1 Samuel 15:13-26

1 Samuel 15:13-26 AFR20

Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Mag u geseënd wees deur die HERE! Ek het die opdrag van die HERE uitgevoer.” Maar Samuel vra toe: “Wat is dan die geblêr van kleinvee in my ore en die gebulk van beeste wat ek hoor?” Saul het geantwoord: “Hulle het dit van die Amalekiete af gebring; want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar, sodat hulle aan die HERE u God kan offer. Die res het ons met die banvloek getref.” Toe sê Samuel vir Saul: “Hou op, dat ek aan jou kan bekend maak wat die HERE vannag vir my gesê het.” Waarop Saul vir hom sê: “Praat!” Samuel sê toe: “Is jy nie, alhoewel jy klein is in jou eie oë, die hoof van die stamme van Israel nie? En het die HERE jou nie as koning gesalf oor Israel nie? Die HERE het jou op 'n pad gestuur. Hy het gesê, ‘Gaan tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek. Veg teen hulle totdat jy hulle uitgewis het.’ Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie, maar op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE?” Saul sê toe vir Samuel: “Ek het geluister na die stem van die HERE. Ek het gegaan op die pad waarop die HERE my gestuur het. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer.” Daarop het Samuel geantwoord: “Is daar vir die HERE vreugde in •brandoffers en •maaltydoffers, soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as maaltydoffers, om te luister beter as die vet van ramme. Ja, opstandigheid is soos die sonde van waarsêery, en eiesinnigheid soos die euwel van huisgode. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. ” Toe sê Saul vir Samuel: “Ek het gesondig, ja, ek het die bevel van die HERE en u opdragte oortree, omdat ek bang was vir die manskappe en na hulle geluister het. Vergewe nou asseblief my sonde en gaan saam met my terug, sodat ek voor die HERE in aanbidding kan buig.” Maar Samuel het vir Saul gesê: “Ek sal nie saam met jou teruggaan nie. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het die HERE jou verwerp as koning oor Israel.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid