Lukas 18:15-30

Lukas 18:15-30 AFR20

Hulle het ook kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle kon aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle die mense berispe. Jesus het hulle egter nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die •koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. •Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” 'n Sekere maghebber het Hom gevra: “Goeie Meester, wat moet ek doen, sodat ek die ewige lewe kan erf?” Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; eer jou vader en jou moeder. ” Hy antwoord: “Dit alles het ek van jongs af nagekom.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir die man: “Een ding ontbreek jou nog: Verkoop alles wat jy het en deel dit onder die armes uit, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” Toe die man dit egter hoor, het hy baie bedroef geword, want hy was skatryk. Toe Jesus sien hoe bedroef die man word, het Hy gesê: “Hoe moeilik is dit tog vir hulle wat rykdom het, om in te gaan in die •koninkryk van God; want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie kan dan gered word?” En Hy antwoord: “Wat onmoontlik is by mense, is by God moontlik.” Daarop sê •Petrus: “Kyk, ons het ons besittings agtergelaat en U gevolg.” Jesus het hulle geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, ter wille van die koninkryk van God, huis of vrou of broers of ouers of kinders agtergelaat het, wat nie in hierdie tyd veel meer sal ontvang nie – én in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”