JESAJA 52:1-12

JESAJA 52:1-12 NLV

Word wakker, word wakker, Sion, beklee jou met krag! Trek jou mooiste klere aan, Jerusalem, heilige stad. Onbesnedenes en onrein mense sal nie meer in jou kom nie. Staan op uit die stof, Jerusalem! Staan op! Maak die toue om jou nek los, Sion, jy wat ’n gevangene is. So sê die HERE: “Ek het niks vir julle gekry toe ek julle verkoop het nie. En nou kan ek julle terugkoop sonder geld.” So sê die oppermagtige HERE: “Lank gelede het my volk as vreemdelinge in Egipte gaan bly. Nou het Assirië hulle sonder rede verdruk. “En nou, wat kry Ek nou hier?” vra die HERE. “Wie het nou weer my volk sonder rede slawe gemaak? Dié wat oor hulle heers, spot met hulle,” sê die HERE. “Hulle praat die hele dag sleg van My. Daarom sal my volk my Naam ken. En daarom sal hulle weet wanneer die dag kom, dat dit Ek is wat sê: ‘Hier is Ek!’” Hoe mooi klink die voetstappe op die berge van hulle wat goeie nuus bring en vrede en verlossing aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God regeer!” Luister! Die wagte roep hard, hulle sing van vreugde. Want voor hulle oë sien hulle hoe die HERE terugkom na Sion toe. Die puinhope van Jerusalem moet sing van vreugde, want die HERE het sy volk getroos. Hy het Jerusalem verlos. Die HERE sal sy heilige mag voor die volke se oë vertoon. Tot aan die uithoeke van die aarde sal hulle God se redding sien. Gee pad, gee pad! Trek weg uit Babel! Moenie wat onrein is, aanraak nie. Kom daar uit en sorg dat julle rein is, julle wat die tempelgereedskap van die HERE dra. Julle sal nie haastig padgee nie. Julle sal nie hardloop soos vlugtelinge nie. Die HERE sal voor julle uittrek en die God van Israel sal julle van agter beskerm.