2 KONINGS 25:1-30
2 KONINGS 25:1-30 Bybel vir almal (ABA)
en in die negende jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het, het Nebukadnesar en al sy soldate gekom om Jerusalem aan te val. Hy het sy tente laat opslaan rondom die stad en hulle het begin om 'n grondwal om die stad te bou. Hulle het rondom die stad gebly tot in die elfde jaar nadat Sedekia koning geword het. Op die negende dag van die vierde maand was die kos in die stad op. Daar was nie meer kos om te eet nie. Die soldate van Babel het oor die muur begin kom, en die soldate van Jerusalem het in die nag begin vlug deur die poort tussen die twee mure, op die pad na die koning se tuin. Die Galdeërs was rondom die stad, en koning Sedekia het op die pad na die Jordaan-vallei probeer wegkom. Maar die soldate van die Galdeërs het die koning gevolg en gejaag en hulle het hom gekry op die droë, gelyk grond by Jerigo. Al sy soldate het na al die kante toe gevlug, weg van hom. Die Galdeërs het koning Sedekia gevang en hulle het hom geneem na die koning van Babel toe in die stad Ribla. Daar het die koning van Babel besluit hoe hy vir Sedekia wil straf. Hulle het die seuns van Sedekia doodgemaak, en Sedekia moes kyk terwyl hulle dit doen. Toe het hulle Sedekia se oë uitgesteek en hulle het hom met kettings vasgebind en na Babel gevat. Nebusaradan, die hoof-offisier en amptenaar van die koning van Babel, het na Jerusalem gekom in die vyfde maand, op die sewende dag van die maand, in die 19de jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het. Nebusaradan het die tempel afgebrand en ook die paleis en al die huise in Jerusalem, al die groot huise. Die soldate van die Galdeërs wat by die hoof-offisier was, het die mure rondom Jerusalem afgebreek. Die hoof-offisier Nebusaradan het die mense gevang wat nog in die stad was. Hy het ook die mense gevang en weggevat wat self besluit het om na die koning van Babel toe te gaan. Hulle was die mense wat oorgebly het van al die baie mense in die stad. Nebusaradan het net die armste mense van die land daar laat bly om in die wingerde en op die koringlande te werk. Die Galdeërs het die pilare stukkend geslaan wat by die tempel was, en ook die waentjies en die waterbak van brons wat by die tempel was, en hulle het die brons weggevat na Babel. Hulle het ook die potte, die grawe en die messe, die bakke en al die goed van brons gevat. Dit was die goed wat die priesters by die tempel gebruik het. Die hoof-offisier het ook die emmers en die bakke gevat, alles wat van goud en silwer was. Die twee pilare, die waterbak, en die waentjies wat Salomo vir die tempel laat maak het, was so swaar dat 'n mens dit nie kon weeg nie. Al hierdie goed was van brons. Elke pilaar was 18 el hoog, en die kopstuk bo-op was van brons en dit was drie el hoog. Daar was granate van brons rondom elke kopstuk. Die hoof-offisier het die hoëpriester Seraja gevang en ook die tweede priester, Sefanja, en die drie drumpelwagte. Hy het ook uit die stad een offisier geneem wat die hoof was van die soldate, en ook vyf van die koning se raadgewers wat in die stad was, en die sekretaris van die hoof van die leër wat die mense van die land moes roep om oorlog te maak, en ook 60 van die belangrike mense van die land wat toe in die stad was. Die hoof-offisier Nebusaradan het hulle gebring na die koning van Babel in Ribla. Die koning van Babel het hulle laat doodmaak in Ribla, in die land Hamat. Hy het die ander Judeërs laat wegvat uit hulle land. Koning Nebukadnesar het vir Gedalja seun van Agikam seun van Safan gekies en aangestel oor die mense wat hy in die land Juda laat bly het. Toe al die hoofde van die leër en hulle manne hoor dat die koning van Babel vir Gedalja aangestel het, het hulle na Gedalja toe in Mispa gegaan. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet van die stad Netofa, en Jaäsanja van die stad Maäka, en hulle manne. Gedalja het vir die offisiere en hulle manne gesê: “So seker soos die Here lewe, julle moenie bang wees vir die amptenare van die Galdeërs nie. Julle moet in die land woon en vir die koning van Babel werk, dan sal dit goed gaan met julle.” Ismael seun van Netanja seun van Elisama was familie van die koning. In die sewende maand het Ismael en tien manne saam met hom vir Gedalja vermoor. Hulle het ook die Judeërs en Galdeërs vermoor wat saam met hom in Mispa was. Daarna het al die mense, kinders en grootmense, en ook die hoofde van die leër, gereedgemaak en na Egipte gegaan, want hulle was bang vir die Galdeërs. In die sewe-en-dertigste jaar nadat koning Jojagin van Juda 'n gevangene geword het, het koning Ewil-Merodak van Babel vir Jojagin uit die tronk laat uitkom. Dit was in die twaalfde maand, op die sewe-en-twintigste dag van die maand. Ewil-Merodak het vriendelik gepraat met Jojagin en hy het hom laat sit op 'n belangriker plek as die ander konings wat by hom in Babel was. Jojagin kon sy tronk-klere uittrek en hy kon by die koning se tafel eet totdat hy gesterf het. Die koning van Babel het vir Jojagin elke dag alles gegee wat hy nodig gehad het, totdat hy gesterf het.
2 KONINGS 25:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die negende jaar van sy regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het Nebukadnésar, die koning van Babel, gekom, hy en sy hele leër, teen Jerusalem en daarteen laer opgeslaan en daarteen skanse rondom gebou. En die stad het in beleëring geraak tot die elfde jaar van koning Sedekía. Op die negende van die vierde maand, toe die hongersnood sterk was in die stad en die mense van die land geen brood gehad het nie, is in die stad ingebreek, en al die krygsmanne is in die nag deur die poort, tussen die twee mure wat by die koning se tuin is, terwyl die Chaldeërs rondom teen die stad was; en die koning het getrek op pad na die Vlakte toe. Maar die leër van die Chaldeërs het die koning agternagejaag en hom in die vlaktes van Jérigo ingehaal, en sy hele leër is van hom af verstrooi. Toe vang hulle die koning en bring hom op na die koning van Babel, na Ribla toe, en hulle het vonnis oor hom uitgespreek. En hulle het die seuns van Sedekía voor sy oë geslag. En hy het die oë van Sedekía laat verblind en hom met koperkettings gebind en hom na Babel gebring. En in die vyfde maand, op die sewende van die maand — dit was die negentiende jaar van koning Nebukadnésar, die koning van Babel — het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, die dienaar van die koning van Babel, in Jerusalem gekom. En hy het die huis van die HERE en die huis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem, ja, elke groot huis met vuur verbrand. En die hele leër van die Chaldeërs wat by die owerste van die lyfwag was, het die mure van Jerusalem rondom omgegooi. En die res van die volk wat in die stad oorgebly het, en die oorlopers wat na die koning van Babel oorgeloop het — die oorblyfsel van die menigte het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer. Maar uit die armes van die land het die owerste van die lyfwag sommige laat agterbly as wynboere en as landbouers. Verder het die Chaldeërs die koperpilare wat in die huis van die HERE was, en die afspoelwaentjies en die kopersee wat in die huis van die HERE was, stukkend gebreek en die koper daarvan na Babel weggevoer. Ook het hulle weggeneem die potte en skoppe en messe en rookpanne en al die kopergereedskap waarmee die diens verrig is. En die owerste van die lyfwag het weggeneem die vuurpanne en die komme — wat van pure goud en van pure silwer was — die twee pilare, die een see en die afspoelwaentjies wat Salomo vir die huis van die HERE gemaak het — die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie. Die hoogte van een pilaar was agttien el, en 'n kapiteel van koper was daarop, en die hoogte van die kapiteel was drie el; met vlegwerk en granaatjies op die kapiteel rondom, alles van koper; en net so aan die tweede pilaar, met die vlegwerk. Verder het die owerste van die lyfwag Serája, die hoofpriester, geneem en Sefánja, die tweede priester, en die drie drumpelwagters. En uit die stad het hy geneem een hofdienaar wat oor die krygsmanne aangestel was, en vyf man uit die wat die koning se aangesig gesien het, wat in die stad aanwesig was, en die skrywer van die leërowerste wat die mense van die land vir krygsdiens oproep, en sestig man van die mense van die land wat in die stad aanwesig was. Toe Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, hulle neem, het hy hulle na die koning van Babel, na Ribla gebring. En die koning van Babel het hulle neergeslaan en hulle gedood in Ribla, in die land Hamat. En Juda is uit sy land in ballingskap weggevoer. En wat die mense betref wat in die land Juda oorgebly het, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, laat agterbly het, oor hulle het hy Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, aangestel. En toe al die owerstes van die leërs, hulle en die manne, hoor dat die koning van Babel Gedálja aangestel het, kom hulle na Gedálja, na Mispa, naamlik: Ismael, die seun van Netánja, en Jóhanan, die seun van Karéag, en Serája, die seun van Tánhumet, die Netofatiet, en Jaäsánja, die seun van die Maägatiet, hulle met hul manne. En Gedálja het vir hulle en hul manne gesweer en aan hulle gesê: Wees nie bevrees vir die dienaars van die Chaldeërs nie, bly in die land en dien die koning van Babel; dan sal dit met julle goed gaan. Maar in die sewende maand het Ismael, die seun van Netánja, die seun van Elisáma, uit die koninklike geslag, gekom en tien manne saam met hom en Gedálja doodgeslaan, ook die Jode en die Chaldeërs wat saam met hom in Mispa was. Toe het die hele volk, klein en groot, hulle gereedgemaak, saam met die owerstes van die leërs, en na Egipte gegaan, want hulle was bevrees vir die Chaldeërs. En in die sewen-en-dertigste jaar van die ballingskap van Jójagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die sewen-en-twintigste van die maand, het Evil-Meródag, die koning van Babel, in die jaar van sy troonsbestyging, Jójagin, die koning van Juda, uit die gevangenis verhef. En hy het vriendelik met hom gespreek en sy stoel gesit bokant die stoel van die konings wat by hom in Babel was. En hy het sy gevangenisklere verwissel; en hy het gedurigdeur brood voor sy aangesig geëet, al die dae van sy lewe. En aangaande sy lewensonderhoud, 'n vaste lewensonderhoud is hom toegestaan deur die koning na die eis van elke dag, al die dae van sy lewe.
2 KONINGS 25:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
en in die negende regeringsjaar van Sedekia, op die tiende dag van die tiende maand, het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër met 'n aanval op Jerusalem begin. Hy het kamp opgeslaan by die stad en 'n beleëringswal rondom die stad gebou. Die stad is beleër tot in die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad so erg dat daar nie meer kos vir die bevolking was nie. Toe is daar 'n opening in die muur gebreek, en al die soldate het in die nag gevlug deur die poort tussen die twee mure langs die Koningstuin ten spyte daarvan dat daar Galdeërs rondom die stad was. Die soldate het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug, maar die Galdese leër het die koning agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaargejaag, weg van hom af, en hy is gevang en na die koning van Babel toe in Ribla gevat. Hy is verhoor, en toe het hulle sy seuns voor sy oë geslag, sý oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe gevat. In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en amptenaar van die koning van Babel. Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand. Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem afgebreek. Die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, al wat van die groot stadsbevolking oorgebly het, is gevange weggevoer deur Nebusaradan die hoof van die lyfwag. Net die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk. Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en die brons na Babel toe gevat. Hulle het die potte, die skoppe, die skêre en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is. Die hoof van die lyfwag het ook die vuurpanne en die komme vir besprinkeling buitgemaak, alles wat goud of silwer was. Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies wat deur Salomo vir die huis van die Here gemaak is, was soveel dat dit nie geweeg kon word nie. Elke pilaar was ag meter, en die bronskapiteel bo-op was een en 'n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was heeltemal van brons. Die ander pilaar en sy rooster was dieselfde. Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en die drie drumpelwagte gevange saamgevat. In die stad het hy die offisier gevange geneem wat in bevel was van die soldate. Daar was ook nog vyf van die koning se vertrouelinge in die stad, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en sestig van die burgers. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat. Die koning van Babel het hulle laat doodmaak daar in Ribla, in Hamat. So is Juda dan uit sy land weggevoer. Oor die mense wat in Juda oor was, dié wat deur koning Nebukadnesar van Babel toegelaat is om daar te bly, het hy vir Gedalja, seun van Agikam seun van Safan, aangestel. Toe die leëraanvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Die aanvoerders was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netofa, en Jaäsanja uit Maäka. Gedalja het hulle en hulle manne met 'n eed verseker: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.” Maar in die sewende maand het Ismael seun van Netanja, seun van Elisama uit die koninklike familie, met tien manne by hom 'n aanslag gemaak op Gedalja en 'n klompie Judeërs en Galdeërs wat by hom in Mispa was, en hulle vermoor. Daarna het almal, klein en groot, saam met die leëraanvoerders na Egipte toe gevlug uit vrees vir die Galdeërs. In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die sewe en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak, wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat. So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was. Jojagin kon sy gevangenisklere uittrek en het so lank as hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet. Hy het van die koning 'n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes so lank as hy gelewe het.
2 KONINGS 25:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die negende jaar van Sedekia se regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het •Nebukadnesar, die koning van Babilonië, by Jerusalem aangekom, hy met sy hele leër, en dit beleër. Hy het beleëringswerke reg rondom die stad opgerig, en so het die stad onder beleg gekom tot die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. Teen die negende dag van die vierde maand, toe die hongersnood in die stad baie erg was, en daar nie meer kos was vir die volk van die land nie, is 'n bres in die stadsmuur geslaan. Al die krygsmanne is in die nag met die pad uit, deur die poort tussen die twee mure by die koning se tuin, terwyl die Galdeërs oral om die stad was. Hulle het in die rigting van die Araba gegaan. Maar die leër van die Galdeërs het die koning agternagesit en hom op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Sy hele leër het verstrooi geraak, weg van hom af. Hulle het die koning gevange geneem en hom opgeneem na die koning van Babilonië, na Ribla. Hulle het vonnisse oor hom uitgespreek. Die seuns van Sedekia het hulle voor sy oë tereggestel. Sedekia se oë het hy verblind; hy het hom met bronsboeie geboei en na Babel geneem. In die vyfde maand, op die sewende dag van die maand – dit was die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar, die koning van Babilonië – het Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, die dienaar van die koning van Babilonië, by Jerusalem aangekom. Hy het die huis van die HERE en die paleis van die koning afgebrand. Al die huise in Jerusalem, ja, elke groot gebou het hy afgebrand. En die stadsmure reg rondom Jerusalem is afgebreek deur die hele leër van die Galdeërs wat saam met die aanvoerder van die lyfwag was. Die res van die bevolking wat nog in die stad oorgebly het, asook die drosters wat na die koning van Babilonië oorgeloop het, die massa mense wat oor was, is deur Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, in ballingskap weggevoer. Maar van die armes in die land het die aanvoerder van die lyfwag agtergelaat as wingerdboere en landbouers. Die bronspilare wat in die huis van die HERE was en die verskuifbare staanders, asook die bronssee wat in die huis van die HERE was, het die Galdeërs stukkend gebreek, en die brons na Babel weggedra. Die potte, skoppies, messe, skottels, en al die bronsgereedskap waarmee die tempeldiens verrig is, het hulle gevat. Die vuurpanne en offerbakke wat van suiwer goud en suiwer silwer was, het die aanvoerder van die lyfwag gevat. Wat betref die twee pilare, die een see en die verskuifbare staanders wat Salomo vir die huis van die HERE gemaak het – die brons van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie. Agttien el was die hoogte van elke pilaar. Daar was 'n bronskapiteel bo-op, en die hoogte van die kapiteel was drie el, met vlegwerk en granate reg rondom die kapiteel, alles van brons. Dieselfde geld vir die tweede pilaar met sy vlegwerk. Die aanvoerder van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, Sefanja, die priester tweede in rang, en die drie deurwagters geneem; en uit die stad het hy een paleisamptenaar wat oor die krygsmanne aangestel was, saam met vyf manne wat die koning bygestaan het en wat nog in die stad aangetref kon word, asook die sekretaris, die •hoë amptenaar van die leër wat die oproep vir die volk van die land se krygsdiens hanteer het, en sestig man van die volk van die land wat in die stad te vinde was. Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babilonië in Ribla geneem. Die koning van Babilonië het hulle in Ribla, in die land Hamat, neergevel en doodgemaak. So is Juda van sy grond af in ballingskap weggevoer. Oor die mense wat in die gebied van Juda oorgebly het, dié wat Nebukadnesar, die koning van Babilonië, agtergelaat het, oor hulle het hy Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, aangestel. Toe al die bevelvoerders van die leërafdelings, hulle en die manskappe, hoor dat die koning van Babilonië vir Gedalja aangestel het, het hulle na Gedalja in Mispa gegaan. Dit was Ismael, seun van Netanja, Joganan, seun van Kareag, Seraja, seun van Tangumet uit Netofa, en Jaäsanja, die seun van 'n man uit Maäga, hulle en hulle manskappe. Gedalja het vir hulle en vir hulle manskappe 'n eed afgelê en vir hulle gesê: “Moenie bang wees vir die amptenare van die Galdeërs nie. Bly in die land en dien die koning van Babilonië, dan sal dit goed gaan met julle.” Maar in die sewende maand het Ismael, seun van Netanja, seun van Elisama, verwant aan die koninklike familie, gekom, met tien manne saam met hom. Hulle het Gedalja aangeval, en hy het gesterf, so ook die Judeërs, asook die Galdeërs, wat saam met hom in Mispa was. Toe het die hele volk, klein en groot, gereedgemaak en saam met die aanvoerders van die krygsmag na Egipte gegaan, omdat hulle bang was vir die Galdeërs. In die sewe-en-dertigste jaar van die ballingskap van Jojagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die sewe-en-twintigste van die maand, het Ewil-Merodag, die koning van Babilonië, in die jaar toe hy koning geword het, Jojagin, die koning van Juda uit die gevangenis vrygelaat. Hy het vriendelik met hom gepraat en hom 'n sitplek gegee hoër as die sitplekke van die konings wat saam met hom in Babel was, en hy kon sy gevangenisklere uittrek. Hy het altyd, solank hy geleef het, aan die koning se tafel geëet. En sy lewensonderhoud – 'n vaste lewensonderhoud – is deur die koning aan hom gegee, soveel as wat hy elke dag nodig gehad het.
2 KONINGS 25:1-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die negende jaar van sy regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het Nebukadnésar, die koning van Babel, hy en sy hele leër teen Jerusalem gekom en daarteen opgeslaan; en hulle het forte daarteen gebou rondom. En die stad was beleër tot die elfde jaar van koning Sedekía. En op die negende dag van die vierde maand het die hongersnood in die stad oorheers, en daar was geen brood vir die mense van die land nie. En die stad is opgebreek, en al die krygsmanne het in die nag gevlug deur die poort tussen twee mure wat by die tuin van die koning is; en die Chaldeërs was teen die stad rondom, en die koning het gegaan pad na die vlakte. En die leër van die Chaldeërs het die koning agternagesit en hom in die vlaktes van Jérigo ingehaal, en sy hele leër is van hom af verstrooi. Hulle het toe die koning geneem en hom na die koning van Babel na Ribla gebring; en hulle het oordeel oor hom gegee. En hulle het die seuns van Sedekía voor sy oë gedood en die oë van Sedekía uitgesteek en hom met koperkettings geboei en hom na Babel gebring. En in die vyfde maand, op die sewende dag van die maand, dit is die negentiende jaar van koning Nebukadnésar, die koning van Babel, het Nebusaradan, owerste van die lyfwag, 'n dienaar van die koning van Babel, na Jerusalem gekom; En hy het die huis van die HERE en die huis van die koning en al die huise van Jerusalem en die huis van elke groot man met vuur verbrand. En die hele leër van die Chaldeërs wat saam met die owerste van die lyfwag was, het die mure van Jerusalem rondom afgebreek. En die res van die volk wat in die stad oorgebly het en die vlugtelinge wat na die koning van Babel oorgeval het, saam met die oorblyfsel van die menigte, het Nebusaradan, die owerste van die lyfwag, weggevoer. Maar die owerste van die lyfwag het van die armes van die land agtergelaat as wynboere en landbouers. En die koperpilare wat in die huis van die HERE was, en die afspoelwaentjies en die kopersee wat in die huis van die HERE was, het die Chaldeërs stukkend gebreek en die koper daarvan na Babel geneem. En die potte en die skoppe en die snuiters en die lepels en al die kopervoorwerpe waarmee hulle gedien het, het hulle weggeneem. En die vuurpanne en die komme en alles wat van goud, in goud en silwer, in silwer was, het die owerste van die lyfwag weggeneem. Die twee pilare, een see, en die afspoelwaentjies wat Salomo vir die huis van die HERE gemaak het; die koper van al hierdie voorwerpe was sonder gewig. Die hoogte van die een pilaar was agttien el, en die kapiteel daarop van koper, en die hoogte van die kapiteel drie el; en die kranswerk en granaatjies rondom aan die kapiteel, alles van koper; En die owerste van die lyfwag het Serája, die hoofpriester, en Sefanja, die tweede priester, en die drie deurwagters geneem. En uit die stad het hy 'n offisier geneem wat oor die krygsmanne aangestel was, en vyf manne van die wat in die teenwoordigheid van die koning was, wat in die stad gevind is, en die hoofskriba van die leër, wat die mense van die land en sestig man van die mense van die land wat in die stad gevind is; En Nebusaradan, owerste van die lyfwag, het dit geneem en dit na die koning van Babel in Ribla gebring. En die koning van Babel het hulle verslaan en hulle gedood by Ribla, in die land Hamat. Daarom is Juda uit hulle land weggevoer. En wat die volk betref wat in die land Juda oorgebly het, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, oorgelaat het, oor hulle het hy Gedalja, die seun van Ahikam, die seun van Safan, as vors aangestel. En toe al die owerstes van die leërs, hulle en hulle manne, hoor dat die koning van Babel Gedalja goewerneur aangestel het, het by Gedalja in Mispa gekom: Ismael, die seun van Netánja, en Johanan, die seun van Careag, en Seraja, die seun van Tanhumet, die Netofatiet, en Jaäsanja, die seun van 'n Maägatiet, hulle en hulle manne. En Gedálja het vir hulle en hulle manne gesweer en vir hulle gesê: Wees nie bevrees om die dienaars van die Chaldeërs te wees nie; woon in die land en dien die koning van Babel; en dit sal met jou goed gaan. Maar in die sewende maand het Ismael, die seun van Netánja, die seun van Elisama, van die koninklike geslag, gekom en tien man saam met hom en Gedalja verslaan, sodat hy gesterf het, en die Jode en die Chaldeërs wat was saam met hom in Mispa. En die hele volk, klein en groot, en die owerstes van die leërs, het opgestaan en na Egipte gekom, want hulle was bang vir die Chaldeërs. En dit het gebeur in die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van Jojagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die sewe en twintigste dag van die maand, dat Evilmerodak, die koning van Babel, in die jaar wat hy begin regeer het, opgehef het en die hoof van Jójagin, die koning van Juda, uit die tronk op; En hy het vriendelik met hom gespreek en sy troon geplaas bo die troon van die konings wat by hom in Babel was; En hy het sy tronkklere verander, en hy het gedurigdeur voor sy aangesig brood geëet al die dae van sy lewe. En sy toelae was 'n voortdurende vergoeding wat hom van die koning gegee is, 'n daggeld vir elke dag, al die dae van sy lewe.
2 KONINGS 25:1-30 Die Boodskap (DB)
Dit was in die negende jaar wat Sedekia regeer het. Op die tiende dag van die tiende maand het Nebukadnesar met sy hele leër by Jerusalem opgedaag en die stad omsingel. Die inwoners is van die buitewêreld afgesny. Hulle het die stad byna twee jaar lank so beleër. Teen die negende dag van die vierde maand van die elfde jaar wat Sedekia regeer het, was daar glad nie meer kos vir die mense nie. Dié nag is daar ’n gat deur die stadsmuur gebreek en die soldate het probeer vlug. Al het hulle geweet dat die Babiloniese soldate die stad omring, het hulle in die rigting van die Jordaanrivier probeer wegkom. Die Babiloniese soldate het hulle egter agtervolg en die koning op die vlakte by Jerigo ingehaal en gevang. Teen daardie tyd was sy hele leër al versprei soos hulle probeer vlug het. Sedekia is toe na die koning van Babel in Ribla geneem. Hulle het hom net daar verhoor. Hy moes kyk hoe sy seuns doodgemaak word en toe is sy oë uitgesteek. Daarna is hy met ’n ketting vasgemaak en na Babel toe weggevat. Nebusaradan, een van Nebukadnesar se offisiere en vertrouelinge, is gestuur om Jerusalem te gaan vernietig. Dit was op die sewende dag van die vyfde maand in die negentiende jaar wat Nebukadnesar regeer het. Hy het die tempel en die paleis en elke groot gebou in die stad begin afbrand. Sy soldate het Jerusalem se hele stadsmuur van ’n kant af omgegooi en afgebreek. Die res van die mense in Jerusalem, almal wat nog in die stad oor was en dié wat voorheen na die Babiloniërs oorgeloop het, is deur Nebusaradan na Babel toe weggevoer. Net ’n paar van die armstes het in die land gebly om op die lande en in die wingerde te werk. Die soldate het al die brons in die tempel bymekaargemaak. Hulle het die bronspilare, die bronswaterkarretjies en groot bronswaterbak opgebreek en die metaal Babel toe gevat. Dieselfde het gebeur met die kleiner bronsvoorwerpe, soos die potte, grawe, skêre, panne en ander gereedskap wat in die tempel gebruik is. Hulle het ook die vuurbakke en komme buitgemaak wat van suiwer goud en silwer gemaak is. Die brons wat hulle van die tempel af weggeneem het, is vroeër deur koning Salomo vir die tempel laat maak. Dit was sóveel dat dit nie geweeg kon word nie. Om ’n voorbeeld te noem: die twee pilare was elk agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was een en ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate wat bo-op die kapitele was, was net van brons gemaak. Nebusaradan het nog ’n klomp mense in Jerusalem gevange geneem. Onder hulle was die hoëpriester Seraja en die priester volgende in rang, Sefanja, asook drie deurwagte van die tempel. In die stad het hy ook die offisier gevang wat in bevel van die soldate was, saam met vyf vriende van die koning en die hoof van die leër se sekretaris wat soldate moes oproep, asook ’n verdere 60 burgers. Hy het hulle almal as gevangenes na die koning van Babel in Ribla geneem wat hulle net daar laat doodmaak het. Só is die hele Juda in ballingskap uit hulle land uit weggevoer. Nebukadnesar het Gedalja aangestel as goewerneur oor die mense wat hy toegelaat het om in Juda agter te bly. Toe die offisiere en soldate hoor dat Gedalja aangestel is, het hulle na hom toe gegaan waar hy in die dorp Mispa was. Die betrokke leiers was Ismael, Joganan, Seraja en Jaäsanja. Gedalja het hulle verseker dat hulle veilig was. Hy het gesê: “Moenie bang wees vir die amptenare uit Babel nie. Bly in die land en wees gehoorsaam aan die koning van Babel. Dan sal alles goed gaan.” Ismael, wat ’n lid van die koninklike familie van Juda was, het in die sewende maand Mispa toe gegaan. Hy het tien manne by hom gehad. Hulle het Gedalja en die klompie Judese en Babiloniese amptenare by hom vermoor. Daarna het al wat Judeër is, belangrik en onbelangrik, asook die leëroffisiere Egipte toe gevlug. Hulle was bang vir wat die Babiloniërs met hulle sou doen. In koning Jojagin se 37ste jaar as gevangene in Babel het Ewil-Merodak koning van Babel geword. Op die 27ste dag van die twaalfde maand het hy Jojagin begenadig. Hy het hom uit die tronk vrygelaat, vriendelik met hom gesels en hom beter behandel as die ander gevange konings. Hy het vir Jojagin nuwe klere in plaas van sy tronkklere gegee en hom vir die res van sy lewe aan die koninklike tafel laat eet. Hy het ook permanent ’n toelaag vir sy daaglikse behoeftes van die koning van Babel ontvang.
2 KONINGS 25:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit was in die negende jaar van Sedekia se bewind in Jerusalem. Op die tiende dag van die tiende maand het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Hulle het by die stad kamp opgeslaan en beleëringswalle rondom teen die mure opgehoop. Jerusalem is beleër tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind. Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad baie erg. Daar was nie meer kos vir die inwoners nie. Toe is ’n opening in die stadsmuur gemaak waardeur al die soldate gedurende die nag ontsnap het. Hulle het deur die opening tussen die twee mure by die koning se tuin gevlug hoewel daar Galdeërs rondom die stad was, en het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug. Maar die Galdese leër het hulle agternagesit en die koning op die Jerigovlakte ingehaal. Teen hierdie tyd was al sy manskappe van hom af verstrooi. Hulle het hom gevang en na die koning van Babel in Ribla gebring waar ’n vonnis oor hom uitgespreek is. Die koning van Babel het al sy seuns voor Sedekia doodgemaak. Daarna het hulle sy oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe geneem. In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende jaar van koning Nebukadnesar se bewind in Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag en ’n amptenaar van die koning van Babel. Hy het die tempel van die HERE, die koninklike paleis, al die huise en al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand. Daarna het die Galdese soldate onder sy bevel die muur van Jerusalem afgebreek. Nebusaradan, hoof van die lyfwag, het verder die mense wat in die stad agtergebly het, dié wat na die koning van Babel oorgeloop het en almal wat oorgebly het, in ballingskap weggeneem. Hy het die armste mense in Juda laat agterbly om die wingerde en landerye te bewerk. Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die tempel van die HERE was, stukkend gebreek en die brons na Babel toe gevat. Hulle het ook die potte, skoppe, skêre en panne, asook al die bronswerktuie wat in die tempeldiens gebruik is, weggevat. Die hoof van die lyfwag het die vuurpanne en skottels vir besprinkeling en al die werktuie van goud en silwer gevat. Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies was te veel om te weeg. Hierdie voorwerpe is in die tyd van koning Salomo vir die HERE se tempel gemaak. Elke pilaar was agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was van brons. Die ander pilaar en sy rooster het net so gelyk. Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en drie poortwagters as gevangenes saamgeneem. Uit die mense wat nog in die stad was, het hy ’n offisier in bevel van die soldate, vyf van die koning se vertrouelinge, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en 60 ander burgers saamgeneem. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle almal na die koning van Babel in Ribla geneem. Daar in Ribla, in Hamat, het die koning van Babel almal laat doodmaak. So is die mense van Juda uit hulle land in ballingskap weggevoer. Nebukadnesar stel toe vir Gedalja seun van Agikam en kleinseun van Safan as goewerneur aan oor die mense wat hy in Juda laat oorbly het. Toe die leërbevelvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja as goewerneur aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netufa, en Jaäsanja uit Maäka en al hulle manskappe. Gedalja verseker toe vir hulle met ’n eed: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en dien die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.” Maar teen middelherfs van daardie jaar het Ismael seun van Netanja kleinseun van Elisama wat uit die koninklike geslag was, saam met tien manne na Mispa toe gegaan en Gedalja aangeval en doodgemaak, asook die Judeërs en Galdeërs wat by hom was. Toe het almal, klein en groot, uit vrees vir die Galdeërs paniekbevange saam met die leërbevelvoerders na Egipte toe gevlug. In die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die 27ste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak koning van Babel geword en Jojagin uit die gevangenis vrygelaat. Hy het Jojagin begenadig en hom ’n hoër status as die ander konings in Babel gegee. Jojagin is toegelaat om sy tronkklere uit te trek en kon vir die res van sy lewe van die koninklike voorrade lewe. Hy het vir sy daaglikse behoeftes lewenslank ’n vaste toelaag van die koning ontvang.