EKSODUS 32:19-35

EKSODUS 32:19-35 Bybel vir almal (ABA)

Toe Moses naby die kamp kom, het hy die beeld van die bul-kalf gesien en die Israeliete wat dans. Hy het toe baie kwaad geword en hy het die twee plat klippe stukkend gegooi. Die klippe het onder teen die berg geval en gebreek. Moses het die bul-kalf geneem wat die Israeliete gemaak het en hy het dit verbrand. Toe het hy dit fyngemaal soos poeier en hy het dit in die water gegooi. Hy het gesê die Israeliete moet die water drink. Moses het vir Aäron gesê: “Hierdie mense het niks verkeerd aan jou gedoen nie. Hoekom het jy hulle verlei om so 'n groot sonde te doen?” Aäron antwoord toe: “Meneer, moenie kwaad wees vir my nie. Jy weet self hierdie volk wil altyd verkeerde dinge doen. Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god wat vir ons kan wys waarnatoe ons moet gaan. Hierdie man Moses het vir ons uit Egipte gebring, maar ons weet nie waar hy nou is nie.’ Ek het toe vir hulle gesê almal wat goue ringe het, moet dit afhaal en vir my gee. Ek het die goue ringe in die vuur gegooi en hierdie bul-kalf het daaruit gekom.” Moses het gesien die volk het wild geword en verkeerd gedoen. Hy het ook gesien dit was Aäron se skuld. Hy het geweet hulle vyande sal hulle spot. Toe het Moses by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Almal wat vir die Here iets wil doen, kom hier na my toe!” Al die Leviete het toe by Moses kom staan. Hy het vir hulle gesê die Here, die God van die Israeliete, sê: “Elkeen moet sy swaard neem en deur die hele kamp gaan. Maak dood die mense, ook jou broer, jou vriend of jou buurman.” Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het daardie dag omtrent 3 000 mans doodgemaak. Moses het vir die Leviete gesê: “Julle het julleself vandag aan die Here gewy om vir Hom te werk. Julle het julle eie seuns en broers doodgemaak. Daarom seën die Here julle vandag en maak Hy julle sy priesters.” Die volgende oggend het Moses vir die volk gesê: “Julle het sonde gedoen, 'n baie groot sonde. Maar ek sal nou na die Here toe gaan en met Hom gaan praat. Miskien sal Hy julle sonde vergewe.” Moses het toe teruggegaan na die Here toe en gesê: “Ag, Here, die volk het sonde gedoen, 'n baie groot sonde. Hulle het vir hulle 'n god van goud gemaak. Maar nou, vergewe asseblief hulle sonde. As U dit nie wil doen nie, dan moet U my naam uitvee uit die boek wat U geskryf het.” Die Here het vir Moses gesê: “Nee, die mense wat teen My gesondig het, dit is húlle name wat Ek sal uitvee uit my boek. Gaan nou, neem die Israeliete na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal vir jou wys waarnatoe julle moet gaan. Maar wanneer Ek so besluit, dan sal Ek hulle straf oor hulle sonde.” Die Here het die volk swaar gestraf omdat hulle die bul-kalf aanbid het wat Aäron gemaak het.

EKSODUS 32:19-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En toe hy naby die laer kom en die kalf en koordanse sien, het die toorn van Moses ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die berg verbrysel. En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het, en dit in die vuur verbrand en dit fyn gemaal. Toe het hy dit op die water gestrooi en die kinders van Israel dit laat drink. En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so 'n groot sonde oor hulle gebring het? Toe antwoord Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U self ken die volk, dat hulle deur en deur sleg is. Hulle het dan aan my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom. Toe Moses sien dat die volk bandeloos was — want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders — het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel. En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak. En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drieduisend man geval. Toe het Moses gesê: Vul vandag julle hand om te offer aan die HERE — want elkeen is teen sy seun en teen sy broer — sodat Hy vandag 'n seën oor julle kan gee. EN die volgende dag het Moses aan die volk gesê: Júlle het 'n groot sonde begaan; maar nou sal ek na die HERE opklim: miskien kan ek vir julle sonde versoening doen. En Moses het na die HERE teruggegaan en gesê: Ag, hierdie volk het 'n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het! Toe het die HERE Moses geantwoord: Wie teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit my boek. Maar gaan nou en lei die volk waarheen Ek jou gesê het. Kyk, my engel sal voor jou uit gaan. Maar die dag as Ek besoeking doen, dan sal Ek hulle sonde oor hulle besoek. So het die HERE dan die volk getref, omdat hulle die kalf gemaak het wat Aäron vervaardig het.

EKSODUS 32:19-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg. Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink. Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?” Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.” Toe Moses hoor dat dit die volk is wat op loop gesit het, en dat dit Aäron is wat hulle op loop laat sit het, sodat hulle 'n spot by hulle vyande geword het, het hy by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!” Al die Leviete het om hom bymekaargekom. Moses sê toe vir hulle: “So sê die Here die God van Israel: Elkeen moet sy swaard vat, kruis en dwars deur die kamp gaan en doodmaak, ongeag of dit familie, vriende of bure is.” Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het, en daardie dag is sowat drie duisend om die lewe gebring. Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.” Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.” Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het 'n ernstige sonde gedoen deur vir hulle 'n god van goud te maak. Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee. Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde.” Die Here het die volk met 'n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.

EKSODUS 32:19-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe hy naby die kamp kom en die kalf en die kringdanse sien, het Moses kwaad geword. Hy het die kliptafels wat in sy hande was, neergesmyt en dit aan die voet van die berg verpletter. Hy het die kalf wat hulle gemaak het, gevat, dit verbrand en dit fyngestamp, totdat dit soos poeier was. Toe het hy dit op die water uitgestrooi en die Israeliete dit laat drink. Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy so 'n groot sonde oor hulle gebring het?” Aäron het geantwoord: “Die toorn van my heer moet tog nie ontbrand nie. U ken self die volk, dat hulle tot kwaad geneig is. Hulle het vir my gesê, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het – ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê, ‘Wie goud het, ruk dit af!’ Hulle het dit vir my gegee en ek het dit in die vuur gegooi; en toe kom hierdie kalf daar uit.” Moses het gesien dat die volk losbandig is, want Aäron het hulle losbandig laat word, sodat hulle 'n bespotting by hulle teenstanders geword het. Moses het toe by die ingang na die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die HERE is, kom hier na my toe!” Al die Leviete het by hom byeengekom. Hy sê toe vir hulle: “So sê die HERE, die God van Israel, ‘Maak elkeen van julle sy swaard aan sy heup vas! Beweeg heen en weer deur die kamp, van ingang tot ingang, en bring elkeen van julle sy broer en sy vriend en sy bloedverwant om die lewe!’ ” Die Leviete het toe gemaak soos Moses gesê het, en daar het daardie dag ongeveer drieduisend man van die volk geval. Moses het gesê: “Julle het julle vandag aan die HERE gewy, omdat elkeen van julle teen sy seun en sy broer was. Dit bring vandag 'n seën oor julle.” Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n groot sonde gedoen. Daarom moet ek nou na die HERE opklim; miskien kan ek vir julle sonde versoening doen.” Moses het toe na die HERE teruggekeer en gesê: “Ag, hierdie volk het 'n groot sonde gedoen. Hulle het vir hulle 'n god van goud gemaak. As U nou maar hulle sondes sal vergewe! Maar as U nie wil nie, wis my dan maar uit u •boekrol wat U geskryf het, uit.” Die HERE het egter vir Moses gesê: “Wie ook al teen My gesondig het, hom sal Ek uit my boekrol uitwis. Gaan dan nou, lei die volk na die plek waaroor Ek met jou gepraat het. Kyk, my engel gaan voor jou uit. Maar die dag wanneer Ek rekenskap eis, sal Ek hulle tot verantwoording roep oor hulle sonde.” Die HERE het die volk met 'n plaag getref oor die kalf wat hulle gemaak het, die kalf wat Aäron gemaak het.

EKSODUS 32:19-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En net toe hy naby die laer kom, sien hy die kalf en die dansery, en Moses se toorn het ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en dit onder die berg gebreek. En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het en dit met vuur verbrand en dit fyngemaak en dit op die water gestrooi en die kinders van Israel daarvan laat drink. Toe sê Moses vir Aäron: Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy so 'n groot sonde oor hulle gebring het? Toe sê Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie; Want hulle het vir my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit sal gaan; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En ek het vir hulle gesê: Elkeen wat goud het, laat hulle dit afbreek. Toe het hulle dit vir my gegee; toe het ek dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het uitgekom. En toe Moses sien dat die volk naak was; (want Aäron het hulle tot hul skande onder hul vyande naak gemaak.) Toe gaan Moses in die poort van die laer staan en sê: Wie is aan die kant van die HERE? laat hom na my toe kom. En al die seuns van Levi het by hom bymekaargekom. En hy sê vir hulle: So spreek die HERE, die God van Israel: Sit elkeen sy swaard by sy sy, en gaan in en uit van poort tot poort deur die hele laer, en maak elkeen sy broer en elkeen sy metgesel dood en elkeen sy naaste. En die kinders van Levi het gedoen volgens die woord van Moses, en daar het van die volk daardie dag omtrent drie duisend man geval. Want Moses het gesê: Wys julle vandag aan die HERE, elkeen aan sy seun en aan sy broer; dat hy jou vandag 'n seën mag gee. En die volgende dag het Moses aan die volk gesê: Julle het 'n groot sonde begaan; en nou sal ek opgaan na die HERE; dalk sal ek versoening doen vir jou sonde. Toe het Moses na die HERE teruggekeer en gesê: Ag, hierdie volk het 'n groot sonde begaan en vir hulle gode van goue gemaak. Maar nou, as U hulle sonde wil vergewe—; en so nie, wis my tog uit jou boek wat jy geskryf het. Toe sê die HERE vir Moses: Elkeen wat teen My gesondig het, hom sal Ek uitwis uit my boek. Gaan dan nou, lei die volk na die plek waarvan Ek met jou gespreek het; kyk, my Engel gaan voor jou uit; maar op die dag as Ek besoek, sal Ek hulle sonde op hulle besoek. En die HERE het die volk geteister, want hulle het die kalf gemaak wat Aäron gemaak het.

EKSODUS 32:19-35 Die Boodskap (DB)

Toe Moses nader kom aan die kamp en die beeld van die kalf sien en sien hoe hulle al in die rondte dans, het hy so kwaad geword dat hy die plat klippe op die grond neergesmyt het. Dit het in stukke by die voet van die berg gelê. Hy het die beeld van die kalf in die vuur gegooi en dit toe so fyn soos stof gemaal. Hy het die poeier in die drinkwater gegooi en die Israeliete gedwing om dit op te drink. Moses vra toe vir Aäron: “Watter kwaad het hierdie volk jou gedoen dat jy hulle moes verlei om so ’n verskriklike sonde te doen?” Aäron antwoord toe: “Meneer, jy moenie kwaad word nie. Jy weet so goed soos ek dat hierdie volk altyd reg is om kwaad te doen. Hulle het my kom vra: ‘Maak tog vir ons ’n god wat ons verder kan lei. Ons weet nie waar Moses is wat ons uit Egipte gelei het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê dat almal wat goue ringe aanhet, dit moet afhaal en vir my kom gee. Ek het dit in die vuur gegooi en toe ek sien, toe spring hierdie goue kalf sommer daar uit die vuur uit.” Moses sien toe dat die volk handuit geruk het tot groot vermaak van hulle teëstanders. Aäron het hulle nie in toom gehou nie. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en uitgeroep: “Dié wat aan die Here se kant is, moet hier by my kom staan!” Die hele familie van Levi het toe om hom gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Vat jou swaard en gaan maak deur die hele kamp elkeen voor die voet dood, of dit nou jou broer, vriend of familielid is, maak nie saak nie.’” Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het. Daardie dag is daar ongeveer 3 000 mans dood. Moses het vir die Leviete gesê: “Julle het vandag vir die Here gewerk. Julle was bereid om te doen wat Hy sê. Julle het na Hom geluister, selfs al het dit beteken dat julle seuns en broers moes doodmaak. Die Here die Almagtige sal vir julle sorg.” Die volgende dag het Moses vir die volk wat oor was, gesê: “Julle het ’n vreeslike sonde gedoen. Ek gaan nou dadelik weer opklim na die Here toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle vergewe vir wat julle aangevang het.” Moses het teruggegaan en tot die Here gebid: “Ag tog, Here, hierdie volk het ’n verskriklike fout gemaak. Hulle het vir hulleself ’n god van goud gaan staan en maak. As U bereid is, vergewe asseblief tog die fout wat hulle gemaak het. Anders moet U maar my naam uitvee uit die boek waarin U die name opskryf.” Die Here antwoord hom toe: “Ek sal net dié wat verkeerd gedoen het se name uit my boek uitvee. Gaan nou terug en gaan lei die volk na die plek toe wat Ek met jou afgespreek het. My hemelse boodskapper sal saam met jou daarnatoe gaan. Ek sal nog deeglik met die volk afreken oor die oortreding wat hulle begaan het.” Die Here het die volk met ’n plaag getref oor die goue kalf wat hulle Aäron vir hulle laat maak het om voor te bid.

EKSODUS 32:19-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe hulle nader aan die kamp kom, het Moses die kalf en die gedansery gesien. Hy het so kwaad geword dat hy die klippe op die grond neergegooi het. Dit het daar by die voet van die berg in stukke gebreek. Hy het toe die beeld van die kalf wat hulle gemaak het in die vuur gegooi. Toe dit afgekoel het, het hy dit fyngemaal. Hy het die poeier in water gegooi en die Israeliete gedwing om dit te drink. Hy vra toe vir Aäron: “Wat het die volk dan aan jou gedoen dat jy hulle so ’n groot sonde laat doen het?” “Moenie kwaad word nie,” het Aäron geantwoord. “Jy weet self hoe gereed is hierdie volk om kwaad te doen. Hulle het vir my kom sê: ‘Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat geword het van hierdie Moses wat ons uit Egipte gelei het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê: ‘Haal af julle goue oorringe en bring dit vir my.’ Ek het dit by hulle gevat en in die vuur gegooi en siedaar, hierdie kalf kom toe uit die vuur!” Moses het besef dat Aäron toegelaat het dat die volk handuit ruk. Hulle was ’n bespotting vir hulle vyande. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en hardop uitgeroep: “Almal wat aan die HERE se kant is, kom staan hier by my!” Al die Leviete het by hom gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Die HERE, die God van Israel, sê: ‘Elkeen moet sy swaard vat en van hoek tot kant almal in die kamp doodmaak, of dit nou broer, vriend of familielid is.’” Die Leviete het net so gemaak soos Moses gesê het. Ongeveer 3 000 mans het daardie dag gesterf. Moses het toe vir die Leviete gesê: “Julle het vandag julleself aan die HERE toegewy. Julle het gedoen wat Hy gesê het, selfs al het dit beteken dat julle julle eie seuns en broers moes doodmaak. Die HERE sal julle seën.” Die volgende dag het Moses vir die volk wat oor was, gesê: “Julle het verskriklik oortree. Ek sal egter weer opklim na die HERE toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle vergewe vir die sonde wat julle gedoen het.” Moses het toe teruggegaan na die HERE toe. Hy het vir Hom gesê: “Ag tog, HERE, hierdie volk het ’n verskriklike sonde gedoen. Hulle het vir hulle ’n afgod van goud gemaak. Wil U nie maar asseblief hulle sonde vergewe nie? As U nie wil nie, moet U tog maar my naam uitvee uit die boek waarin U dit opgeteken het.” Die HERE het vir Moses gesê: “Ek sal net die name van dié wat teen My oortree het, uitvee uit die boek. Gaan nou en gaan lei die volk na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal voor jou uitgaan. Ek sal met hulle wat gesondig het, afreken op die dag wanneer Ek hulle tot rekenskap roep.” Die HERE het ’n groot ramp oor die volk laat kom omdat hulle die kalf aanbid het wat Aäron vir hulle gemaak het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid