1 SAMUEL 15:13-26

1 SAMUEL 15:13-26 AFR83

Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.” Samuel vra toe: “Wat vir 'n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore? En wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?” “Hulle het dit van die Amalekiete af gebring,” antwoord Saul. “Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak.” En Samuel sê vir Saul: “Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het.” Saul sê toe vir hom: “Praat maar.” Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel. Die Here het jou met 'n doel uitgestuur en Hy het jou beveel: ‘Trek op, bring die sondaars, die Amalekiete, om die lewe. Jy moet teen hulle veg totdat jy hulle uitgeroei het.’ Waarom het jy nie na die bevel van die Here geluister nie? En waarom het jy jou aan die buit vergryp en hierdie ding gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?” Saul antwoord toe vir Samuel: “Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer.” Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” Saul sê toe vir Samuel: “Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het. “Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid.” Maar Samuel sê vir Saul: “Ek sal nie saam met jou gaan nie, want jy het die woord van die Here verwerp en die Here het jou verwerp as koning oor Israel.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid