LUKAS 18:15-30

LUKAS 18:15-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak. Die dissipels het gesien wat aangaan, en die mense voor stok gekry. Jesus het egter die kindertjies nadergeroep en gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom, en moet hulle nie keer nie, want dit is sulke mense wat deel het aan die koninkryk van God. Ek verseker julle, wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie aanvaar nie, sal nooit daar ingaan nie.” Iemand uit die geledere van die geestelike leiers het aan Jesus gevra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” Jesus het gereageer: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, dit is God. Jy ken mos die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis aflê nie, en eer jou vader en jou moeder.” Hy het geantwoord: “Al hierdie dinge het ek nagekom van kleins af.” Toe Jesus dit hoor, het Hy vir die man gesê: “Tog is daar een ding wat by jou kortkom: Verkoop alles wat jy besit en gaan deel die opbrengs aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan hierheen en word my dissipel.” Toe hy dit hoor, het die man baie afgehaal gevoel, want hy was skatryk. Toe Jesus sien dat hy so afgehaal lyk, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog nie vir mense wat ryk is aan aardse besittings om aan die koninkryk van God deel te kry nie! Want dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryke om aan die koninkryk van God deel te kry.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie is dan in staat om verlos te word?” Jesus het gereageer: “Dié dinge wat by mense onmoontlik is, is juis by God moontlik.” Petrus sê toe daarop: “Kyk, ons het ons eie besittings prysgegee en U gevolg.” Jesus het geantwoord: “Ek verseker julle, daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God hulle huis of vrou of broers of ouers of kinders prysgegee het, wat nie soveel keer meer in hierdie tyd ontvang nie, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

LUKAS 18:15-30 Bybel vir almal (ABA)

Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy aan hulle kon raak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense geraas. Maar Jesus het die kindertjies geroep en gesê: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God is Koning oor mense soos hulle. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand nie soos 'n kindjie glo dat God sy Koning is nie, dan sal hy ook nie kan inkom waar God Koning is nie.” 'n Leier van die Jode het vir Jesus gesê: “U is 'n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie. Jy weet wat God in sy tien gebooie gesê het: ‘ Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy moet jou ouers respekteer.’ ” Die man het vir Jesus gesê: “Vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.” Toe Jesus dit hoor, het Hy vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en deel die geld uit vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.” Die man het baie hartseer geword toe hy hoor wat Jesus sê, want hy was baie ryk. Toe Jesus sien hoe hartseer die ryk man word, het Hy gesê: “Ryk mense sal nie maklik inkom waar God Koning is nie. 'n Ryk man sal moeilik inkom waar God Koning is, 'n kameel sal makliker deur die oog van 'n naald kan gaan.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “As dit so is, wie sal kan inkom waar God Koning is?” Jesus het lank na hulle gekyk en Hy het gesê: “Mense kan nie self daar inkom nie, net God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.” Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het ons mense en ons goed gelos en ons gaan saam met U.” Jesus het vir die dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los of sy vrou of sy broers of sy ouers of sy kinders omdat hy gehoorsaam is aan God wat Koning is, dan sal hy baie meer terugkry. Hy sal baie terugkry nou, in hierdie tyd. Maar daar kom 'n nuwe tyd, en dan sal hy die ewige lewe kry.”

LUKAS 18:15-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. EN 'n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder. En hy sê: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou — verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk. En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan. Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. Daarop sê die wat dit gehoor het: Wie kan dan gered word? Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik. Toe sê Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van God, wat nie baiemaal soveel in hierdie tyd sal ontvang nie en die ewige lewe in die eeu wat kom.

LUKAS 18:15-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas. Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” 'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder.” Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk. Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Maar wie kan dan gered word?” Daarop antwoord Hy: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.” Toe sê Petrus: “Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg.” En Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie, of hy ontvang in hierdie tyd al baie keer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe.”

LUKAS 18:15-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hulle het ook kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle kon aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle die mense berispe. Jesus het hulle egter nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die •koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. •Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” 'n Sekere maghebber het Hom gevra: “Goeie Meester, wat moet ek doen, sodat ek die ewige lewe kan erf?” Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; eer jou vader en jou moeder. ” Hy antwoord: “Dit alles het ek van jongs af nagekom.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir die man: “Een ding ontbreek jou nog: Verkoop alles wat jy het en deel dit onder die armes uit, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” Toe die man dit egter hoor, het hy baie bedroef geword, want hy was skatryk. Toe Jesus sien hoe bedroef die man word, het Hy gesê: “Hoe moeilik is dit tog vir hulle wat rykdom het, om in te gaan in die •koninkryk van God; want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie kan dan gered word?” En Hy antwoord: “Wat onmoontlik is by mense, is by God moontlik.” Daarop sê •Petrus: “Kyk, ons het ons besittings agtergelaat en U gevolg.” Jesus het hulle geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, ter wille van die koninkryk van God, huis of vrou of broers of ouers of kinders agtergelaat het, wat nie in hierdie tyd veel meer sal ontvang nie – én in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

LUKAS 18:15-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hulle het ook babas na Hom gebring, dat Hy hulle sou aanraak; maar toe sy dissipels dit sien, het hulle hulle bestraf. Maar Jesus het hulle na hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal nooit daarin ingaan nie. En 'n sekere owerste het Hom gevra en gesê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? niemand is goed nie, behalwe een, dit is God. U ken die gebooie: Moenie egbreuk pleeg nie, moenie doodslaan nie, moenie steel nie, gee geen valse getuienis nie, eer jou vader en jou moeder. En hy sê: Dit alles het ek bewaar van my jeug af. En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: Nog een ding ontbreek jou: verkoop alles wat jy het en deel dit uit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom, volg My. En toe hy dit hoor, was hy baie bedroef, want hy was baie ryk. En toe Jesus sien dat Hy baie bedroef was, sê Hy: Hoe beswaarlik sal die wat rykdom het, in die koninkryk van God ingaan! Want dit is makliker vir 'n kameel om deur 'n naald se oog te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En die wat dit gehoor het, het gesê: Wie kan dan gered word? En hy sê: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik. Toe sê Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is geen man wat huis of ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van God nie. Wat nie veel meer sal ontvang in hierdie huidige tyd en in die toekomstige wêreld die ewige lewe nie.

LUKAS 18:15-30 Die Boodskap (DB)

Kort daarna het ouers hulle klein kindertjies na Jesus toe gebring in die hoop dat Hy sy hande op hulle sou sit en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle weggejaag. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus met sulke “onbelangrike” dinge lastig val nie. Toe Jesus dit sien, het Hy egter dadelik vir sy dissipels gesê: “Wag! Wat vang julle aan? Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies van hulle hemelse Vader afhanklik is. Weet julle, as julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie.” Op ’n dag het ’n baie belangrike man vir Jesus gesê: “Goeie Leermeester, sê my, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se wêreld kan bly?” “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, jy moet God se voorskrifte gehoorsaam. En jy ken tog al God se voorskrifte: jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie leuens vertel nie, en jy moet respek hê vir jou pa en ma.” “Ag wat, ek doen al daardie dinge van kleins af,” sê die man. Daarop antwoord Jesus: “Wel, dan is daar nog net een klein dingetjie wat jy moet doen. Gaan verkoop al jou besittings. Gee dan al die geld vir die armes. Laat staan alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit doen, het jy vir jou ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.” Hierdie woorde het die man baie omgekrap, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om alles wat hy het aan sy familie en aan die armes uit te deel nie. Toe Jesus agterkom hoe omgekrap die ryk man is, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se nuwe wêreld te kry nie. Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om sy voete in God se nuwe wêreld te sit.” Die omstanders was verbysterd oor hierdie woorde. Hulle vra Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word?” Jesus sê toe vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. Vertrou op Hom.” Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Sê asseblief reguit vir ons wat ons kans is om daar uit te kom. Kyk, ons het immers al ons besittings verkoop en u volgelinge geword.” “Ek het baie goeie nuus vir julle!” het Jesus dadelik geantwoord. “Ek gee julle vandag die versekering dat almal wat iets groots moes opoffer om te doen wat God vra, definitief ’n plek in sy nuwe wêreld sal kry. As jy jou familie moet opoffer omdat jy in My glo, sal jy daarvoor vergoed word. Sommer nou al. Ja, jy sal elke dag oorlaai word met God se goedheid. En jy sal vir seker ook ’n plek kry in sy nuwe wêreld.”