en in die negende jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het, het Nebukadnesar en al sy soldate gekom om Jerusalem aan te val. Hy het sy tente laat opslaan rondom die stad en hulle het begin om 'n grondwal om die stad te bou. Hulle het rondom die stad gebly tot in die elfde jaar nadat Sedekia koning geword het. Op die negende dag van die vierde maand was die kos in die stad op. Daar was nie meer kos om te eet nie. Die soldate van Babel het oor die muur begin kom, en die soldate van Jerusalem het in die nag begin vlug deur die poort tussen die twee mure, op die pad na die koning se tuin. Die Galdeërs was rondom die stad, en koning Sedekia het op die pad na die Jordaan-vallei probeer wegkom. Maar die soldate van die Galdeërs het die koning gevolg en gejaag en hulle het hom gekry op die droë, gelyk grond by Jerigo. Al sy soldate het na al die kante toe gevlug, weg van hom. Die Galdeërs het koning Sedekia gevang en hulle het hom geneem na die koning van Babel toe in die stad Ribla. Daar het die koning van Babel besluit hoe hy vir Sedekia wil straf. Hulle het die seuns van Sedekia doodgemaak, en Sedekia moes kyk terwyl hulle dit doen. Toe het hulle Sedekia se oë uitgesteek en hulle het hom met kettings vasgebind en na Babel gevat.
Nebusaradan, die hoof-offisier en amptenaar van die koning van Babel, het na Jerusalem gekom in die vyfde maand, op die sewende dag van die maand, in die 19de jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het. Nebusaradan het die tempel afgebrand en ook die paleis en al die huise in Jerusalem, al die groot huise. Die soldate van die Galdeërs wat by die hoof-offisier was, het die mure rondom Jerusalem afgebreek. Die hoof-offisier Nebusaradan het die mense gevang wat nog in die stad was. Hy het ook die mense gevang en weggevat wat self besluit het om na die koning van Babel toe te gaan. Hulle was die mense wat oorgebly het van al die baie mense in die stad. Nebusaradan het net die armste mense van die land daar laat bly om in die wingerde en op die koringlande te werk. Die Galdeërs het die pilare stukkend geslaan wat by die tempel was, en ook die waentjies en die waterbak van brons wat by die tempel was, en hulle het die brons weggevat na Babel. Hulle het ook die potte, die grawe en die messe, die bakke en al die goed van brons gevat. Dit was die goed wat die priesters by die tempel gebruik het. Die hoof-offisier het ook die emmers en die bakke gevat, alles wat van goud en silwer was. Die twee pilare, die waterbak, en die waentjies wat Salomo vir die tempel laat maak het, was so swaar dat 'n mens dit nie kon weeg nie. Al hierdie goed was van brons. Elke pilaar was 18 el hoog, en die kopstuk bo-op was van brons en dit was drie el hoog. Daar was granate van brons rondom elke kopstuk. Die hoof-offisier het die hoëpriester Seraja gevang en ook die tweede priester, Sefanja, en die drie drumpelwagte. Hy het ook uit die stad een offisier geneem wat die hoof was van die soldate, en ook vyf van die koning se raadgewers wat in die stad was, en die sekretaris van die hoof van die leër wat die mense van die land moes roep om oorlog te maak, en ook 60 van die belangrike mense van die land wat toe in die stad was. Die hoof-offisier Nebusaradan het hulle gebring na die koning van Babel in Ribla. Die koning van Babel het hulle laat doodmaak in Ribla, in die land Hamat. Hy het die ander Judeërs laat wegvat uit hulle land.
Koning Nebukadnesar het vir Gedalja seun van Agikam seun van Safan gekies en aangestel oor die mense wat hy in die land Juda laat bly het. Toe al die hoofde van die leër en hulle manne hoor dat die koning van Babel vir Gedalja aangestel het, het hulle na Gedalja toe in Mispa gegaan. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet van die stad Netofa, en Jaäsanja van die stad Maäka, en hulle manne. Gedalja het vir die offisiere en hulle manne gesê: “So seker soos die Here lewe, julle moenie bang wees vir die amptenare van die Galdeërs nie. Julle moet in die land woon en vir die koning van Babel werk, dan sal dit goed gaan met julle.”
Ismael seun van Netanja seun van Elisama was familie van die koning. In die sewende maand het Ismael en tien manne saam met hom vir Gedalja vermoor. Hulle het ook die Judeërs en Galdeërs vermoor wat saam met hom in Mispa was. Daarna het al die mense, kinders en grootmense, en ook die hoofde van die leër, gereedgemaak en na Egipte gegaan, want hulle was bang vir die Galdeërs.
In die sewe-en-dertigste jaar nadat koning Jojagin van Juda 'n gevangene geword het, het koning Ewil-Merodak van Babel vir Jojagin uit die tronk laat uitkom. Dit was in die twaalfde maand, op die sewe-en-twintigste dag van die maand. Ewil-Merodak het vriendelik gepraat met Jojagin en hy het hom laat sit op 'n belangriker plek as die ander konings wat by hom in Babel was. Jojagin kon sy tronk-klere uittrek en hy kon by die koning se tafel eet totdat hy gesterf het. Die koning van Babel het vir Jojagin elke dag alles gegee wat hy nodig gehad het, totdat hy gesterf het.