Klaagliedere van Jeremia 3:1-21

Klaagliedere van Jeremia 3:1-21 AFR20

Ek is die man wat ellende beleef het deur die slae van die HERE se gramskap. Hy het my gedryf, my in die donker laat loop, sonder lig. Ja, Hy het sy hand teen my gelig, telkens weer, die hele dag. Hy het my vleis en vel verteer, my bene gebreek. Hy het my beleër, my omring met bitterheid en moeite. Hy het my in donker plekke laat bly soos dié wat lankal dood is. Hy het 'n muur rondom my gebou, uitkom kan ek nie; Hy het my boeie van brons swaar gemaak. Selfs al skree ek en roep om hulp, sluit Hy Hom af vir my gebed. Met gekapte klip het Hy my pad toegebou, Hy het my paaie laat kronkel. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke. Hy het my paaie verlê, my braak laat lê, my 'n woesteny gemaak. Hy het sy boog gespan, my as teiken opgestel vir die pyl. Die pyle uit sy koker het Hy in my niere laat indring. Ek word uitgelag deur al my mense; hulle spotlied klink heeldag op. Met bitter kruie het Hy my versadig, my in oormaat wildeals laat drink. Hy het my tande op gruis laat afslyt; Hy het my in die as vertrap. Vrede is my ontneem, die goeie het ek vergeet. Ek het gesê: My toekoms en my hoop op die HERE het verdwyn. Dink aan my nood en my swerwersbestaan, aan die wildeals en gif. Wanneer ek diep daaroor nadink, raak ek terneergedruk. Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop