EKSODUS 32:19-35

EKSODUS 32:19-35 NLV

Toe hulle nader aan die kamp kom, het Moses die kalf en die gedansery gesien. Hy het so kwaad geword dat hy die klippe op die grond neergegooi het. Dit het daar by die voet van die berg in stukke gebreek. Hy het toe die beeld van die kalf wat hulle gemaak het in die vuur gegooi. Toe dit afgekoel het, het hy dit fyngemaal. Hy het die poeier in water gegooi en die Israeliete gedwing om dit te drink. Hy vra toe vir Aäron: “Wat het die volk dan aan jou gedoen dat jy hulle so ’n groot sonde laat doen het?” “Moenie kwaad word nie,” het Aäron geantwoord. “Jy weet self hoe gereed is hierdie volk om kwaad te doen. Hulle het vir my kom sê: ‘Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat geword het van hierdie Moses wat ons uit Egipte gelei het nie.’ Ek het toe vir hulle gesê: ‘Haal af julle goue oorringe en bring dit vir my.’ Ek het dit by hulle gevat en in die vuur gegooi en siedaar, hierdie kalf kom toe uit die vuur!” Moses het besef dat Aäron toegelaat het dat die volk handuit ruk. Hulle was ’n bespotting vir hulle vyande. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en hardop uitgeroep: “Almal wat aan die HERE se kant is, kom staan hier by my!” Al die Leviete het by hom gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Die HERE, die God van Israel, sê: ‘Elkeen moet sy swaard vat en van hoek tot kant almal in die kamp doodmaak, of dit nou broer, vriend of familielid is.’” Die Leviete het net so gemaak soos Moses gesê het. Ongeveer 3 000 mans het daardie dag gesterf. Moses het toe vir die Leviete gesê: “Julle het vandag julleself aan die HERE toegewy. Julle het gedoen wat Hy gesê het, selfs al het dit beteken dat julle julle eie seuns en broers moes doodmaak. Die HERE sal julle seën.” Die volgende dag het Moses vir die volk wat oor was, gesê: “Julle het verskriklik oortree. Ek sal egter weer opklim na die HERE toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle vergewe vir die sonde wat julle gedoen het.” Moses het toe teruggegaan na die HERE toe. Hy het vir Hom gesê: “Ag tog, HERE, hierdie volk het ’n verskriklike sonde gedoen. Hulle het vir hulle ’n afgod van goud gemaak. Wil U nie maar asseblief hulle sonde vergewe nie? As U nie wil nie, moet U tog maar my naam uitvee uit die boek waarin U dit opgeteken het.” Die HERE het vir Moses gesê: “Ek sal net die name van dié wat teen My oortree het, uitvee uit die boek. Gaan nou en gaan lei die volk na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal voor jou uitgaan. Ek sal met hulle wat gesondig het, afreken op die dag wanneer Ek hulle tot rekenskap roep.” Die HERE het ’n groot ramp oor die volk laat kom omdat hulle die kalf aanbid het wat Aäron vir hulle gemaak het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid