HANDELINGE 4:18-37
HANDELINGE 4:18-37 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het toe vir Petrus en Johannes geroep om na hulle toe te kom en hulle het gesê dat Petrus en Johannes glad nie oor Jesus mag preek of vir die mense mag leer van Hom nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gevra: “Moet ons luister na God of moet ons luister na julle? Waarvan sal God hou? Julle kan self besluit. Want ons kan nie stilbly oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse leiers het vir Petrus en Johannes nog meer gewaarsku en hulle het hulle toe laat gaan. Want die leiers het nie geweet hoekom hulle vir Petrus en Johannes moet straf nie. En die leiers was ook bang vir die mense, want almal het God geprys oor wat gebeur het. Hulle het ook vir Petrus en Johannes laat weggaan omdat die man wat gesond geword het, meer as 40 jaar oud was. Dit was 'n wonderteken dat die man gesond geword het. Petrus en Johannes kon toe huis toe gaan. Hulle het na die ander gelowiges toe gegaan en hulle het vir die gelowiges alles vertel wat die priesterleiers en die familieleiers vir hulle gesê het. Toe die gelowiges dit hoor, het hulle saam ernstig tot God gebid en gesê: “Here, U het die hele wêreld gemaak: die hemel, die aarde, die see, en ook alles in die wêreld. U het met die Heilige Gees gepraat, en die Heilige Gees het met u dienaar Dawid, ons voorvader, gepraat, en toe het Dawid geskryf: “ Hoekom het die heidene geraas? Hoekom het hulle planne gemaak wat niks sal help nie? Die konings van die aarde het opstandig geword, en die mense wat regeer, het bymekaargekom en planne gemaak teen die Here en teen sy gesalfde. “Want dit is wat regtig in hierdie stad gebeur het. Koning Herodes en Pontius Pilatus het saam met die heidene en die volk Israel bymekaargekom teen u heilige Dienaar Jesus. U het Hom gesalf. Hulle het gedoen wat U lank gelede besluit het. En wat U besluit het, sal gebeur. Here, hulle hou aan om te sê dat hulle ons sal straf. U moet nou vir ons, u dienaars, help sodat ons nie bang sal wees om u boodskap te bring nie. U moet ook aanhou om mense gesond te maak, en U moet tekens en wonderwerke laat gebeur wanneer die apostels die Naam noem van u heilige Dienaar Jesus.” Toe hulle klaar gebid het, het God die plek laat skud waar hulle bymekaar was. Die Heilige Gees het in almal gekom en hulle het toe die boodskap van God gebring, hulle was nie bang nie. Baie mense het begin glo en hulle het almal dieselfde gedink en gevoel. Niemand het gesê dat sy goed net sy eie goed is nie, nee, hulle het alles gedeel met mekaar. Die apostels het ernstig getuig dat die Here Jesus gesterf het, maar dat Hy weer lewe. En God was baie goed vir hulle almal. Want niemand van hulle het te min gehad nie. Die mense wat grond of huise gehad het, het dit verkoop, en dan het hulle die geld gebring en dit vir die apostels gegee. Die apostels het dit uitgedeel vir elkeen wat iets nodig gehad het. Daar was 'n man, sy naam was Josef. Die apostels het hom Barnabas genoem. Barnabas beteken “Iemand wat ander mense bemoedig.” Hy was 'n Leviet, hy het van die eiland Siprus gekom. Hy het 'n stuk grond gehad en hy het dit verkoop. Toe bring hy die geld en hy gee dit vir die apostels.
HANDELINGE 4:18-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie. Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. Want die man aan wie hierdie teken van genesing plaasgevind het, was meer as veertig jaar oud. En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind. En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek. EN die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad. En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het. En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was — wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting — 'n Leviet, van geboorte uit Ciprus, het 'n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
HANDELINGE 4:18-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig. Nadat Petrus en Johannes losgelaat is, het hulle na hulle medegelowiges toe gegaan en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: “Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. “Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig. Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Josef 'n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.
HANDELINGE 4:18-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het hulle toe teruggeroep en hulle beveel om hoegenaamd nie meer in die Naam van Jesus te praat of onderrig te gee nie. Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat hulle Petrus en Johannes nog meer gedreig het, het hulle hulle vrygelaat omdat hulle as gevolg van die volk se houding nie 'n manier kon vind om hulle te straf nie; want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. Die man oor wie hierdie teken van genesing gekom het, was immers ouer as veertig jaar. Ná hulle vrylating het Petrus en Johannes na hulle eie mense gegaan en hulle vertel wat die leierpriesters en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het, wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heilige Gees gesê het: “ ‘Waarom gaan die heidennasies tekere, en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde neem stelling in, en die leiers span saam teen die Here en teen sy Gesalfde.’ “Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius •Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.” Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig. Die menigte wat gelowig geword het, was een van hart en •siel, en niemand het na enige van sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit. Die •apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom. Daar was inderdaad niemand onder hulle wat gebrek gely het nie, aangesien almal wat grond of huise besit het, dit verkoop het en die opbrengs van die verkope gebring en aan die voete van die apostels neergelê het. En aan elkeen is dan uitgedeel in ooreenstemming met wat hy nodig gehad het. Josef, 'n Leviet afkomstig uit Ciprus, wat by die apostels die bynaam Barnabas gekry het – as dit vertaal word, beteken dit Seun van Vertroosting – het 'n stuk grond besit en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
HANDELINGE 4:18-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het hulle geroep en hulle beveel om glad nie in die Naam van Jesus te praat of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het geantwoord en vir hulle gesê: Of dit reg is in die oë van God om meer na julle te luister as na God, beoordeel julle. Want ons kan nie anders as om die dinge te spreek wat ons gesien en gehoor het nie. En toe hulle hulle verder gedreig het, het hulle hulle laat gaan, sonder om te vind hoe hulle hulle kon straf ter wille van die volk, want almal het God verheerlik oor wat gedoen is. Want die man was ouer as veertig jaar op wie hierdie wonder van genesing geskied is. En toe hulle losgelaat is, het hulle na hul eie geselskap gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig hul stem tot God verhef en gesê: Here, U is God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Wie het deur die mond van u kneg Dawid gesê: Waarom het die heidene woedend gemaak en het die volk nietige dinge voorgestel? Die konings van die aarde het opgestaan, en die owerstes het bymekaargekom teen die Here en teen sy Christus. Want waarlik teen u heilige Kind Jesus, wat U gesalf het, het Herodes sowel as Pontius Pilatus, saam met die heidene en die volk Israel, vergader, Om alles te doen wat u hand en u raad vooraf bepaal het om te doen. En nou, Here, kyk na hulle dreigemente; en gee aan u dienaars, dat hulle met alle vrymoedigheid u woord kan spreek, Deur u hand uit te steek om te genees; en dat tekens en wonders gedoen mag word deur die Naam van u heilige Kind Jesus. En toe hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud; en hulle is almal vervul met die Heilige Gees, en hulle het die woord van God met vrymoedigheid gespreek. En die menigte van die wat geglo het, was een van hart en een siel; maar hulle het alles gemeen. En die apostels het met groot krag getuig van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. Daar was ook niemand onder hulle wat kortgekom het nie; want almal wat grond of huis besit, het dit verkoop en die prys van die goed gebring wat verkoop is, En hulle het hulle by die voete van die apostels neergelê, en aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het. En Joses, wat by die apostels Barnabas genoem is, (dit is, as dit vertaal word: Die seun van vertroosting), 'n Leviet, en van die land Ciprus, Toe hy grond gehad het, het hulle dit verkoop en die geld gebring en dit aan die apostels se voete neergelê.
HANDELINGE 4:18-37 Die Boodskap (DB)
Die raadslede het Petrus en Johannes daarna laat inkom en vir hulle gesê: “Julle mag van nou af nooit weer met iemand oor Jesus praat of iets oor Hom aan ander leer nie.” Petrus en Johannes was nie bereid om dit te doen nie. “Julle moet maar self besluit of ons eerder na julle as na God moet luister. Maar ons weet wat ons gaan doen: ons kan nie stilbly oor alles wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse Raad was woedend. Hulle het die apostels weer ernstig gewaarsku om niks verder oor Jesus te sê nie. Maar op die ou end moes hulle vir Petrus en Johannes laat gaan. Baie mense het van die wonderwerk gehoor en begin om God te loof. Die verlamde man was immers al oor die 40 jaar oud. Almal in Jerusalem het oor sy genesing gepraat. Nadat Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle na die ander gelowiges teruggegaan en vir hulle vertel dat die Joodse Raad hulle verbied het om met ander mense oor Jesus te praat. Toe het almal saamgebid: “O Here, U het alles gemaak: die hemel en die aarde en ook die see. Alles wat daarin is, is die werk van u hande. “U Heilige Gees het vroeër deur Dawid vir ons gesê: ‘Waarom maak al die nasies so ’n groot lawaai? Waarom beraam mense sulke nuttelose planne? Al die leiers van die wêreld maak hulle reg vir oorlog, al die heersers kom staan saam. Hulle teiken is die Here self, en sy Messias.’ “Ons sien nou hoe Dawid se woorde hier in ons eie stad waar word. Nou die dag het Herodes en Pontius Pilatus die heidene en die Israeliete laat saamspan teen u eie Seun. Maar hulle het U nie onkant betrap nie. U het u plan om ons te red juis op hierdie manier waar laat word. “Nou is hierdie spul mense al weer besig met hulle bose planne. Sien asseblief tog raak hoe hulle ons probeer bangpraat. Ons is u diensknegte. Help ons sodat ons nie vir hulle bang sal wees nie. Help ons om steeds te bly praat oor u wonderlike plan om sondaars te red. Raak ander mense ook aan sodat daar nog baie groot wonderwerke en genesings sal plaasvind oral waar ons oor U praat. Doen dit asseblief deur u Dienaar, Jesus.” Na hierdie gebed het die gebou waarin die gelowiges bymekaar was, begin skud. Dit is veroorsaak deur die Heilige Gees wat met sy groot krag opnuut van hulle lewens besit geneem het. Hy het hulle gehelp om vreesloos aan te hou om oor God te praat en sy woord bekend te maak. Die gelowiges was ’n hegte eenheid. Hulle het baie vir mekaar omgegee. Niemand van hulle het krampagtig aan hulle besittings vasgeklou nie. Die apostels het ook vir almal vertel dat God Jesus lewendig gemaak het. Hulle was glad nie bang om dit te doen nie. God se goedheid was groot oor al die gelowiges. Niemand van hulle was meer arm nie. Almal wat iewers ’n stukkie grond of ’n huis gehad het, het dit verkoop en die geld vir die apostels gaan gee. Op hulle beurt het die apostels dit uitgedeel aan diegene wat geld nodig gehad het. So het ’n man met die naam Josef, wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken: iemand wat ander mense bemoedig) en wat van Siprus af gekom het, ’n stuk grond van hom verkoop en al die geld vir die apostels gaan gee.
HANDELINGE 4:18-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie. Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: “Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom? “Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelik het hulle hulle egter laat gaan, want hulle het nie geweet hoe om hulle te straf sonder om ’n volksopstand te veroorsaak nie. Almal was inderdaad besig om God te prys vir die wonderteken – ’n man wat al oor die 40 jaar verlam was, is immers gesond gemaak! Toe hulle vrygelaat is, het Petrus en Johannes dadelik die ander gelowiges opgesoek en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles gesê het. Toe het al die gelowiges saam tot God gebid: “Almagtige Here, Skepper van die hemel en die aarde, die see en alles daarin – U het lank gelede u dienaar, ons voorvader Dawid, deur die Heilige Gees laat sê: ‘Waarom het die nasies tekere gegaan? Waarom het die volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het hulle slaggereed gemaak; die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Messias.’ “Dit is wat hier in hierdie stad gebeur het! Herodes Antipas, Pontius Pilatus die goewerneur, die ander volke en die volk Israel het saamgespan teen Jesus, u heilige Dienaar, wat deur U toegerus is vir sy taak. Eintlik was alles wat hulle gedoen het, volgens u beskikking en besluit. En nou, Here, hoor hoe dreig hulle ons. Gee dat ons, u diensknegte, u woord met waagmoed sal verkondig. Steek u hand uit en bewerk genesing, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig. Al die gelowiges was in hart en siel één. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het. Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee. Nie een van hulle het ’n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat). Hy was uit die stam van Levi, en is op Siprus gebore. Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir dié te gee wat tekort het.