1 KONINGS 12:8-19

1 KONINGS 12:8-19 AFR83

Maar hy het die raad wat die ouer mense hom gegee het, in die wind geslaan en die raad gevra van die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en in sy diens was: “Wat meen júlle moet ons hierdie mense antwoord? Hulle het gevra ek moet die juk wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.” Die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, het vir hom gesê: “U moet die volk soos volg antwoord. Hulle het vir u gesê: ‘U vader het ons 'n swaar juk laat dra, maak u vir ons die juk ligter.’ U moet vir hulle sê: “My pinkie is dikker as my pa se middellyf. My pa het 'n swaar juk op julle laat druk, ek gaan die juk nog swaarder maak. My pa het julle met swepe geslaan, ek sal julle met gesels slaan.” Toe Jerobeam en die hele volk die derde dag by koning Rehabeam kom volgens sy opdrag “Kom oor drie dae na my toe terug”, het hy die volk dié harde antwoord gegee. Koning Rehabeam het die raad van die ouer mense in die wind geslaan en die volk geantwoord volgens die raad van die jonger manne: “My pa het 'n swaar juk op julle gelê, ek gaan die juk nog swaarder maak; my pa het julle met swepe geslaan, ek sal julle met gesels slaan.” Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. Dit was 'n beskikking van die Here sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het. Toe die Israeliete hoor dat die koning nie aan hulle versoek voldoen het nie, het hulle vir hom gesê: “Dawid is nie deel van ons nie; ons het niks aan Isai se seun nie! Elkeen terug na sy woonplek toe, Israel! Kyk nou maar na jou eie huis, Dawid!” Israel is toe terug na sy eie woongebied toe. Rehabeam het net koning geword oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het. Koning Rehabeam het vir Adoniram wat in bevel van die dwangarbeid was, na Israel toe gestuur, maar die Israeliete het hom met klippe doodgegooi, en koning Rehabeam self het dit net-net reggekry om op sy strydwa te kom en na Jerusalem toe te vlug. So het Israel in opstand gekom teen die koningshuis van Dawid, en dit is vandag nog so.