Psalms 145:1-21

Psalms 145:1-21 DB

My God, ek sal U prys en u Naam altyd grootmaak. U regeer oor alles. Ek wil U elke dag prys. Ek wil nooit ophou om U vir alles dankie te sê nie. Die Here is groot. Hy verdien om baie geprys te word. ’n Mens kan nie regtig in woorde beskryf hoe groot Hy is nie. Ouers vertel vir hulle kinders wat U gedoen het. Hulle prys U daaroor. Hulle prys U wanneer hulle vir mekaar vertel van die groot dinge wat U alles gedoen het. U regeer. Ek wil vertel hoe belangrik U is. U heiligheid straal uit U uit. Ek sal nadink oor al die wonderlike dinge wat U gedoen het. As hulle met verbasing praat oor hoe sterk U is, sal ek oor u grootheid praat. Mense sal dag en nag kan vertel van u goedheid. U het in die verlede gewys hoe lief U mense het. Mense sal van blydskap sing omdat U goeie dinge vir hulle doen. Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het. Alles wat U gemaak het, sal u lof besing, Here. Hulle wat U dien, sal U prys. Hulle vertel hoe ’n magtige koning U is. Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe sterk U is nie. Hulle wil hê mense moet weet hoe belangrik U is, hoe sterk en hoe groot. Alles waaroor U regeer, is vol glans en glorie. U regeer van altyd af. U sal ook vir altyd regeer. U heers oor almal op aarde. Die Here sorg vir almal wat seerkry. Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. Die Here tree altyd reg op. In alles wat Hy doen, kan jy op Hom staatmaak. Die Here is by elkeen wat Hom dien en aanbid. Hy los niemand alleen wat Hom dien nie. Hy doen alles wat sy getroue kinders van Hom vra. As hulle om hulp vra, doen Hy iets daaraan. Hy verlos hulle uit hulle nood. Die Here beskerm elkeen wat Hom liefhet, maar almal wat Hom nie dien nie, sal Hy vernietig. Ek sal die Here prys. Mag alles wat lewe, Hom altyd loof, want Hy is die Here. Daar is niemand soos Hy nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Psalms 145:1-21

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid