1 Samuel 15:13-26

1 Samuel 15:13-26 DB

Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Die Here is goed vir jou. Ek kon alles doen wat Hy gesê het ek moet doen.” “Maar hoekom hoor ek dan skape blêr en beeste bulk?” vra Samuel. “O, dit kom van die Amalekiete af,” sê Saul. “Die manne het die beste skape en beeste saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons doodgemaak.” “Bly stil,” sê Samuel vir Saul. “Kom ek sê vir jou wat die Here vannag vir my gesê het.” “Ja, sê maar,” sê Saul. “Jy het mos eers gedink jy is onbelangrik, nie waar nie?” sê Samuel. “Maar toe word jy die leier van al die Israeliete, want die Here het jou koning laat maak oor Israel. Die Here het jou gestuur om vir Hom ’n werk te gaan doen. Hy het vir jou gesê: ‘Saul, jy moet daardie klomp slegte mense, die Amalekiete, gaan doodmaak. Veg teen hulle totdat daar niks van hulle oor is nie.’ Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy van die goed gegryp wat julle by die Amalekiete gevat het? Jy het ’n lelike ding gedoen. Die Here hou niks daarvan nie.” “Maar ek hét na die Here geluister,” sê Saul vir Samuel. “Ek het gaan doen wat die Here gesê het ek moet doen. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar ek het al die ander Amalekiete doodgemaak. Die manne het die beste skape en beeste wat ons vir die Here moes doodmaak, gevat om hier in Gilgal vir die Here jou God te kom offer.” Toe sê Samuel: Hou die Here meer van allerhande offers as van gehoorsaamheid? Nee, om gehoorsaam te wees is beter as om offerdiere te slag, en om te luister is beter as om die vet van ramme te verbrand. Om jou teen die Here te verset en jou eie kop te volg is net so erg as om na ’n waarsêer of afgodspriester te luister. Omdat jy die Here se woorde eenkant toe gestoot het, gaan die Here jou as koning eenkant toe stoot. “Ek het gesondig,” sê Saul vir Samuel. “Ek was ongehoorsaam aan die Here en ek het nie gedoen wat jy gesê het ek moet doen nie. Maar ek was bang vir die mense en het na hulle geluister. Vergewe asseblief wat ek verkeerd gedoen het en kom kniel saam met my voor die Here.” “Nee, ek gaan nie saam met jou nie,” sê Samuel vir hom. “Omdat jy die woorde van die Here eenkant toe gestoot het, het die Here jou ook eenkant toe gestoot. Jy gaan nie meer die koning van Israel wees nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid