JESAJA 30:27-33

JESAJA 30:27-33 AFR83

Die Here verskyn uit die verte; sy toorn breek los, onweer dreig; as Hy praat, is dit vol gramskap, sy woorde is vlamme van vuur. Sy asem is 'n siedende stroom wat mense meesleur. Hy kom om die nasies te sif in 'n fyn sif, om vir hulle 'n toom aan te sit en hulle weg te lei. Maar julle sal sing soos in die nag voor 'n fees, julle sal vrolik wees soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe, na die Rots van Israel toe. Die Here sal sy magtige stem laat hoor, Hy sal sy krag openbaar in gloeiende toorn, verterende vuur, storm, onweer en hael. Assirië sal sidder vir die stem van die Here wanneer Hy begin slaan, en elke keer wanneer die slae op Assirië afkom en hom tref, sal die simbale en die liere weerklink. Die Here sal self teen Assirië veg. Daar is 'n brandoond gereed gemaak, lank gelede al; dit is diep en wyd en bedoel vir die koning van Assirië. Daar is 'n groot hoop brandhout in en die asem van die Here steek dit aan die brand soos 'n stroom swael.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid