Lukas 18:15-30

Lukas 18:15-30 DB

Kort daarna het ouers hulle klein kindertjies na Jesus toe gebring in die hoop dat Hy sy hande op hulle sou sit en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle weggejaag. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus met sulke “onbelangrike” dinge lastig val nie. Toe Jesus dit sien, het Hy egter dadelik vir sy dissipels gesê: “Wag! Wat vang julle aan? Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies van hulle hemelse Vader afhanklik is. Weet julle, as julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie.” Op ’n dag het ’n baie belangrike man vir Jesus gesê: “Goeie Leermeester, sê my, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se wêreld kan bly?” “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, jy moet God se voorskrifte gehoorsaam. En jy ken tog al God se voorskrifte: jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie leuens vertel nie, en jy moet respek hê vir jou pa en ma.” “Ag wat, ek doen al daardie dinge van kleins af,” sê die man. Daarop antwoord Jesus: “Wel, dan is daar nog net een klein dingetjie wat jy moet doen. Gaan verkoop al jou besittings. Gee dan al die geld vir die armes. Laat staan alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit doen, het jy vir jou ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.” Hierdie woorde het die man baie omgekrap, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om alles wat hy het aan sy familie en aan die armes uit te deel nie. Toe Jesus agterkom hoe omgekrap die ryk man is, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se nuwe wêreld te kry nie. Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om sy voete in God se nuwe wêreld te sit.” Die omstanders was verbysterd oor hierdie woorde. Hulle vra Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word?” Jesus sê toe vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. Vertrou op Hom.” Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Sê asseblief reguit vir ons wat ons kans is om daar uit te kom. Kyk, ons het immers al ons besittings verkoop en u volgelinge geword.” “Ek het baie goeie nuus vir julle!” het Jesus dadelik geantwoord. “Ek gee julle vandag die versekering dat almal wat iets groots moes opoffer om te doen wat God vra, definitief ’n plek in sy nuwe wêreld sal kry. As jy jou familie moet opoffer omdat jy in My glo, sal jy daarvoor vergoed word. Sommer nou al. Ja, jy sal elke dag oorlaai word met God se goedheid. En jy sal vir seker ook ’n plek kry in sy nuwe wêreld.”