1 KONINGS 12:8-19

1 KONINGS 12:8-19 NLV

Maar Rehabeam het die advies van die ouer raadsmanne verwerp. Hy vra toe raad by die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en nou in sy diens was. “Wat dink julle moet ek hierdie mense antwoord?” vra hy hulle. “Hulle wil hê dat ek die laste wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.” Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, het hom geantwoord: “Jy moet soos volg reageer teenoor die mense wat gesê het: ‘U pa het ons ’n swaar las laat dra. Verminder tog die arbeidslas.’ Só moet jy vir hulle sê: ‘My pinkie is dikker as my pa se middellyf. My pa het ’n swaar las op julle gelê; maar ek gaan die las nog swaarder maak! My pa het julle met swepe geslaan; maar ek sal julle met skerpioene teister!’” Drie dae later het Jerobeam en die hele volk teruggekom volgens die koning se bevel: “Kom oor drie dae terug.” Maar Rehabeam het die volk ’n harde antwoord gegee omdat hy die raad van die ouer manne verwerp het en die volk geantwoord het volgens die raad van die jonger manne: “My pa het ’n swaar las op julle gelê; ek gaan die las nog swaarder maak! My pa het julle met swepe geslaan; maar ek sal julle met skerpioene teister!” Die koning het nie toegegee aan die versoek van die volk nie. Hierdie wending was die werk van die HERE volgens sy boodskap aan Jerobeam seun van Nebat deur die profeet Agija uit Silo. Toe die Israeliete besef dat die koning hulle versoek verwerp het, het hulle geskreeu: “Wat het ons aan Dawid en sy koningshuis? In die seun van Isai het ons geen aandeel nie! Gaan terug na julle huise toe, Israel! Sorg julle nou maar vir julleself, huis van Dawid!” Die volk het toe teruggegaan na hulle huise toe. Rehabeam het bly regeer oor die Israeliete wat in die Judese stede gewoon het. Koning Rehabeam stuur toe vir Adoniram wat oor die dwangarbeid was, na Israel toe. Die Israeliete het hom egter met klippe doodgegooi. Koning Rehabeam kon net betyds in sy strydwa kom en na Jerusalem toe vlug. So het die noordelike stamme van Israel teen die koningshuis van Dawid in opstand gekom. Dit is tot vandag toe nog so.