JESAJA 30:27-33

JESAJA 30:27-33 NLV

Kyk! Die HERE kom uit die verte. Sy woede breek los, omring deur donker wolke soos rook. Sy lippe is vol wraak. Sy woorde verteer soos vuur. Sy woede kom soos vloedwater oor sy vyand. Hy voer hulle weg en sif die trotse nasies. Hy gaan ’n toom aan hulle sit en hulle weglei om hulle te vernietig. Maar julle sal sing, van blydskap soos wanneer julle feesvier. Julle sal so bly wees soos wanneer ’n fluitspeler ’n groep pelgrims begelei na Jerusalem, op pad na die berg van die HERE, na die Rots van Israel. En die HERE sal roep met ’n magtige stem. Woedend sal Hy sy vyande platslaan. Hy sal hulle bykom met verterende vlamme, met ’n wolkbreuk, met donderstorms en reuse haelstene. Hy sal hulle vernietig. Die stem van die HERE sal Assirië verpletter. Met sy septer sal Hy hulle platslaan. En wanneer Hy hulle slaan met sy roede, sal sy volk tydhou met musiek van simbale en liere. Die HERE self sal teen hulle veg met sy magtige arm. Die brandoond is lankal klaar vir die Assiriese koning. ’n Groot hoop hout is reggesit daarvoor. Die asem van die HERE sal dit aan die brand steek soos die vuur van ’n vulkaan.