PSALMS 145:1-21

PSALMS 145:1-21 NLV

Ek wil U prys, my God en my Koning, u Naam wil ek altyd loof. Ek wil U elke dag loof, en u Naam vir altyd prys. Die HERE is groot! Hy is waardig om geprys te word. Sy grootheid is onmeetbaar. Geslag na geslag sal u dade prys en van u magtige werke vertel. Ek sal die glans en heerlikheid van u majesteit verkondig en nadink oor u wonderdade. Mense sal praat van u vreeswekkende dade; hulle sal van u grootheid vertel. Hulle sal vertel van u onvergeetlike goedheid; en met vreugde sing van u regverdigheid. Genadig en barmhartig is die HERE, stadig om kwaad te word, en ryk in liefde. Die HERE is goed vir almal, en barmhartig oor sy hele skepping. Alles wat U geskep het, loof U, HERE, en u getroue dienaars prys U! Hulle vertel van die prag van u koninkryk; hulle maak u groot mag bekend. Hulle sal aan almal vertel van u magtige dade, en van die glansryke majesteit van u koninkryk. Want u koninkryk is ’n koninkryk vir alle tye. U heers geslag na geslag. Die HERE help almal wat geval het en dié wat swaarkry, tel Hy op. Die oë van almal is hoopvol op U gerig; U gee aan almal kos op die regte tyd. U maak u hand oop, en bevredig die begeertes van al wat lewe. Die HERE is regverdig in al sy dade; en getrou in alles wat Hy doen. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, vir almal wat Hom in opregtheid aanroep. Hy vervul die begeertes van dié wat Hom dien; Hy hoor hulle hulpgeroep en red hulle. Die HERE beskerm almal wat Hom liefhet, maar die goddeloses vernietig Hy. Die lof van die HERE wil ek verkondig. Alles wat leef, sal sy heilige Naam vir altyd prys!

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 145:1-21

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid