Jesaja 30:27-33

Jesaja 30:27-33 DB

Kyk, die Here kom van ver af. Hy is woedend kwaad. As Hy praat, is sy woorde soos weerligstrale wat vuur en rook uit die grond slaan. Sy asem is soos ’n diep stroom water wat tot by jou nek kom en jou saamsleep. Hy kom om die nasies uit te sif soos ’n mens meel sif. Hy neem hulle gevange en vat hulle waarheen Hy wil, net soos ’n mens met ’n perd maak waarvoor jy ’n toom aangesit het: hy moet loop net waarheen jy hom lei. Maar julle sal sing soos in die nag voor een van die heilige feeste. Julle sal bly wees soos wanneer ’n fluitspeler die groep pelgrims na Jerusalem, na die berg van die Here toe lei; Hy, die Beskermer van Israel. Dan sal die Here sy magtige stem laat hoor en die volle krag van sy woede laat neerreën in vlamme saam met ’n wolkbreuk, ’n storm en hael. Die Assiriërs sal doodbang wees as hulle die Here se stem hoor en die mag van sy woede ervaar. En die Here se volk sal met simbale en harpe tyd hou van elke hou waarmee die Here hulle slaan. Die Here het reeds ’n groot brandstapel vir die koning van Assirië gereedgemaak. Dit is ’n wye, diep vuurmaakplek met groot stapels hout sodat dit goed kan brand. Die Here sal dit met sy asem wat soos ’n vulkaan uitbars, aan die brand steek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid