DANIËL 6:10-17

DANIËL 6:10-17 Die Boodskap (DB)

Koning Darius het toe so ’n bevel opgestel en geteken. Toe Daniël hoor dat die bevel onderteken is, het hy huis toe gegaan. In een van die boonste kamers van sy huis was daar vensters wat in die rigting van Jerusalem gekyk het. Daar het hy, soos sy gewoonte was, voortgegaan om by die oop vensters te kniel en drie maal per dag tot God te bid en Hom te prys. Daniël se vyande het hom in sy huis gekry waar hy besig was om God te aanbid en in nederigheid voor Hom te kniel. Hulle is toe haastig daar weg na die koning toe, waar hulle Daniël op grond van die koninklike bevel aangekla het: “U Majesteit, u het mos ’n bevel onderteken wat sê dat enigeen wat binne die volgende 30 dae enige mens of god behalwe u aanbid, in ’n hok vol leeus gegooi moet word.” “Natuurlik,” het die koning geantwoord, “en dit staan vas, want dit is ’n wet van Meders en Perse wat nie teruggetrek kan word nie.” Hulle sê toe vir die koning: “Wel, Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom glad nie aan U Majesteit se bevel nie. Hy bid nog steeds drie maal op ’n dag tot sy God.” Toe die koning dit hoor, was hy ontsteld omdat hy die bevel geteken het. Hy het die res van die dag bestee om ’n manier te probeer kry om vir Daniël uit hierdie situasie te red. Teen die aand se kant het die klomp weer na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U Majesteit besef natuurlik dat volgens die wet van Meders en Perse geen bevel van die koning verander kan word nie.” Die koning moes toe maar die opdrag gee om Daniël te arresteer en in die leeukuil te gooi. Hy sê toe vir Daniël: “Mag jou God wat jy so getrou dien, jou red.”

DANIËL 6:10-17 Bybel vir almal (ABA)

Koning Darius het toe die wet gemaak. Daniël het gehoor van die nuwe wet, maar hy het in sy huis gegaan en hy het elke dag drie maal gekniel en gebid en sy God geprys soos hy altyd gedoen het. Hy het gebid voor die oop vensters van die kamer op die dak. Die vensters was oop na Jerusalem toe. Die ander amptenare het nader gehardloop en gesien Daniël bid tot sy God. Hulle gaan praat toe met die koning oor die wet wat hy gemaak het. Hulle het vir hom gesê: “Koning, jy het 'n wet gemaak: Al die mense mag 30 dae lank net tot jou bid, en as iemand in hierdie tyd tot 'n ander mens of god bid, dan sal jy hom vir die leeus gooi.” Die koning het gesê: “Ja, dit is 'n wet van Medië en Persië, niemand kan dit verander nie.” Toe sê die amptenare vir die koning: “Een van die manne van Juda wat hier in Babel is, doen nie wat jy wil hê nie. Dit is Daniël, hy doen nie wat die wet sê nie. Hy bid drie maal elke dag tot sy God.” Die koning was baie hartseer toe hy dit hoor. Hy wou vir Daniël red, en hy het die hele dag 'n plan probeer maak om Daniël te help. Maar daardie amptenare het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “Koning, jy moet onthou, dit is 'n wet van Medië en Persië. Niemand kan 'n wet wat die koning gemaak het, verander nie.” Die koning het toe gesê hulle moet vir Daniël bring en hulle moet hom vir die leeus gooi. Hulle het dit gedoen. Die koning het vir Daniël gesê: “Jou God wat jy aanhou dien, Hy sal jou red.”

DANIËL 6:10-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Hierom het koning Daríus die bevelskrif en die verbod geskrywe. En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op 'n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het. Daarop het daardie manne aangestorm en Daniël gevind terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek. Hulle het toe nader gekom en voor die koning oor die koninklike verbod gespreek: Het u nie 'n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie? Die koning het geantwoord en gesê: Die saak staan vas volgens onherroeplike wet van Meders en Perse. Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: Daniël, een van die Joodse ballinge, het hom aan u, o koning, en aan u verbod wat u geskrywe het, nie gesteur nie, maar drie maal op 'n dag doen hy sy gebed. Toe die koning die woord hoor, het dit hom baie mishaag, en hy het planne beraam om Daniël te verlos, ja, tot sonsondergang toe het hy moeite gedoen om hom te red. Daarop het daardie manne die koning bestorm en aan die koning gesê: Weet, o koning, dat dit 'n wet van Meders en Perse is dat elke verbod of verordening wat die koning vasgestel het, nie verander mag word nie. Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos!

DANIËL 6:10-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Koning Darius het toe so 'n dekreet uitgevaardig. Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank. Daniël se vyande het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om genade smeek. Toe gaan hulle na die koning toe en hou die koninklike dekreet aan hom voor. “U het tog mos 'n dekreet uitgevaardig dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word.” Die koning het geantwoord: “Ja, en dit staan vas. Dit is 'n onherroeplike wet, 'n wet van Mediërs en Perse.” Toe sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy bid nog drie maal per dag tot sy God.” Toe die koning dit hoor, het hy baie sleg gevoel. Hy het 'n plan probeer maak om Daniël te red, en toe die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer. Toe storm Daniël se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning uitgevaardig is, verander mag word nie.” Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in 'n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.”

DANIËL 6:10-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Om dié rede het koning Darius die bevelskrif en die verbod op skrif gestel. Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op 'n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het. Daardie manne het toe ingestorm en Daniël biddend en smekend voor sy God gekry. Daarna het hulle voor die koning verskyn en met hom gepraat oor die koninklike verbod: “Het u nie 'n verbod op skrif gestel dat enigiemand wat vir dertig dae 'n bede rig tot enige god of mens behalwe tot u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?” Die koning het geantwoord en gesê: “Die saak staan vas as 'n wet van Mede en Perse, wat nie herroep mag word nie.” Toe antwoord hulle en sê vir die koning: “Daniël, een van die ballinge van Juda, steur hom nie aan u, o koning, of aan die verbod wat u op skrif gestel het nie, maar drie keer op 'n dag rig hy sy bede tot sy God. ” Toe die koning dít hoor, was hy erg ontsteld, en het hy sy bes gedoen om Daniël te red. Tot sononder het hy hom beywer om hom te bevry. Daardie manne het ingestorm by die koning en vir die koning gesê: “Onthou, o koning, dat dit 'n wet van Mede en Perse is dat elke verbod en verordening wat die koning uitgevaardig het, nie verander mag word nie.” Daarop het die koning opdrag gegee en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. En die koning het vir Daniël gesê: “Jou God wat jy voortdurend dien, mag Hy jou red.”

DANIËL 6:10-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Daniël verneem dat die skrif geteken was, het hy in sy huis ingegaan; en sy vensters wat oop was in sy kamer in die rigting van Jerusalem, het drie maal op 'n dag op sy knieë gekniel en gebid en gedank voor sy God, soos hy tevore gedoen het. Toe het hierdie manne bymekaargekom en Daniël gevind terwyl hy bid en smeek voor sy God. Toe het hulle nader gekom en voor die koning gespreek oor die bevel van die koning; Het u nie 'n bevel onderteken dat elkeen wat binne dertig dae 'n versoek van enige God of mens vra, behalwe u, o koning, in die leeukuil gewerp sal word nie? Die koning antwoord en sê: Die saak is waar, volgens die wet van die Meders en Perse, wat nie verander nie. Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: Daniël, wat uit die kinders van die gevangenskap van Juda is, ag nie op u, o koning, of die bevel wat u onderteken het nie, maar doen sy versoek drie maal per dag. Toe die koning hierdie woorde hoor, was hy baie ontevrede in homself en het sy hart op Daniël gerig om hom te verlos; en hy het tot sononder gewerk om hom te verlos. Toe het hierdie manne by die koning vergader en aan die koning gesê: Weet, o koning, dat die wet van die Meders en Perse is dat geen bevel of insetting wat die koning instel, verander mag word nie. Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en hom in die leeukuil gegooi. En die koning het gespreek en vir Daniël gesê: Jou God wat jy gedurigdeur dien, Hy sal jou verlos. En 'n klip is gebring en op die opening van die kuil gelê; en die koning het dit met sy eie seëlring en met die seëlring van sy vorste verseël; dat die doel nie verander mag word aangaande Daniël nie.