Jesaja 52:1-12

Jesaja 52:1-12 AFR20

Word wakker! Word wakker! Beklee jou met jou krag, Sion! Trek jou pragtige klere aan, Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal onbesnedenes en onreines nie langer kom nie. Skud die stof van jou af! Staan op, gaan sit op jou troon, Jerusalem! Maak jou los van die bande om jou nek, krygsgevangene, dogter van Sion! Ja, so sê die HERE: “Vir niks is julle verkoop, sonder geld sal julle losgekoop word.” Ja, so sê my Heer, die HERE: “Na Egipte het my volk aan die begin afgetrek om as •vreemdelinge daar te woon. Assirië het hulle sonder rede verdruk. Maar nou, wat vind Ek hier?” is die uitspraak van die HERE. “Want my volk is sonder rede weggeneem, sy heersers huil,” is die uitspraak van die HERE, “en my Naam word voortdurend, daglank, verguis. Daarom sal my volk my Naam ken. Daarom, op daardie dag, sal hulle weet dat Ek die Een is wat sê, ‘Hier is Ek!’ ” Hoe lieflik op die berge is die voete van 'n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat 'n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God heers as koning!” Luister na jou wagte, hulle roep uit, saam jubel hulle; want reg voor hulle oë aanskou hulle die terugkeer van die HERE na Sion. Breek saam uit in gejubel, puinhope van Jerusalem! Want die HERE troos sy volk, Hy koop Jerusalem los. Die HERE ontbloot sy heilige arm voor die oë van al die nasies. Al die uithoeke van die aarde ervaar die verlossing deur ons God. Wyk uit! Wyk uit! Trek weg van daar af! Aan iets onreins moet julle nie raak nie. Trek weg uit haar midde! Hou julle rein, draers van die HERE se tempelgereedskap! Julle mag egter nie oorhaastig wegtrek nie, nie op die vlug slaan nie; want die HERE gaan voor julle uit; die God van Israel vorm julle agterhoede.