Eksodus 32:19-35

Eksodus 32:19-35 AFR20

Toe hy naby die kamp kom en die kalf en die kringdanse sien, het Moses kwaad geword. Hy het die kliptafels wat in sy hande was, neergesmyt en dit aan die voet van die berg verpletter. Hy het die kalf wat hulle gemaak het, gevat, dit verbrand en dit fyngestamp, totdat dit soos poeier was. Toe het hy dit op die water uitgestrooi en die Israeliete dit laat drink. Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy so 'n groot sonde oor hulle gebring het?” Aäron het geantwoord: “Die toorn van my heer moet tog nie ontbrand nie. U ken self die volk, dat hulle tot kwaad geneig is. Hulle het vir my gesê, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het – ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê, ‘Wie goud het, ruk dit af!’ Hulle het dit vir my gegee en ek het dit in die vuur gegooi; en toe kom hierdie kalf daar uit.” Moses het gesien dat die volk losbandig is, want Aäron het hulle losbandig laat word, sodat hulle 'n bespotting by hulle teenstanders geword het. Moses het toe by die ingang na die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die HERE is, kom hier na my toe!” Al die Leviete het by hom byeengekom. Hy sê toe vir hulle: “So sê die HERE, die God van Israel, ‘Maak elkeen van julle sy swaard aan sy heup vas! Beweeg heen en weer deur die kamp, van ingang tot ingang, en bring elkeen van julle sy broer en sy vriend en sy bloedverwant om die lewe!’ ” Die Leviete het toe gemaak soos Moses gesê het, en daar het daardie dag ongeveer drieduisend man van die volk geval. Moses het gesê: “Julle het julle vandag aan die HERE gewy, omdat elkeen van julle teen sy seun en sy broer was. Dit bring vandag 'n seën oor julle.” Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n groot sonde gedoen. Daarom moet ek nou na die HERE opklim; miskien kan ek vir julle sonde versoening doen.” Moses het toe na die HERE teruggekeer en gesê: “Ag, hierdie volk het 'n groot sonde gedoen. Hulle het vir hulle 'n god van goud gemaak. As U nou maar hulle sondes sal vergewe! Maar as U nie wil nie, wis my dan maar uit u •boekrol wat U geskryf het, uit.” Die HERE het egter vir Moses gesê: “Wie ook al teen My gesondig het, hom sal Ek uit my boekrol uitwis. Gaan dan nou, lei die volk na die plek waaroor Ek met jou gepraat het. Kyk, my engel gaan voor jou uit. Maar die dag wanneer Ek rekenskap eis, sal Ek hulle tot verantwoording roep oor hulle sonde.” Die HERE het die volk met 'n plaag getref oor die kalf wat hulle gemaak het, die kalf wat Aäron gemaak het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid