DANIËL 6:10-17

DANIËL 6:10-17 AFR83

Koning Darius het toe so 'n dekreet uitgevaardig. Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank. Daniël se vyande het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om genade smeek. Toe gaan hulle na die koning toe en hou die koninklike dekreet aan hom voor. “U het tog mos 'n dekreet uitgevaardig dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word.” Die koning het geantwoord: “Ja, en dit staan vas. Dit is 'n onherroeplike wet, 'n wet van Mediërs en Perse.” Toe sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy bid nog drie maal per dag tot sy God.” Toe die koning dit hoor, het hy baie sleg gevoel. Hy het 'n plan probeer maak om Daniël te red, en toe die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer. Toe storm Daniël se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning uitgevaardig is, verander mag word nie.” Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in 'n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor DANIËL 6:10-17