en in die negende regeringsjaar van Sedekia, op die tiende dag van die tiende maand, het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër met 'n aanval op Jerusalem begin. Hy het kamp opgeslaan by die stad en 'n beleëringswal rondom die stad gebou. Die stad is beleër tot in die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad so erg dat daar nie meer kos vir die bevolking was nie. Toe is daar 'n opening in die muur gebreek, en al die soldate het in die nag gevlug deur die poort tussen die twee mure langs die Koningstuin ten spyte daarvan dat daar Galdeërs rondom die stad was. Die soldate het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug, maar die Galdese leër het die koning agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaargejaag, weg van hom af, en hy is gevang en na die koning van Babel toe in Ribla gevat. Hy is verhoor, en toe het hulle sy seuns voor sy oë geslag, sý oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe gevat.
In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en amptenaar van die koning van Babel. Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand. Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem afgebreek. Die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, al wat van die groot stadsbevolking oorgebly het, is gevange weggevoer deur Nebusaradan die hoof van die lyfwag. Net die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk.
Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en die brons na Babel toe gevat. Hulle het die potte, die skoppe, die skêre en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is. Die hoof van die lyfwag het ook die vuurpanne en die komme vir besprinkeling buitgemaak, alles wat goud of silwer was. Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies wat deur Salomo vir die huis van die Here gemaak is, was soveel dat dit nie geweeg kon word nie. Elke pilaar was ag meter, en die bronskapiteel bo-op was een en 'n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was heeltemal van brons. Die ander pilaar en sy rooster was dieselfde.
Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en die drie drumpelwagte gevange saamgevat. In die stad het hy die offisier gevange geneem wat in bevel was van die soldate. Daar was ook nog vyf van die koning se vertrouelinge in die stad, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en sestig van die burgers. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat. Die koning van Babel het hulle laat doodmaak daar in Ribla, in Hamat.
So is Juda dan uit sy land weggevoer.
Oor die mense wat in Juda oor was, dié wat deur koning Nebukadnesar van Babel toegelaat is om daar te bly, het hy vir Gedalja, seun van Agikam seun van Safan, aangestel. Toe die leëraanvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Die aanvoerders was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netofa, en Jaäsanja uit Maäka.
Gedalja het hulle en hulle manne met 'n eed verseker: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.”
Maar in die sewende maand het Ismael seun van Netanja, seun van Elisama uit die koninklike familie, met tien manne by hom 'n aanslag gemaak op Gedalja en 'n klompie Judeërs en Galdeërs wat by hom in Mispa was, en hulle vermoor. Daarna het almal, klein en groot, saam met die leëraanvoerders na Egipte toe gevlug uit vrees vir die Galdeërs.
In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die sewe en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak, wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat. So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was.
Jojagin kon sy gevangenisklere uittrek en het so lank as hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet. Hy het van die koning 'n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes so lank as hy gelewe het.