1 KONINGS 12:8-19

1 KONINGS 12:8-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar hy het die raad wat die ouer mense hom gegee het, in die wind geslaan en die raad gevra van die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en in sy diens was: “Wat meen júlle moet ons hierdie mense antwoord? Hulle het gevra ek moet die juk wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.” Die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, het vir hom gesê: “U moet die volk soos volg antwoord. Hulle het vir u gesê: ‘U vader het ons 'n swaar juk laat dra, maak u vir ons die juk ligter.’ U moet vir hulle sê: “My pinkie is dikker as my pa se middellyf. My pa het 'n swaar juk op julle laat druk, ek gaan die juk nog swaarder maak. My pa het julle met swepe geslaan, ek sal julle met gesels slaan.” Toe Jerobeam en die hele volk die derde dag by koning Rehabeam kom volgens sy opdrag “Kom oor drie dae na my toe terug”, het hy die volk dié harde antwoord gegee. Koning Rehabeam het die raad van die ouer mense in die wind geslaan en die volk geantwoord volgens die raad van die jonger manne: “My pa het 'n swaar juk op julle gelê, ek gaan die juk nog swaarder maak; my pa het julle met swepe geslaan, ek sal julle met gesels slaan.” Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. Dit was 'n beskikking van die Here sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het. Toe die Israeliete hoor dat die koning nie aan hulle versoek voldoen het nie, het hulle vir hom gesê: “Dawid is nie deel van ons nie; ons het niks aan Isai se seun nie! Elkeen terug na sy woonplek toe, Israel! Kyk nou maar na jou eie huis, Dawid!” Israel is toe terug na sy eie woongebied toe. Rehabeam het net koning geword oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het. Koning Rehabeam het vir Adoniram wat in bevel van die dwangarbeid was, na Israel toe gestuur, maar die Israeliete het hom met klippe doodgegooi, en koning Rehabeam self het dit net-net reggekry om op sy strydwa te kom en na Jerusalem toe te vlug. So het Israel in opstand gekom teen die koningshuis van Dawid, en dit is vandag nog so.

1 KONINGS 12:8-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar Rehabeam het die advies van die ouer raadsmanne verwerp. Hy vra toe raad by die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en nou in sy diens was. “Wat dink julle moet ek hierdie mense antwoord?” vra hy hulle. “Hulle wil hê dat ek die laste wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.” Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, het hom geantwoord: “Jy moet soos volg reageer teenoor die mense wat gesê het: ‘U pa het ons ’n swaar las laat dra. Verminder tog die arbeidslas.’ Só moet jy vir hulle sê: ‘My pinkie is dikker as my pa se middellyf. My pa het ’n swaar las op julle gelê; maar ek gaan die las nog swaarder maak! My pa het julle met swepe geslaan; maar ek sal julle met skerpioene teister!’” Drie dae later het Jerobeam en die hele volk teruggekom volgens die koning se bevel: “Kom oor drie dae terug.” Maar Rehabeam het die volk ’n harde antwoord gegee omdat hy die raad van die ouer manne verwerp het en die volk geantwoord het volgens die raad van die jonger manne: “My pa het ’n swaar las op julle gelê; ek gaan die las nog swaarder maak! My pa het julle met swepe geslaan; maar ek sal julle met skerpioene teister!” Die koning het nie toegegee aan die versoek van die volk nie. Hierdie wending was die werk van die HERE volgens sy boodskap aan Jerobeam seun van Nebat deur die profeet Agija uit Silo. Toe die Israeliete besef dat die koning hulle versoek verwerp het, het hulle geskreeu: “Wat het ons aan Dawid en sy koningshuis? In die seun van Isai het ons geen aandeel nie! Gaan terug na julle huise toe, Israel! Sorg julle nou maar vir julleself, huis van Dawid!” Die volk het toe teruggegaan na hulle huise toe. Rehabeam het bly regeer oor die Israeliete wat in die Judese stede gewoon het. Koning Rehabeam stuur toe vir Adoniram wat oor die dwangarbeid was, na Israel toe. Die Israeliete het hom egter met klippe doodgegooi. Koning Rehabeam kon net betyds in sy strydwa kom en na Jerusalem toe vlug. So het die noordelike stamme van Israel teen die koningshuis van Dawid in opstand gekom. Dit is tot vandag toe nog so.

1 KONINGS 12:8-19 Bybel vir almal (ABA)

Maar Rehabeam wou nie luister na wat hulle vir hom gesê het nie. Hy het toe vir die jongmanne gaan vra wat saam met hom grootgeword het en wat sy amptenare was. Hy het vir hulle gevra: “Wat sê julle? Wat moet ek vir hierdie mense antwoord? Hulle het vir my gevra dat ek hulle nie so hard moet laat werk soos hulle vir my pa moes werk nie.” Die jongmanne wat saam met Rehabeam grootgeword het, het vir hom gesê: “Hierdie mense het vir jou gesê dat jou pa hulle baie hard laat werk het, en jy moenie hulle so hard laat werk nie. Jy moet vir hulle sê: ‘My pinkie is dikker as my pa se lyf. Daarom, my pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. My pa het julle regeer met gewone swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.’ ” Rehabeam het voorheen vir die mense gesê hulle moet ná drie dae terugkom. Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag teruggekom na Rehabeam toe, en die koning het kwaai met hulle gepraat. Hy het nie geluister en gedoen wat die ouer leiers vir hom gesê het nie. Hy het gedoen wat die jongmanne vir hom gesê het. Rehabeam het gesê: “My pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. Hy het julle regeer met gewone swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.” Die koning het nie geluister na die volk nie, want die Here het dit so laat gebeur. Die Here wou doen wat Hy vir Jerobeam seun van Nebat gesê het toe Hy vir Agija van Silo gestuur het. Toe al die mense van Israel sien die koning luister nie na hulle nie, het hulle vir die koning laat weet: “Ons is nie Dawid se familie nie, die seun van Isai was nie een van ons nie. Mense van Israel, gaan terug na julle tente! Dawid, nou moet jy jou eie huis oppas.” Die mense van Israel het toe teruggegaan na hulle tente. Rehabeam was toe koning net van die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het. Adoram was die hoof van die mense wat vir die koning moes werk. Koning Rehabeam het vir Adoram gestuur na die mense van Israel toe, maar hulle het vir Adoram doodgegooi met klippe. Koning Rehabeam moes vinnig op sy oorlogkar klim en na Jerusalem vlug. Dit is hoe die mense van Israel opstandig geword het teen die koningshuis van Dawid, en dit het so gebly tot nou toe.

1 KONINGS 12:8-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar hy het die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind geslaan en raad gehou met die jongmanne wat saam met hom grootgeword en voor hom gestaan het. En hy vra hulle: Wat raai julle aan dat ons hierdie volk sal antwoord wat my toegespreek en gesê het: Maak die juk wat u vader ons opgelê het, ligter? En die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: Só moet u hierdie volk antwoord wat met u gespreek en gesê het: U vader het ons juk swaar gemaak, maar maak u dit ligter oor ons — só moet u hulle antwoord: My pinkie is dikker as my vader se lendene. Het my vader dan nou 'n swaar juk op julle gelaai — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig. Toe Jeróbeam en die hele volk dan by Rehábeam kom op die derde dag soos die koning gespreek en gesê het: Kom na my terug op die derde dag — het die koning die volk 'n harde antwoord gegee: hy het die raad wat hom deur die oudstes gegee is, in die wind geslaan en met hulle gespreek volgens die raad van die jongmanne en gesê: Het my vader julle juk swaar gemaak — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig. So het die koning dan nie na die volk geluister nie, want dit was 'n beskikking van die HERE, sodat Hy sy woord sou vervul wat die HERE gespreek het deur die diens van Ahía, die Siloniet, tot Jeróbeam, die seun van Nebat. Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord en gesê: Watter aandeel het ons aan Dawid? en daar is geen erfdeel aan die seun van Ísai nie! Na julle tente toe, Israel! Kyk nou na jou eie huis, Dawid! Daarop het Israel na sy tente gegaan. Maar oor die kinders van Israel wat in die stede van Juda gewoon het, oor hulle was Rehábeam koning. Toe stuur koning Rehábeam Adóram wat oor die dwangarbeid was, maar die hele Israel het hom gestenig, sodat hy gesterf het; en koning Rehábeam het hom tot die uiterste toe geweer om op 'n wa te klim, om na Jerusalem te vlug. So het die Israeliete dan van die huis van Dawid afvallig geword tot vandag toe.

1 KONINGS 12:8-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy het egter die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind geslaan en raad gevra by die jong manne wat saam met hom grootgeword en in sy diens gestaan het. Hy het vir hulle gevra: “Wat raai julle my aan moet ons hierdie volk antwoord wat vir my gesê het, ‘Verlig die juk wat u vader op ons gelê het’?” Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, sê toe vir hom: “So moet jy sê vir hierdie volk wat vir jou gesê het, ‘U vader het ons juk swaar gemaak; maar u, maak dit ligter op ons!’ So moet jy dit aan hulle stel, ‘My pinkie is dikker as my vader se middellyf. Daarom, my vader het 'n swaar juk op julle gelê; maar ek gaan by julle juk nog byvoeg. My vader het julle met swepe gekasty; maar ek sal julle met skerpioene kasty.’ ” Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag na Rehabeam toe gekom, soos die koning met hulle afgespreek het deur te sê: “Kom terug na my op die derde dag.” Die koning het die volk hard geantwoord en die raad wat die oudstes hom gegee het, in die wind geslaan. In ooreenstemming met die raad van die jong manne, het hy hulle aangespreek: “My vader het julle juk swaar gemaak, en ek gaan dit nog erger maak. My vader het julle met swepe gekasty; maar ek sal julle met skerpioene kasty.” Die koning het nie na die volk geluister nie, want dit was 'n beskikking van die HERE, sodat Hy sy belofte wat Hy by monde van Agija, die man uit Silo, aan Jerobeam, seun van Nebat, gemaak het, gestand kon doen. Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord: “Watter aanspraak het ons op Dawid? Ons het geen erfdeel in die seun van Isai nie; elkeen na sy tente toe, Israel! Sien nou om na jou eie huis, Dawid!” Israel het toe na hulle tente gegaan. Die Israeliete wat in die dorpe van Juda woon, oor hulle was Rehabeam koning. Koning Rehabeam het Adoniram, wat in bevel van die dwangarbeid was, gestuur, maar die hele Israel het hom met klippe gegooi en hy het gesterf. Koning Rehabeam het daarin geslaag om op sy strydwa te klim om na Jerusalem te vlug. So het Israel in verset gekom teen die huis van Dawid. Dit is vandag nog so.

1 KONINGS 12:8-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar hy het die raad van die ou manne verlaat wat hulle hom gegee het, en beraadslaag met die jongmanne wat saam met hom grootgeword het en voor hom gestaan het. En Hy sê vir hulle: Watter raad gee julle dat ons hierdie volk kan antwoord wat met my gespreek en gesê het: Maak die juk wat julle vader op ons gelê het ligter? En die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, het met hom gespreek en gesê: So moet jy met hierdie volk spreek wat met jou gespreek het en gesê het: Jou vader het ons juk swaar gemaak, maar maak dit vir ons ligter; so moet jy vir hulle sê: My pinkie sal dikker wees as my vader se lendene. En nou terwyl my vader vir julle 'n swaar juk gelaai het, sal ek by julle juk byvoeg: my vader het julle met swepe getugtig, maar Ek sal julle met skerpioene tugtig. Daarop het Jeróbeam en die hele volk op die derde dag na Rehábeam gekom, soos die koning bepaal het, en gesê: Kom op die derde dag weer na my toe. En die koning het die volk hard geantwoord en die raad van die ou manne wat hulle hom gegee het, verlaat; En volgens die raad van die jongmanne het hy met hulle gespreek en gesê: My vader het julle juk swaar gemaak, en ek sal by julle juk byvoeg; my vader het julle ook met swepe getugtig, maar ek sal julle met skerpioene tugtig. Daarom het die koning nie na die volk geluister nie; want die oorsaak was van die HERE, dat Hy sy woord kon volbring wat die HERE deur die diens van Ahía, die Siloniet, aan Jeróbeam, die seun van Nebat, gespreek het. Toe die hele Israel dan sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord en gesê: Watter deel het ons aan Dawid? en ons het geen erfdeel in die seun van Isai nie; na jou tente, o Israel, kyk nou na jou huis, Dawid! En Israel het na hulle tente gegaan. Maar wat die kinders van Israel betref wat in die stede van Juda gewoon het, Rehábeam het oor hulle geregeer. Toe stuur koning Rehabeam vir Adoram, wat oor die belasting was; en die hele Israel het hom met klippe gestenig, sodat hy gesterf het. Daarom het koning Rehabeam hom gehaas om hom op sy strydwa te laat klim om na Jerusalem te vlug. En Israel het teen die huis van Dawid in opstand gekom tot vandag toe.

1 KONINGS 12:8-19 Die Boodskap (DB)

Rehabeam het egter die ouer mans se raad summier verwerp. Hy wou eerder hoor wat die jonger mans sê, die mans wat saam met hom grootgeword het en wat nou belangrike posisies beklee het. “Hoe dink julle moet ek die mense antwoord?” het Rehabeam hulle gevra. “Hulle vra dat ek hulle las moet ligter maak, maar wat sê julle daarvan?” Die jong mans het geantwoord: “Sê vir hulle: ‘My pinkie is dikker as my pa se middel.’ En as hulle vir jou vra wat dit beteken, moet jy sê: ‘My pa het die lewe vir julle moeilik gemaak, maar ek gaan dit nog moeiliker maak; hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek sal julle met gesels slaan.’” Drie dae later het Jerobeam en die noorde se mense weer bymekaargekom. Hulle was gretig om te hoor wat Rehabeam gaan antwoord. Omdat Rehabeam die ouer mans se raad verwerp het, het hy hard en lelik met die mense gepraat. Omdat hy die jonger mans se raad gevolg het, het hy sonder enige tegemoetkomendheid gesê: “My pa het julle swaar laat kry, maar ek sal julle nog swaarder laat kry. Hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek gaan julle met gesels slaan.” Dinge het presies gebeur soos die Here deur die profeet Agija van Silo vir Jerobeam gesê het. Dit is waarom Rehabeam nie eens na die ouer mense wou luister nie. Toe die noorde se mense Rehabeam se storie hoor, het hulle almal begin skree: “Weg met Dawid en sy nageslag! Ons is nie deel van Dawid se mense nie! Wat het hulle al ooit vir ons gedoen! Israel, kom ons gaan huis toe. Laat Rehabeam maar self sien en kom klaar.” So het die mense van Israel hulle teen Rehabeam verset. Israel het toe hulle eie pad geloop. Al wat vir Rehabeam oorgebly het, was die een stam, die stam van Juda in die suide van die land. Rehabeam het vir Adoniram, die man wat Salomo nog oor die dwangarbeiders aangestel het, gestuur om met Israel te gaan praat. Hulle het hom so gehaat dat hulle hom sommer met klippe doodgegooi het. Toe Rehabeam sien wat gebeur, moes hy vinnig voor die skare padgee. Hy het net-net weggekom en is terug Jerusalem toe. Van daardie dag af wou Israel niks meer met die koningshuis van Dawid in Jerusalem te make hê nie.