Om dié rede het koning Darius die bevelskrif en die verbod op skrif gestel. Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op 'n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het. Daardie manne het toe ingestorm en Daniël biddend en smekend voor sy God gekry. Daarna het hulle voor die koning verskyn en met hom gepraat oor die koninklike verbod: “Het u nie 'n verbod op skrif gestel dat enigiemand wat vir dertig dae 'n bede rig tot enige god of mens behalwe tot u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?” Die koning het geantwoord en gesê: “Die saak staan vas as 'n wet van Mede en Perse, wat nie herroep mag word nie.” Toe antwoord hulle en sê vir die koning: “Daniël, een van die ballinge van Juda, steur hom nie aan u, o koning, of aan die verbod wat u op skrif gestel het nie, maar drie keer op 'n dag rig hy sy bede tot sy God. ” Toe die koning dít hoor, was hy erg ontsteld, en het hy sy bes gedoen om Daniël te red. Tot sononder het hy hom beywer om hom te bevry. Daardie manne het ingestorm by die koning en vir die koning gesê: “Onthou, o koning, dat dit 'n wet van Mede en Perse is dat elke verbod en verordening wat die koning uitgevaardig het, nie verander mag word nie.” Daarop het die koning opdrag gegee en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. En die koning het vir Daniël gesê: “Jou God wat jy voortdurend dien, mag Hy jou red.”
Lees Daniël 6
Deel
Vergelyk alle weergawes: Daniël 6:10-17
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's