geword teenoor my; met u magtige hand behandel U my soos 'n vyand. U tel my op die wind en laat my wegdryf; die stormwind waai my uitmekaar. Ja, ek weet, na die dood laat U my omdraai, die ontmoetingsplek vir almal wat leef. Mens lig tog nie 'n hand teen 'n puinhoop as hy in sy rampspoed om hulp roep nie? Het ek nie gehuil oor dié wat moeilike tye beleef nie? Was my hart nie treurig oor behoeftiges nie? Ja, op die goeie het ek gehoop, maar die slegte het gekom; op lig het ek gewag, maar donker het gekom. My binneste is in beroering, dit kom nie tot rus nie; dae van terneergedruktheid sak op my toe. Met 'n donker gelaat loop ek rond, maar nie as gevolg van hitte nie; ek staan in die byeenkoms op en roep aanhoudend om hulp. 'n Broer van jakkalse het ek geword, 'n vriend van steenuile. My vel het swart geword en dop af, my gebeente gloei van koors. My lier het 'n rouklag geword, my fluit die stem van huilendes.