2 KONINGS 25:1-30

2 KONINGS 25:1-30 NLV

Dit was in die negende jaar van Sedekia se bewind in Jerusalem. Op die tiende dag van die tiende maand het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Hulle het by die stad kamp opgeslaan en beleëringswalle rondom teen die mure opgehoop. Jerusalem is beleër tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind. Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad baie erg. Daar was nie meer kos vir die inwoners nie. Toe is ’n opening in die stadsmuur gemaak waardeur al die soldate gedurende die nag ontsnap het. Hulle het deur die opening tussen die twee mure by die koning se tuin gevlug hoewel daar Galdeërs rondom die stad was, en het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug. Maar die Galdese leër het hulle agternagesit en die koning op die Jerigovlakte ingehaal. Teen hierdie tyd was al sy manskappe van hom af verstrooi. Hulle het hom gevang en na die koning van Babel in Ribla gebring waar ’n vonnis oor hom uitgespreek is. Die koning van Babel het al sy seuns voor Sedekia doodgemaak. Daarna het hulle sy oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe geneem. In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende jaar van koning Nebukadnesar se bewind in Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag en ’n amptenaar van die koning van Babel. Hy het die tempel van die HERE, die koninklike paleis, al die huise en al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand. Daarna het die Galdese soldate onder sy bevel die muur van Jerusalem afgebreek. Nebusaradan, hoof van die lyfwag, het verder die mense wat in die stad agtergebly het, dié wat na die koning van Babel oorgeloop het en almal wat oorgebly het, in ballingskap weggeneem. Hy het die armste mense in Juda laat agterbly om die wingerde en landerye te bewerk. Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die tempel van die HERE was, stukkend gebreek en die brons na Babel toe gevat. Hulle het ook die potte, skoppe, skêre en panne, asook al die bronswerktuie wat in die tempeldiens gebruik is, weggevat. Die hoof van die lyfwag het die vuurpanne en skottels vir besprinkeling en al die werktuie van goud en silwer gevat. Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies was te veel om te weeg. Hierdie voorwerpe is in die tyd van koning Salomo vir die HERE se tempel gemaak. Elke pilaar was agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was van brons. Die ander pilaar en sy rooster het net so gelyk. Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en drie poortwagters as gevangenes saamgeneem. Uit die mense wat nog in die stad was, het hy ’n offisier in bevel van die soldate, vyf van die koning se vertrouelinge, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en 60 ander burgers saamgeneem. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle almal na die koning van Babel in Ribla geneem. Daar in Ribla, in Hamat, het die koning van Babel almal laat doodmaak. So is die mense van Juda uit hulle land in ballingskap weggevoer. Nebukadnesar stel toe vir Gedalja seun van Agikam en kleinseun van Safan as goewerneur aan oor die mense wat hy in Juda laat oorbly het. Toe die leërbevelvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja as goewerneur aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netufa, en Jaäsanja uit Maäka en al hulle manskappe. Gedalja verseker toe vir hulle met ’n eed: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en dien die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.” Maar teen middelherfs van daardie jaar het Ismael seun van Netanja kleinseun van Elisama wat uit die koninklike geslag was, saam met tien manne na Mispa toe gegaan en Gedalja aangeval en doodgemaak, asook die Judeërs en Galdeërs wat by hom was. Toe het almal, klein en groot, uit vrees vir die Galdeërs paniekbevange saam met die leërbevelvoerders na Egipte toe gevlug. In die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die 27ste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak koning van Babel geword en Jojagin uit die gevangenis vrygelaat. Hy het Jojagin begenadig en hom ’n hoër status as die ander konings in Babel gegee. Jojagin is toegelaat om sy tronkklere uit te trek en kon vir die res van sy lewe van die koninklike voorrade lewe. Hy het vir sy daaglikse behoeftes lewenslank ’n vaste toelaag van die koning ontvang.