PSALMS 145:1-21

PSALMS 145:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N LOFLIED van Dawid. Alef. O My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. Bet. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd. Gimel. Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik. Dalet. Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade. He. Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade. Wau. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel. Sajin. Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid. Get. Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Tet. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke. Jod. Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U. Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, Lamed. om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. Mem. U koninkryk is 'n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte. Samek. Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is. Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd. Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae. Sade. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke. Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid. Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle. Sjin. Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose. Tau. My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.

PSALMS 145:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Loflied. Van Dawid. Ek wil U verheerlik, o Koning, my God; ek wil u Naam prys vir altyd en altyd. Elke dag wil ek U prys, ek wil u Naam loof vir altyd en altyd. Groot is die HERE en besonder lofwaardig; sy grootheid is ondeurgrondelik. Geslag ná geslag roem u werke; u magtige dade maak hulle bekend. Oor die heerlike majesteit van u luister en u wonderdade wil ek nadink. Oor die krag van u ontsagwekkende dade praat mense; van u grootheid wil ek vertel. Oor herinneringe aan u groot goedheid sal hulle uitwei; oor u regverdige optrede sal hulle jubel. Genadig en barmhartig is die HERE, geduldig en groot in troue liefde. Die HERE is goed vir almal, en sy barmhartigheid strek oor al sy werke. HERE, al u werke loof U, en u troue volgelinge prys U. Oor die heerlikheid van u koningskap praat hulle en u mag verkondig hulle, sodat die mensdom kan kennis neem van u magtige dade, van die heerlike majesteit van u koningskap. U koningskap is 'n koningskap vir alle ewighede, u heerskappy duur deur al die komende geslagte. Die HERE ondersteun almal wat val, en help almal regop wat neergeboë is. Almal se oë is vol verwagting op U gerig, en U gee vir hulle hulle kos op tyd. Wanneer U u hand oopmaak, versadig U al wat lewe met wat hulle wil hê. Regverdig is die HERE in al sy weë, en trou aan alles wat Hy gemaak het. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep. Hy vervul die wens van dié wat vir Hom ontsag het; hulle hulpgeroep hoor Hy, en Hy verlos hulle. Die HERE beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses delg Hy uit. My mond sal die lof van die HERE verkondig; alle mense moet sy heilige Naam prys vir altyd en altyd.

PSALMS 145:1-21 Bybel vir almal (ABA)

'n Lied om die Here te prys. Van Dawid. My God, my Koning, ek wil U prys, ek wil u Naam prys, altyd en altyd. Ek wil U elke dag prys, ek wil u Naam prys, altyd en altyd. Die Here is groot, al die mense moet Hom prys. Niemand weet hoe groot Hy is nie. Elke geslag moet die dinge prys wat U gedoen het. Hulle moet praat oor die groot dinge wat U gedoen het. Ek wil dink oor U, die Koning. Almal moet U respekteer en dien oor die wonderlike dinge wat U doen. Die mense moet bang word vir U wat sterk is, hulle moet daaroor praat, hulle moet vertel dat U groot is. Almal weet dat U groot en goed is, hulle moenie ophou praat daaroor nie, hulle moet sing en sê dat U altyd reg doen. Die Here is genadig, Hy is goed vir mense wat swaarkry, en Hy is geduldig. Hy doen altyd wat Hy belowe het. Die Here is goed vir almal, Hy is goed vir almal wat Hy gemaak het, vir almal wat swaarkry. Here, almal wat U gemaak het, moet vir U dankie sê, die mense wat in U glo, moet U prys. Hulle moet praat oor U wat die Koning is, hulle moet vertel van die groot dinge wat U gedoen het, sodat hulle vir die mense kan leer van die groot dinge wat U gedoen het. U is die Koning, almal moet U respekteer en dien. U sal altyd Koning wees, U sal oor al die geslagte regeer. Die Here hou die mense regop wat wil val, Hy tel die mense op wat nie meer kan staan nie. Almal wag vir U om vir hulle kos te gee, en U gee dit vir hulle op die regte tyd. U maak u hand oop, U gee vir almal wat lewe, U gee vir hulle alles wat hulle vra. Die Here doen altyd reg, Hy doen altyd wat Hy belowe het. Die Here is naby almal wat tot Hom bid, almal wat eerlik tot Hom bid. Hy doen wat die mense vra, die mense wat Hom dien, Hy hoor wanneer hulle roep en vra dat Hy hulle moet help, en Hy red hulle. Die Here beskerm almal wat lief is vir Hom, maar Hy maak die mense dood wat verkeerd doen. Ek wil die Here prys, en almal wat lewe, moet sy heilige Naam prys, altyd en altyd.

PSALMS 145:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Loflied van Dawid. Ek wil u lof verkondig, my God en Koning, ek wil u Naam altyd loof. Elke dag wil ek U loof, ek wil u Naam altyd prys. Die Here is groot, alle lof kom Hom toe, sy grootheid is ondeurgrondelik. Geslag na geslag prys wat U doen en vertel van u magtige dade, van die luister, die heerlikheid van u majesteit. Ek wil getuig van u magtige dade, sodat die mense oor u wonderdade sal praat. Ek wil van u grootheid vertel. Sonder ophou moet hulle u groot goedheid verkondig en oor u reddingsdade jubel. Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het. Almal wat deur U geskep is, loof U, Here, en u troue dienaars prys U! Hulle vertel van u koninklike mag en getuig van u groot krag. Die mense moet weet van sy krag, van sy koninklike mag en majesteit. U koningskap is 'n koningskap vir alle tye, u heerskappy strek oor die geslagte heen. Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef. Die Here is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen. Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle. Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses verdelg Hy. Ek sal die lof van die Here verkondig. Laat al wat leef, sy heilige Naam vir altyd prys.

PSALMS 145:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek wil U loof, my God, o koning; en ek sal U Naam loof vir ewig en altyd. Ek sal jou elke dag seën; en ek sal U Naam loof vir ewig en altyd. Die HERE is groot en baie lofwaardig; en sy grootheid is ondeurgrondelik. Die een geslag sal U werke aan die ander prys en U magtige dade verkondig. Ek sal spreek van die heerlike eer van U majesteit en van U wonders. En die mense sal praat oor die mag van U verskriklike dade, en ek sal U grootheid verkondig. Hulle sal die gedagtenis van u groot goedheid in menigte verkondig en van U geregtigheid sing. Die HERE is genadig en vol medelye; stadig tot toorn en groot barmhartigheid. Die HERE is goed vir almal, en sy barmhartighede is oor al sy werke. Al u werke sal U loof, o HERE; en U heiliges sal U seën. Hulle sal spreek van die heerlikheid van U koninkryk en spreek van u krag; om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die heerlike majesteit van sy koninkryk. U koninkryk is 'n ewige koninkryk, en u heerskappy duur van geslag tot geslag. Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergebuig is. Die oë van almal wag op U; en U het hulle voedsel op die regte tyd gegee. U maak u hand oop en versadig die begeerte van al die lewende wesens. Die HERE is regverdig in al sy weë en heilig in al sy werke. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep. Hy sal die begeerte vervul van die wat Hom vrees; Hy sal ook hulle hulpgeroep hoor en hulle red. Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses sal Hy vernietig. My mond sal die lof van die HERE verkondig, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.

PSALMS 145:1-21 Die Boodskap (DB)

My God, ek sal U prys en u Naam altyd grootmaak. U regeer oor alles. Ek wil U elke dag prys. Ek wil nooit ophou om U vir alles dankie te sê nie. Die Here is groot. Hy verdien om baie geprys te word. ’n Mens kan nie regtig in woorde beskryf hoe groot Hy is nie. Ouers vertel vir hulle kinders wat U gedoen het. Hulle prys U daaroor. Hulle prys U wanneer hulle vir mekaar vertel van die groot dinge wat U alles gedoen het. U regeer. Ek wil vertel hoe belangrik U is. U heiligheid straal uit U uit. Ek sal nadink oor al die wonderlike dinge wat U gedoen het. As hulle met verbasing praat oor hoe sterk U is, sal ek oor u grootheid praat. Mense sal dag en nag kan vertel van u goedheid. U het in die verlede gewys hoe lief U mense het. Mense sal van blydskap sing omdat U goeie dinge vir hulle doen. Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het. Alles wat U gemaak het, sal u lof besing, Here. Hulle wat U dien, sal U prys. Hulle vertel hoe ’n magtige koning U is. Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe sterk U is nie. Hulle wil hê mense moet weet hoe belangrik U is, hoe sterk en hoe groot. Alles waaroor U regeer, is vol glans en glorie. U regeer van altyd af. U sal ook vir altyd regeer. U heers oor almal op aarde. Die Here sorg vir almal wat seerkry. Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. Die Here tree altyd reg op. In alles wat Hy doen, kan jy op Hom staatmaak. Die Here is by elkeen wat Hom dien en aanbid. Hy los niemand alleen wat Hom dien nie. Hy doen alles wat sy getroue kinders van Hom vra. As hulle om hulp vra, doen Hy iets daaraan. Hy verlos hulle uit hulle nood. Die Here beskerm elkeen wat Hom liefhet, maar almal wat Hom nie dien nie, sal Hy vernietig. Ek sal die Here prys. Mag alles wat lewe, Hom altyd loof, want Hy is die Here. Daar is niemand soos Hy nie.

PSALMS 145:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek wil U prys, my God en my Koning, u Naam wil ek altyd loof. Ek wil U elke dag loof, en u Naam vir altyd prys. Die HERE is groot! Hy is waardig om geprys te word. Sy grootheid is onmeetbaar. Geslag na geslag sal u dade prys en van u magtige werke vertel. Ek sal die glans en heerlikheid van u majesteit verkondig en nadink oor u wonderdade. Mense sal praat van u vreeswekkende dade; hulle sal van u grootheid vertel. Hulle sal vertel van u onvergeetlike goedheid; en met vreugde sing van u regverdigheid. Genadig en barmhartig is die HERE, stadig om kwaad te word, en ryk in liefde. Die HERE is goed vir almal, en barmhartig oor sy hele skepping. Alles wat U geskep het, loof U, HERE, en u getroue dienaars prys U! Hulle vertel van die prag van u koninkryk; hulle maak u groot mag bekend. Hulle sal aan almal vertel van u magtige dade, en van die glansryke majesteit van u koninkryk. Want u koninkryk is ’n koninkryk vir alle tye. U heers geslag na geslag. Die HERE help almal wat geval het en dié wat swaarkry, tel Hy op. Die oë van almal is hoopvol op U gerig; U gee aan almal kos op die regte tyd. U maak u hand oop, en bevredig die begeertes van al wat lewe. Die HERE is regverdig in al sy dade; en getrou in alles wat Hy doen. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, vir almal wat Hom in opregtheid aanroep. Hy vervul die begeertes van dié wat Hom dien; Hy hoor hulle hulpgeroep en red hulle. Die HERE beskerm almal wat Hom liefhet, maar die goddeloses vernietig Hy. Die lof van die HERE wil ek verkondig. Alles wat leef, sal sy heilige Naam vir altyd prys!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid