Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak. Die dissipels het gesien wat aangaan, en die mense voor stok gekry. Jesus het egter die kindertjies nadergeroep en gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom, en moet hulle nie keer nie, want dit is sulke mense wat deel het aan die koninkryk van God. Ek verseker julle, wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie aanvaar nie, sal nooit daar ingaan nie.” Iemand uit die geledere van die geestelike leiers het aan Jesus gevra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” Jesus het gereageer: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, dit is God. Jy ken mos die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis aflê nie, en eer jou vader en jou moeder.” Hy het geantwoord: “Al hierdie dinge het ek nagekom van kleins af.” Toe Jesus dit hoor, het Hy vir die man gesê: “Tog is daar een ding wat by jou kortkom: Verkoop alles wat jy besit en gaan deel die opbrengs aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan hierheen en word my dissipel.” Toe hy dit hoor, het die man baie afgehaal gevoel, want hy was skatryk. Toe Jesus sien dat hy so afgehaal lyk, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog nie vir mense wat ryk is aan aardse besittings om aan die koninkryk van God deel te kry nie! Want dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryke om aan die koninkryk van God deel te kry.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie is dan in staat om verlos te word?” Jesus het gereageer: “Dié dinge wat by mense onmoontlik is, is juis by God moontlik.” Petrus sê toe daarop: “Kyk, ons het ons eie besittings prysgegee en U gevolg.” Jesus het geantwoord: “Ek verseker julle, daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God hulle huis of vrou of broers of ouers of kinders prysgegee het, wat nie soveel keer meer in hierdie tyd ontvang nie, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”
Lees LUKAS 18
Luister na LUKAS 18
Deel
Vergelyk alle weergawes: LUKAS 18:15-30
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's