In die negende jaar van Sedekia se regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het •Nebukadnesar, die koning van Babilonië, by Jerusalem aangekom, hy met sy hele leër, en dit beleër. Hy het beleëringswerke reg rondom die stad opgerig, en so het die stad onder beleg gekom tot die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. Teen die negende dag van die vierde maand, toe die hongersnood in die stad baie erg was, en daar nie meer kos was vir die volk van die land nie, is 'n bres in die stadsmuur geslaan. Al die krygsmanne is in die nag met die pad uit, deur die poort tussen die twee mure by die koning se tuin, terwyl die Galdeërs oral om die stad was. Hulle het in die rigting van die Araba gegaan. Maar die leër van die Galdeërs het die koning agternagesit en hom op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Sy hele leër het verstrooi geraak, weg van hom af. Hulle het die koning gevange geneem en hom opgeneem na die koning van Babilonië, na Ribla. Hulle het vonnisse oor hom uitgespreek. Die seuns van Sedekia het hulle voor sy oë tereggestel. Sedekia se oë het hy verblind; hy het hom met bronsboeie geboei en na Babel geneem.
In die vyfde maand, op die sewende dag van die maand – dit was die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar, die koning van Babilonië – het Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, die dienaar van die koning van Babilonië, by Jerusalem aangekom. Hy het die huis van die HERE en die paleis van die koning afgebrand. Al die huise in Jerusalem, ja, elke groot gebou het hy afgebrand. En die stadsmure reg rondom Jerusalem is afgebreek deur die hele leër van die Galdeërs wat saam met die aanvoerder van die lyfwag was.
Die res van die bevolking wat nog in die stad oorgebly het, asook die drosters wat na die koning van Babilonië oorgeloop het, die massa mense wat oor was, is deur Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, in ballingskap weggevoer. Maar van die armes in die land het die aanvoerder van die lyfwag agtergelaat as wingerdboere en landbouers.
Die bronspilare wat in die huis van die HERE was en die verskuifbare staanders, asook die bronssee wat in die huis van die HERE was, het die Galdeërs stukkend gebreek, en die brons na Babel weggedra. Die potte, skoppies, messe, skottels, en al die bronsgereedskap waarmee die tempeldiens verrig is, het hulle gevat. Die vuurpanne en offerbakke wat van suiwer goud en suiwer silwer was, het die aanvoerder van die lyfwag gevat. Wat betref die twee pilare, die een see en die verskuifbare staanders wat Salomo vir die huis van die HERE gemaak het – die brons van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie. Agttien el was die hoogte van elke pilaar. Daar was 'n bronskapiteel bo-op, en die hoogte van die kapiteel was drie el, met vlegwerk en granate reg rondom die kapiteel, alles van brons. Dieselfde geld vir die tweede pilaar met sy vlegwerk.
Die aanvoerder van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, Sefanja, die priester tweede in rang, en die drie deurwagters geneem; en uit die stad het hy een paleisamptenaar wat oor die krygsmanne aangestel was, saam met vyf manne wat die koning bygestaan het en wat nog in die stad aangetref kon word, asook die sekretaris, die •hoë amptenaar van die leër wat die oproep vir die volk van die land se krygsdiens hanteer het, en sestig man van die volk van die land wat in die stad te vinde was. Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babilonië in Ribla geneem. Die koning van Babilonië het hulle in Ribla, in die land Hamat, neergevel en doodgemaak.
So is Juda van sy grond af in ballingskap weggevoer.
Oor die mense wat in die gebied van Juda oorgebly het, dié wat Nebukadnesar, die koning van Babilonië, agtergelaat het, oor hulle het hy Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, aangestel. Toe al die bevelvoerders van die leërafdelings, hulle en die manskappe, hoor dat die koning van Babilonië vir Gedalja aangestel het, het hulle na Gedalja in Mispa gegaan. Dit was Ismael, seun van Netanja, Joganan, seun van Kareag, Seraja, seun van Tangumet uit Netofa, en Jaäsanja, die seun van 'n man uit Maäga, hulle en hulle manskappe. Gedalja het vir hulle en vir hulle manskappe 'n eed afgelê en vir hulle gesê: “Moenie bang wees vir die amptenare van die Galdeërs nie. Bly in die land en dien die koning van Babilonië, dan sal dit goed gaan met julle.”
Maar in die sewende maand het Ismael, seun van Netanja, seun van Elisama, verwant aan die koninklike familie, gekom, met tien manne saam met hom. Hulle het Gedalja aangeval, en hy het gesterf, so ook die Judeërs, asook die Galdeërs, wat saam met hom in Mispa was. Toe het die hele volk, klein en groot, gereedgemaak en saam met die aanvoerders van die krygsmag na Egipte gegaan, omdat hulle bang was vir die Galdeërs.
In die sewe-en-dertigste jaar van die ballingskap van Jojagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die sewe-en-twintigste van die maand, het Ewil-Merodag, die koning van Babilonië, in die jaar toe hy koning geword het, Jojagin, die koning van Juda uit die gevangenis vrygelaat. Hy het vriendelik met hom gepraat en hom 'n sitplek gegee hoër as die sitplekke van die konings wat saam met hom in Babel was, en hy kon sy gevangenisklere uittrek. Hy het altyd, solank hy geleef het, aan die koning se tafel geëet. En sy lewensonderhoud – 'n vaste lewensonderhoud – is deur die koning aan hom gegee, soveel as wat hy elke dag nodig gehad het.