Klaagliedere 3:1-21

Klaagliedere 3:1-21 DB

Ek is die man wat ervaar het hoe seer dit is as die Here jou slaan omdat Hy vir jou kwaad is. Hy het my weggejaag na ’n baie donker plek toe. Hy het nie opgehou om my te slaan nie. Hy het my skouers laat hang en my knieë laat knak. Hy het my met swaarkry en lyding in ’n hoek vasgedruk. Hy laat my voel asof ek wil doodgaan. Dis of ek al klaar dood is. Hy het my toegesluit. Hy het my met swaar kettings geboei sodat ek nie kan uitkom nie. Hy luister nie eens wanneer ek bid nie, al roep ek ook hoe hard. Hy maak my paaie met groot klippe toe sodat ek langs ompaaie moet loop. Hy is soos ’n beer wat my voorlê, ’n leeu wat my lê en inwag. Hy het my uit die pad uit gesleep, my uitmekaargeskeur en my net so daar laat lê. Hy het die pyl in sy boog gespan. Hy het van my die teiken gemaak waarna Hy met sy pyle skiet. Hy het sy pylkoker op my leeggemaak met al die pyle wat Hy op my afgeskiet het. My volk lag vir my en maak aanmekaar spotliedjies oor my. Hy laat my bitter dinge sluk tot ek nie meer kan nie. Hy maak dit galbitter vir my. Hy het my in die grond in getrap. Ek het geval en my tande teen die klippe gebreek. Ek het vergeet hoe dit is om gelukkig en tevrede te wees. Al my vertroue is weg. Ek verwag niks meer van die Here nie. Ek word bitter wanneer ek aan my pyn en hartseer dink. My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink. Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry