1 Konings 12:8-19

1 Konings 12:8-19 AFR20

Hy het egter die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind geslaan en raad gevra by die jong manne wat saam met hom grootgeword en in sy diens gestaan het. Hy het vir hulle gevra: “Wat raai julle my aan moet ons hierdie volk antwoord wat vir my gesê het, ‘Verlig die juk wat u vader op ons gelê het’?” Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, sê toe vir hom: “So moet jy sê vir hierdie volk wat vir jou gesê het, ‘U vader het ons juk swaar gemaak; maar u, maak dit ligter op ons!’ So moet jy dit aan hulle stel, ‘My pinkie is dikker as my vader se middellyf. Daarom, my vader het 'n swaar juk op julle gelê; maar ek gaan by julle juk nog byvoeg. My vader het julle met swepe gekasty; maar ek sal julle met skerpioene kasty.’ ” Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag na Rehabeam toe gekom, soos die koning met hulle afgespreek het deur te sê: “Kom terug na my op die derde dag.” Die koning het die volk hard geantwoord en die raad wat die oudstes hom gegee het, in die wind geslaan. In ooreenstemming met die raad van die jong manne, het hy hulle aangespreek: “My vader het julle juk swaar gemaak, en ek gaan dit nog erger maak. My vader het julle met swepe gekasty; maar ek sal julle met skerpioene kasty.” Die koning het nie na die volk geluister nie, want dit was 'n beskikking van die HERE, sodat Hy sy belofte wat Hy by monde van Agija, die man uit Silo, aan Jerobeam, seun van Nebat, gemaak het, gestand kon doen. Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord: “Watter aanspraak het ons op Dawid? Ons het geen erfdeel in die seun van Isai nie; elkeen na sy tente toe, Israel! Sien nou om na jou eie huis, Dawid!” Israel het toe na hulle tente gegaan. Die Israeliete wat in die dorpe van Juda woon, oor hulle was Rehabeam koning. Koning Rehabeam het Adoniram, wat in bevel van die dwangarbeid was, gestuur, maar die hele Israel het hom met klippe gegooi en hy het gesterf. Koning Rehabeam het daarin geslaag om op sy strydwa te klim om na Jerusalem te vlug. So het Israel in verset gekom teen die huis van Dawid. Dit is vandag nog so.