EKSODUS 32:19-35

EKSODUS 32:19-35 AFR83

Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg. Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink. Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?” Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.” Toe Moses hoor dat dit die volk is wat op loop gesit het, en dat dit Aäron is wat hulle op loop laat sit het, sodat hulle 'n spot by hulle vyande geword het, het hy by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!” Al die Leviete het om hom bymekaargekom. Moses sê toe vir hulle: “So sê die Here die God van Israel: Elkeen moet sy swaard vat, kruis en dwars deur die kamp gaan en doodmaak, ongeag of dit familie, vriende of bure is.” Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het, en daardie dag is sowat drie duisend om die lewe gebring. Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.” Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.” Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het 'n ernstige sonde gedoen deur vir hulle 'n god van goud te maak. Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee. Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde.” Die Here het die volk met 'n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid