Psalms 145:1-21

Psalms 145:1-21 AFR20

'n Loflied. Van Dawid. Ek wil U verheerlik, o Koning, my God; ek wil u Naam prys vir altyd en altyd. Elke dag wil ek U prys, ek wil u Naam loof vir altyd en altyd. Groot is die HERE en besonder lofwaardig; sy grootheid is ondeurgrondelik. Geslag ná geslag roem u werke; u magtige dade maak hulle bekend. Oor die heerlike majesteit van u luister en u wonderdade wil ek nadink. Oor die krag van u ontsagwekkende dade praat mense; van u grootheid wil ek vertel. Oor herinneringe aan u groot goedheid sal hulle uitwei; oor u regverdige optrede sal hulle jubel. Genadig en barmhartig is die HERE, geduldig en groot in troue liefde. Die HERE is goed vir almal, en sy barmhartigheid strek oor al sy werke. HERE, al u werke loof U, en u troue volgelinge prys U. Oor die heerlikheid van u koningskap praat hulle en u mag verkondig hulle, sodat die mensdom kan kennis neem van u magtige dade, van die heerlike majesteit van u koningskap. U koningskap is 'n koningskap vir alle ewighede, u heerskappy duur deur al die komende geslagte. Die HERE ondersteun almal wat val, en help almal regop wat neergeboë is. Almal se oë is vol verwagting op U gerig, en U gee vir hulle hulle kos op tyd. Wanneer U u hand oopmaak, versadig U al wat lewe met wat hulle wil hê. Regverdig is die HERE in al sy weë, en trou aan alles wat Hy gemaak het. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep. Hy vervul die wens van dié wat vir Hom ontsag het; hulle hulpgeroep hoor Hy, en Hy verlos hulle. Die HERE beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses delg Hy uit. My mond sal die lof van die HERE verkondig; alle mense moet sy heilige Naam prys vir altyd en altyd.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Psalms 145:1-21