Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”
Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig.
Nadat Petrus en Johannes losgelaat is, het hulle na hulle medegelowiges toe gegaan en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê:
“Waarom het heidennasies te kere gegaan,
en het volke sinlose planne beraam?
Die konings van die aarde het in opstand gekom,
en die heersers het saamgespan
teen die Here en teen sy Gesalfde.
“Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het.
“En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”
Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.
Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.
Josef 'n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.