Handelinge 4:18-37

Handelinge 4:18-37 DB

Die raadslede het Petrus en Johannes daarna laat inkom en vir hulle gesê: “Julle mag van nou af nooit weer met iemand oor Jesus praat of iets oor Hom aan ander leer nie.” Petrus en Johannes was nie bereid om dit te doen nie. “Julle moet maar self besluit of ons eerder na julle as na God moet luister. Maar ons weet wat ons gaan doen: ons kan nie stilbly oor alles wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse Raad was woedend. Hulle het die apostels weer ernstig gewaarsku om niks verder oor Jesus te sê nie. Maar op die ou end moes hulle vir Petrus en Johannes laat gaan. Baie mense het van die wonderwerk gehoor en begin om God te loof. Die verlamde man was immers al oor die 40 jaar oud. Almal in Jerusalem het oor sy genesing gepraat. Nadat Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle na die ander gelowiges teruggegaan en vir hulle vertel dat die Joodse Raad hulle verbied het om met ander mense oor Jesus te praat. Toe het almal saamgebid: “O Here, U het alles gemaak: die hemel en die aarde en ook die see. Alles wat daarin is, is die werk van u hande. “U Heilige Gees het vroeër deur Dawid vir ons gesê: ‘Waarom maak al die nasies so ’n groot lawaai? Waarom beraam mense sulke nuttelose planne? Al die leiers van die wêreld maak hulle reg vir oorlog, al die heersers kom staan saam. Hulle teiken is die Here self, en sy Messias.’ “Ons sien nou hoe Dawid se woorde hier in ons eie stad waar word. Nou die dag het Herodes en Pontius Pilatus die heidene en die Israeliete laat saamspan teen u eie Seun. Maar hulle het U nie onkant betrap nie. U het u plan om ons te red juis op hierdie manier waar laat word. “Nou is hierdie spul mense al weer besig met hulle bose planne. Sien asseblief tog raak hoe hulle ons probeer bangpraat. Ons is u diensknegte. Help ons sodat ons nie vir hulle bang sal wees nie. Help ons om steeds te bly praat oor u wonderlike plan om sondaars te red. Raak ander mense ook aan sodat daar nog baie groot wonderwerke en genesings sal plaasvind oral waar ons oor U praat. Doen dit asseblief deur u Dienaar, Jesus.” Na hierdie gebed het die gebou waarin die gelowiges bymekaar was, begin skud. Dit is veroorsaak deur die Heilige Gees wat met sy groot krag opnuut van hulle lewens besit geneem het. Hy het hulle gehelp om vreesloos aan te hou om oor God te praat en sy woord bekend te maak. Die gelowiges was ’n hegte eenheid. Hulle het baie vir mekaar omgegee. Niemand van hulle het krampagtig aan hulle besittings vasgeklou nie. Die apostels het ook vir almal vertel dat God Jesus lewendig gemaak het. Hulle was glad nie bang om dit te doen nie. God se goedheid was groot oor al die gelowiges. Niemand van hulle was meer arm nie. Almal wat iewers ’n stukkie grond of ’n huis gehad het, het dit verkoop en die geld vir die apostels gaan gee. Op hulle beurt het die apostels dit uitgedeel aan diegene wat geld nodig gehad het. So het ’n man met die naam Josef, wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken: iemand wat ander mense bemoedig) en wat van Siprus af gekom het, ’n stuk grond van hom verkoop en al die geld vir die apostels gaan gee.