Jesaja 52:1-12

Jesaja 52:1-12 DB

Word wakker. Staan op, Sion. Berei jou voor. Maak jouself mooi, Jerusalem. Jy is die stad wat aan die Here behoort. Heidene wat nie aan die Here behoort nie, mag nooit weer in jou kom nie. Skud die stof van jou af. Staan op uit die grond. Jy is nie meer ’n gevangene nie. Haal af die boeie om jou nek. Jy is nie meer in die tronk nie, Sion. Die Here sê: Toe julle weggevoer is, het Ek julle slawe laat word. Julle is gevange geneem en nie gekoop nie. Wanneer julle bevry word, sal dit ook nie wees omdat daar met geld vir julle betaal is nie. Die Here sê: My volk het vroeër Egipte toe gegaan en tydelik daar gaan bly. Later was Assirië oor hulle baas. En wat gebeur nou? vra die Here. My volk is sommer net so weggevoer. Dié wat oor hulle regeer, spot met hulle en maak my Naam aanhoudend sleg. Ek sal my volk leer om my Naam te herken. As Ek die dag met hulle praat, sal hulle dadelik weet dit is die Here wat met hulle praat. Dit sal wonderlik wees wanneer iemand van die berge af die goeie nuus uitroep. Hy sal die wonderlike nuus bring van vrede en van bevryding. Hy sal vir Sion sê: “Jou God regeer!” Die wagte wat op die mure van die stad waghou, sal hardop uitroep. Hulle sal almal saam van vreugde skreeu. Hulle sal voor hulle oë sien hoe die Here terugkom na Sion toe. Die murasies van Jerusalem sal saam skreeu en met blydskap juig. Die Here het sy volk jammer gekry. Die Here maak Jerusalem weer vry. Die Here wys vir al die nasies hoe geweldig sterk Hy is. Tot in die verste uithoeke van die aarde sien hulle hoe God ons uitred. Gee pad uit Babel uit. Kom weg daar. Moenie aan iets vat wat vir die Here onaanvaarbaar is nie. Dié wat die tempelgereedskap dra, moet hulle afsonder vir die Here. Hulle moet wegkom uit Babel uit. Julle hoef nie halsoorkop pad te gee nie. Julle hoef ook nie soos destyds uit Egipte te vlug nie. Die Here self sal voor julle uitgaan. Hy sal julle van agter af beskerm.