1 SAMUEL 15:13-26

1 SAMUEL 15:13-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Mag u geseënd wees deur die HERE! Ek het die opdrag van die HERE uitgevoer.” Maar Samuel vra toe: “Wat is dan die geblêr van kleinvee in my ore en die gebulk van beeste wat ek hoor?” Saul het geantwoord: “Hulle het dit van die Amalekiete af gebring; want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar, sodat hulle aan die HERE u God kan offer. Die res het ons met die banvloek getref.” Toe sê Samuel vir Saul: “Hou op, dat ek aan jou kan bekend maak wat die HERE vannag vir my gesê het.” Waarop Saul vir hom sê: “Praat!” Samuel sê toe: “Is jy nie, alhoewel jy klein is in jou eie oë, die hoof van die stamme van Israel nie? En het die HERE jou nie as koning gesalf oor Israel nie? Die HERE het jou op 'n pad gestuur. Hy het gesê, ‘Gaan tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek. Veg teen hulle totdat jy hulle uitgewis het.’ Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie, maar op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE?” Saul sê toe vir Samuel: “Ek het geluister na die stem van die HERE. Ek het gegaan op die pad waarop die HERE my gestuur het. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer.” Daarop het Samuel geantwoord: “Is daar vir die HERE vreugde in •brandoffers en •maaltydoffers, soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as maaltydoffers, om te luister beter as die vet van ramme. Ja, opstandigheid is soos die sonde van waarsêery, en eiesinnigheid soos die euwel van huisgode. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. ” Toe sê Saul vir Samuel: “Ek het gesondig, ja, ek het die bevel van die HERE en u opdragte oortree, omdat ek bang was vir die manskappe en na hulle geluister het. Vergewe nou asseblief my sonde en gaan saam met my terug, sodat ek voor die HERE in aanbidding kan buig.” Maar Samuel het vir Saul gesê: “Ek sal nie saam met jou teruggaan nie. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het die HERE jou verwerp as koning oor Israel.”

1 SAMUEL 15:13-26 Die Boodskap (DB)

Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Die Here is goed vir jou. Ek kon alles doen wat Hy gesê het ek moet doen.” “Maar hoekom hoor ek dan skape blêr en beeste bulk?” vra Samuel. “O, dit kom van die Amalekiete af,” sê Saul. “Die manne het die beste skape en beeste saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons doodgemaak.” “Bly stil,” sê Samuel vir Saul. “Kom ek sê vir jou wat die Here vannag vir my gesê het.” “Ja, sê maar,” sê Saul. “Jy het mos eers gedink jy is onbelangrik, nie waar nie?” sê Samuel. “Maar toe word jy die leier van al die Israeliete, want die Here het jou koning laat maak oor Israel. Die Here het jou gestuur om vir Hom ’n werk te gaan doen. Hy het vir jou gesê: ‘Saul, jy moet daardie klomp slegte mense, die Amalekiete, gaan doodmaak. Veg teen hulle totdat daar niks van hulle oor is nie.’ Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy van die goed gegryp wat julle by die Amalekiete gevat het? Jy het ’n lelike ding gedoen. Die Here hou niks daarvan nie.” “Maar ek hét na die Here geluister,” sê Saul vir Samuel. “Ek het gaan doen wat die Here gesê het ek moet doen. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar ek het al die ander Amalekiete doodgemaak. Die manne het die beste skape en beeste wat ons vir die Here moes doodmaak, gevat om hier in Gilgal vir die Here jou God te kom offer.” Toe sê Samuel: Hou die Here meer van allerhande offers as van gehoorsaamheid? Nee, om gehoorsaam te wees is beter as om offerdiere te slag, en om te luister is beter as om die vet van ramme te verbrand. Om jou teen die Here te verset en jou eie kop te volg is net so erg as om na ’n waarsêer of afgodspriester te luister. Omdat jy die Here se woorde eenkant toe gestoot het, gaan die Here jou as koning eenkant toe stoot. “Ek het gesondig,” sê Saul vir Samuel. “Ek was ongehoorsaam aan die Here en ek het nie gedoen wat jy gesê het ek moet doen nie. Maar ek was bang vir die mense en het na hulle geluister. Vergewe asseblief wat ek verkeerd gedoen het en kom kniel saam met my voor die Here.” “Nee, ek gaan nie saam met jou nie,” sê Samuel vir hom. “Omdat jy die woorde van die Here eenkant toe gestoot het, het die Here jou ook eenkant toe gestoot. Jy gaan nie meer die koning van Israel wees nie.”

1 SAMUEL 15:13-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Samuel hom uiteindelik kry, het Saul hom vriendelik gegroet en gesê: “Mag die HERE u seën! Ek het die HERE se opdrag uitgevoer!” “Hoekom hoor ek dan die geblêr van skape en die gebulk van beeste?” vra Samuel. “Die soldate het van die diere gespaar,” antwoord Saul. “Hulle het die beste van die skape en die beeste van Amalek saamgebring om vir die HERE u God te offer. Al die ander het ons vernietig.” Daarop sê Samuel vir Saul: “Wag ’n bietjie, laat ek jou vertel wat die HERE laas nag vir my gesê het!” “Wat was dit?” vra Saul. Samuel sê vir hom: “Voorheen het jy min van jouself gedink, tog het jy die leier van die stamme van Israel geword. Die HERE het jou tot koning van Israel gesalf. Die HERE het jou met hierdie opdrag gestuur en gesê: ‘Jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan vernietig en hulle almal totaal uitwis.’ Hoekom het jy nie na die HERE geluister nie? Hoekom het jy jou aan die buit vergryp en presies dit gedoen wat die HERE gesê het jy nie moes doen nie?” “Maar ek hét na die HERE geluister,” hou Saul vol. “Ek het die opdrag wat Hy my gegee het, uitgevoer. Ek het koning Agag teruggebring, maar ek het al die ander mense doodgemaak. Die soldate het die beste van die skape en beeste gebring om vir die HERE u God in Gilgal te offer.” Maar Samuel antwoord: “Wat verkies die HERE: brandoffers of gehoorsaamheid? Gehoorsaamheid is beter as offers; om te luister is beter as die vet van ramme. Opstandigheid is net so ’n oortreding soos waarsêery, en hardkoppigheid is net so ’n sonde soos afgodery. Omdat jy die HERE se woord verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” Toe bely Saul: “Ek het gesondig. Ek was ongehoorsaam aan die HERE se opdrag en u voorskrifte, want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee. Maar nou vra ek om vergifnis en dat u saam met my sal gaan om die HERE te aanbid.” Maar Samuel antwoord: “Ek sal nie saam met jou gaan nie! Omdat jy die HERE se opdrag verwerp het, het Hy jou verwerp as koning oor Israel.”

1 SAMUEL 15:13-26 Bybel vir almal (ABA)

Samuel het na Saul toe gegaan, en Saul het vir hom gesê: “Ek bid dat die Here dit goed sal laat gaan met jou. Ek het gedoen wat die Here gesê het.” Toe sê Samuel: “Maar hoekom hoor ek skape en bokke blêr en beeste bulk?” Saul het gesê: “Die manne het die diere van die Amalekiete gevat. Hulle het die beste skape en bokke en beeste laat lewe om dit te offer vir jou God die Here. Hulle het al die ander diere doodgemaak.” Samuel sê toe vir Saul: “Bly stil. Ek sal vir jou sê wat die Here gisteraand vir my gesê het.” Saul het gesê: “Goed, ek luister.” Toe sê Samuel: “Jy het gesê jy is nie 'n belangrike man nie, maar jy is nou die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf en Hy het jou koning oor Israel gemaak. Die Here het jou gestuur en Hy het gesê jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan doodmaak, jy moet teen hulle gaan oorlog maak totdat jy hulle almal doodgemaak het. Hoekom het jy nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie? En hoekom het jy so vinnig hulle goed gaan vat en iets gaan doen waarvan die Here nie hou nie?” Saul het vir Samuel gesê: “Maar ek hét gedoen wat die Here gesê het, ek hét gegaan toe Hy my gestuur het. Ek het vir Agag, die koning van die Amalekiete, hiernatoe gebring, maar ek het al die Amalekiete doodgemaak. En die manne het van die skape en bokke en beeste gevat om hulle vir jou God die Here hier in Gilgal te offer. Dit is die beste van die diere wat gewy was en wat hulle moes doodmaak.” Samuel het gesê: “Wat dink jy is vir die Here die belangrikste: Dat jy brand-offers vir Hom moet bring, of dat jy doen wat Hy vir jou sê? Jy moet dit weet: Dit is beter om gehoorsaam te wees as om te offer, dit is beter om te luister na Hom as om die vet van ramme te offer. Want iemand wat opstandig is, doen ook sonde soos waarsêers sonde doen. En iemand wat ongehoorsaam is, doen ook sonde soos mense wat afgodsbeeldjies het.” “Jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie, daarom het Hy besluit dat jy nie meer koning sal wees nie.” Saul het vir Samuel gesê: “Ek het sonde gedoen, ek het nie gedoen wat die Here en jy vir my gesê het nie. Ek was bang vir die manne en ek het gedoen wat hulle gevra het. Maar nou vra ek: Jy moet asseblief my sonde vergewe en saam met my teruggaan, sodat ek tot die Here kan bid.” Maar Samuel het vir Saul gesê: “Ek sal nie saam met jou teruggaan nie, want jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie, en die Here sal jou nie meer koning laat wees nie.”

1 SAMUEL 15:13-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Mag u geseënd wees deur die HERE: ek het die woord van die HERE uitgevoer. Daarop vra Samuel: Maar wat vir 'n geblêr van kleinvee is dit in my ore en 'n gebulk van beeste wat ek hoor? En Saul sê: Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die HERE u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref. Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die HERE vannag met my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek. En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die HERE het jou as koning oor Israel gesalf. En die HERE het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is. Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE? Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die HERE geluister en gegaan op die pad waar die HERE my op gestuur het, en Agag, die koning van Ámalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer. Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister. Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek die HERE kan aanbid. Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die HERE verwerp het, en nou het die HERE jou verwerp om koning oor Israel te wees.

1 SAMUEL 15:13-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.” Samuel vra toe: “Wat vir 'n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore? En wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?” “Hulle het dit van die Amalekiete af gebring,” antwoord Saul. “Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak.” En Samuel sê vir Saul: “Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het.” Saul sê toe vir hom: “Praat maar.” Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel. Die Here het jou met 'n doel uitgestuur en Hy het jou beveel: ‘Trek op, bring die sondaars, die Amalekiete, om die lewe. Jy moet teen hulle veg totdat jy hulle uitgeroei het.’ Waarom het jy nie na die bevel van die Here geluister nie? En waarom het jy jou aan die buit vergryp en hierdie ding gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?” Saul antwoord toe vir Samuel: “Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer.” Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” Saul sê toe vir Samuel: “Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het. “Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid.” Maar Samuel sê vir Saul: “Ek sal nie saam met jou gaan nie, want jy het die woord van die Here verwerp en die Here het jou verwerp as koning oor Israel.”

1 SAMUEL 15:13-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Geseënd is jy deur die HERE! Ek het die bevel van die HERE uitgevoer. Toe sê Samuel: Wat beteken dan hierdie geblêr van die skape in my ore en die gelag van die beeste wat ek hoor? Toe sê Saul: Hulle het hulle uit die Amalekiete gebring, want die volk het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die HERE jou God te offer; en die res het ons met die banvloek getref. Toe sê Samuel vir Saul: Bly, dan sal ek jou vertel wat die HERE in hierdie nag vir my gesê het. En hy sê vir hom: Sê maar. Toe sê Samuel: Toe jy klein was in jou eie oë, is jy nie die hoof van die stamme van Israel aangestel nie, en die HERE het jou as koning oor Israel gesalf? En die HERE het jou op reis gestuur en gesê: Gaan heen en bring die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle verteer is. Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie, maar op die buit gevlieg en gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE? Toe sê Saul vir Samuel: Ja, ek het na die stem van die HERE geluister en gegaan op die pad wat die HERE my gestuur het, en Agag, die koning van Amalek, gebring en die Amalekiete met die banvloek getref. Maar die volk het van die buit kleinvee en beeste geneem, die belangrikste van die dinge wat met die banvloek getref moes word, om aan die HERE jou God in Gilgal te offer. Toe sê Samuel: Het die HERE 'n groot behae in brandoffers en slagoffers as in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, gehoorsaam is beter as slagoffer, en luister as die vet van ramme. Want opstandigheid is soos die sonde van towery, en eiesinnigheid is ongeregtigheid en afgodery. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou ook verwerp om koning te wees. Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, want ek het die bevel van die HERE en jou woorde oortree, omdat ek die volk gevrees en na hulle stem geluister het. Vergeef tog nou tog my sonde en keer terug saam met my, dat ek die HERE kan aanbid. Toe sê Samuel vir Saul: Ek sal nie saam met jou terugkeer nie, want jy het die woord van die HERE verwerp, en die HERE het jou verwerp om koning oor Israel te wees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid