Hulle het hulle toe teruggeroep en hulle beveel om hoegenaamd nie meer in die Naam van Jesus te praat of onderrig te gee nie. Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat hulle Petrus en Johannes nog meer gedreig het, het hulle hulle vrygelaat omdat hulle as gevolg van die volk se houding nie 'n manier kon vind om hulle te straf nie; want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. Die man oor wie hierdie teken van genesing gekom het, was immers ouer as veertig jaar.
Ná hulle vrylating het Petrus en Johannes na hulle eie mense gegaan en hulle vertel wat die leierpriesters en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het, wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heilige Gees gesê het:
“ ‘Waarom gaan die heidennasies tekere,
en bedink die volke nietige dinge?
Die konings van die aarde
neem stelling in,
en die leiers span saam
teen die Here en teen sy Gesalfde.’
“Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius •Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.” Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.
Die menigte wat gelowig geword het, was een van hart en •siel, en niemand het na enige van sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit. Die •apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom. Daar was inderdaad niemand onder hulle wat gebrek gely het nie, aangesien almal wat grond of huise besit het, dit verkoop het en die opbrengs van die verkope gebring en aan die voete van die apostels neergelê het. En aan elkeen is dan uitgedeel in ooreenstemming met wat hy nodig gehad het. Josef, 'n Leviet afkomstig uit Ciprus, wat by die apostels die bynaam Barnabas gekry het – as dit vertaal word, beteken dit Seun van Vertroosting – het 'n stuk grond besit en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.