JESAJA 52:1-12

JESAJA 52:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Sion, jy moet wakker word, jy moet wakker word, jy moet weer sterk wees. Jerusalem, gewyde stad, jy moet mooi klere aantrek, want mense wat nie besny is nie, mense wat onrein is, sal nie meer in jou kom nie. Jerusalem, jy was soos 'n gevangene. Jy het in die stof gesit en daar was 'n tou om jou nek. Skud af die stof, maak los die tou. Ja, die Here sê: “Ek het julle verkoop, maar Ek het nie geld gekry nie. Ek sal julle vrymaak, maar Ek sal nie geld betaal nie.” Ja, die Here sê: “Eers het my volk na die land Egipte gegaan. Hulle was daar vreemdelinge. Hulle het niks gedoen aan die Assiriërs nie, maar die Assiriërs het hulle verdruk. En nou, wat sal Ek hier doen?” Die Here sê dit. “Vyande het my volk gevat, maar my volk het niks aan hulle gedoen nie. My volk se regeerders huil.” Die Here sê dit. “Die vyande hou die hele dag aan om sleg te praat van My. Daarom sal my volk weet wie Ek is, daarom sal hulle daardie dag weet dit is Ek wat sê: Hier is Ek.” Daar kom 'n boodskapper oor die berge. Dit is mooi om te sien hoe hy hardloop. Hy kom sê daar sal vrede wees. Hy bring goeie nuus, hy kom sê die Here sal sy volk red. Hy kom sê vir Sion: “Jou God is Koning.” Luister, Sion, jou wagte skree, hulle juig almal, want hulle sien self dat die Here terugkom na jou toe. Klippe van Jerusalem, julle moet bly wees, julle moet saam juig, want die Here laat dit weer goed gaan met sy volk. Hy het Jerusalem vrygemaak. Die Here het vir al die volke gewys dat sy heilige arm sterk is. Al die mense op die aarde sal sien dat ons God ons red. Gaan weg uit Babel, loop! Kom uit daardie land. Moenie raak aan daardie onrein plek nie. Julle wat die tempel-gereedskap van die Here dra, julle moet uitkom, julle moet rein bly. Wanneer julle daar weggaan, dan sal julle nie hardloop nie, julle sal nie vlug nie, want die Here sal julle lei, die God van Israel sal by julle wees.

JESAJA 52:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

ONTWAAK, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine meer kom nie. Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion! Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld gelos word. Want so sê die Here HERE: In vroeër dae het my volk afgetrek na Egipte om daar as vreemdeling te vertoef, en Assur het hom sonder rede verdruk. Maar nou, wat vind Ek hier? spreek die HERE; want my volk is vir niks weggeneem, sy oorheersers maak geraas, spreek die HERE, en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster. Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek! HOE lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! Hoor! Jou wagte! Hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle sien vlak voor hulle oë hoe die HERE terugkeer na Sion. Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die HERE het sy volk getroos, Jerusalem verlos. Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God. Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE! Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie; want die HERE trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede.

JESAJA 52:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Word wakker, word wakker, ruk jou reg, Sion. Trek mooi klere aan, Jerusalem, heilige stad! Mense wat nie besny is nie en mense wat onrein is, sal nie meer in jou kom nie. Skud die stof van jou af en staan op, Jerusalem, jy wat 'n gevangene is. Maak los die toue om jou nek, Sion, jy wat 'n gevangene is. So sê die Here: Ek het julle verkoop, maar nie vir geld nie; julle sal losgekoop word, maar nie deur geld nie. So sê die Here my God: In die begin het my volk afgegaan na Egipte toe en daar gewoon as vreemdelinge; later het Assirië hulle verdruk. En wat kry Ek nou hier in Babel? vra die Here. My volk is sonder rede weggevoer, hulle leiers huil, sê die Here. My Naam word gedurig belaster. Daardie dag sal my volk my Naam bely: dat Ek die Here is, dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek! Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” Hoor, jou wagte roep hard, hulle jubel almal saam, want hulle sien dat die Here na Sion toe terugkom. Jubel en juig, puinhope van Jerusalem, want die Here het vir sy volk uitkoms gebring, Hy het Jerusalem verlos. Die Here het sy heiligheid, sy mag, geopenbaar voor die oë van al die nasies. Tot aan die uithoeke van die aarde sal hulle die redding sien wat ons God bewerk het. Gee pad, gee pad, kom uit uit Babel! Moenie aan iets raak wat onrein is nie. Kom uit daar! Sorg dat julle rein is, julle wat die tempelgereedskap dra. Julle hoef nie haastig pad te gee nie, julle hoef nie soos vlugtelinge te vertrek nie: Die Here gaan voor julle uit, die God van Israel kom agter julle aan.

JESAJA 52:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Word wakker! Word wakker! Beklee jou met jou krag, Sion! Trek jou pragtige klere aan, Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal onbesnedenes en onreines nie langer kom nie. Skud die stof van jou af! Staan op, gaan sit op jou troon, Jerusalem! Maak jou los van die bande om jou nek, krygsgevangene, dogter van Sion! Ja, so sê die HERE: “Vir niks is julle verkoop, sonder geld sal julle losgekoop word.” Ja, so sê my Heer, die HERE: “Na Egipte het my volk aan die begin afgetrek om as •vreemdelinge daar te woon. Assirië het hulle sonder rede verdruk. Maar nou, wat vind Ek hier?” is die uitspraak van die HERE. “Want my volk is sonder rede weggeneem, sy heersers huil,” is die uitspraak van die HERE, “en my Naam word voortdurend, daglank, verguis. Daarom sal my volk my Naam ken. Daarom, op daardie dag, sal hulle weet dat Ek die Een is wat sê, ‘Hier is Ek!’ ” Hoe lieflik op die berge is die voete van 'n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat 'n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God heers as koning!” Luister na jou wagte, hulle roep uit, saam jubel hulle; want reg voor hulle oë aanskou hulle die terugkeer van die HERE na Sion. Breek saam uit in gejubel, puinhope van Jerusalem! Want die HERE troos sy volk, Hy koop Jerusalem los. Die HERE ontbloot sy heilige arm voor die oë van al die nasies. Al die uithoeke van die aarde ervaar die verlossing deur ons God. Wyk uit! Wyk uit! Trek weg van daar af! Aan iets onreins moet julle nie raak nie. Trek weg uit haar midde! Hou julle rein, draers van die HERE se tempelgereedskap! Julle mag egter nie oorhaastig wegtrek nie, nie op die vlug slaan nie; want die HERE gaan voor julle uit; die God van Israel vorm julle agterhoede.

JESAJA 52:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ontwaak, wakker; beklee u met u sterkte, o Sion! Trek jou pragtige klere aan, o Jerusalem, heilige stad, want van nou af sal onbesnedenes en onreine nie meer in jou kom nie. Skud jou uit die stof; Staan op en gaan sit, o Jerusalem! maak jou los van die bande van jou nek, o gevange dogter van Sion! Want so sê die HERE: Julle het julle verniet verkoop; en julle sal sonder geld gelos word. Want so sê die HERE HERE: My volk het vroeër na Egipte afgetrek om daar as vreemdeling te vertoef; en die Assiriër het hulle sonder oorsaak verdruk. Nou dan, wat het Ek hier, spreek die HERE, dat my volk verniet weggeneem is? die wat oor hulle heers, laat hulle huil, spreek die HERE; en my Naam word gedurigdeur elke dag gelaster. Daarom sal my volk my Naam ken; daarom sal hulle in dié dag weet dat dit Ek is wat spreek; kyk, dit is Ek. Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat goeie boodskap bring, wat vrede verkondig; wat goeie tyding bring, wat verlossing verkondig; wat vir Sion sê: Jou God is Koning! U wagte sal die stem verhef; met die stem saam sal hulle sing, want hulle sal oog tot oog sien as die HERE Sion terugbring. Breek uit in blydskap, sing saam, julle puinhope van Jerusalem, want die HERE het sy volk vertroos, Hy het Jerusalem verlos. Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies; en al die eindes van die aarde sal die verlossing van onse God sien. Gaan weg, gaan weg, gaan daarvandaan weg, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit haar uit; Wees rein, julle wat die voorwerpe van die HERE dra. Want julle mag nie haastig uittrek en nie vlug nie; want die HERE sal voor julle uit trek; en die God van Israel sal jou loon wees.

JESAJA 52:1-12 Die Boodskap (DB)

Word wakker. Staan op, Sion. Berei jou voor. Maak jouself mooi, Jerusalem. Jy is die stad wat aan die Here behoort. Heidene wat nie aan die Here behoort nie, mag nooit weer in jou kom nie. Skud die stof van jou af. Staan op uit die grond. Jy is nie meer ’n gevangene nie. Haal af die boeie om jou nek. Jy is nie meer in die tronk nie, Sion. Die Here sê: Toe julle weggevoer is, het Ek julle slawe laat word. Julle is gevange geneem en nie gekoop nie. Wanneer julle bevry word, sal dit ook nie wees omdat daar met geld vir julle betaal is nie. Die Here sê: My volk het vroeër Egipte toe gegaan en tydelik daar gaan bly. Later was Assirië oor hulle baas. En wat gebeur nou? vra die Here. My volk is sommer net so weggevoer. Dié wat oor hulle regeer, spot met hulle en maak my Naam aanhoudend sleg. Ek sal my volk leer om my Naam te herken. As Ek die dag met hulle praat, sal hulle dadelik weet dit is die Here wat met hulle praat. Dit sal wonderlik wees wanneer iemand van die berge af die goeie nuus uitroep. Hy sal die wonderlike nuus bring van vrede en van bevryding. Hy sal vir Sion sê: “Jou God regeer!” Die wagte wat op die mure van die stad waghou, sal hardop uitroep. Hulle sal almal saam van vreugde skreeu. Hulle sal voor hulle oë sien hoe die Here terugkom na Sion toe. Die murasies van Jerusalem sal saam skreeu en met blydskap juig. Die Here het sy volk jammer gekry. Die Here maak Jerusalem weer vry. Die Here wys vir al die nasies hoe geweldig sterk Hy is. Tot in die verste uithoeke van die aarde sien hulle hoe God ons uitred. Gee pad uit Babel uit. Kom weg daar. Moenie aan iets vat wat vir die Here onaanvaarbaar is nie. Dié wat die tempelgereedskap dra, moet hulle afsonder vir die Here. Hulle moet wegkom uit Babel uit. Julle hoef nie halsoorkop pad te gee nie. Julle hoef ook nie soos destyds uit Egipte te vlug nie. Die Here self sal voor julle uitgaan. Hy sal julle van agter af beskerm.

JESAJA 52:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Word wakker, word wakker, Sion, beklee jou met krag! Trek jou mooiste klere aan, Jerusalem, heilige stad. Onbesnedenes en onrein mense sal nie meer in jou kom nie. Staan op uit die stof, Jerusalem! Staan op! Maak die toue om jou nek los, Sion, jy wat ’n gevangene is. So sê die HERE: “Ek het niks vir julle gekry toe ek julle verkoop het nie. En nou kan ek julle terugkoop sonder geld.” So sê die oppermagtige HERE: “Lank gelede het my volk as vreemdelinge in Egipte gaan bly. Nou het Assirië hulle sonder rede verdruk. “En nou, wat kry Ek nou hier?” vra die HERE. “Wie het nou weer my volk sonder rede slawe gemaak? Dié wat oor hulle heers, spot met hulle,” sê die HERE. “Hulle praat die hele dag sleg van My. Daarom sal my volk my Naam ken. En daarom sal hulle weet wanneer die dag kom, dat dit Ek is wat sê: ‘Hier is Ek!’” Hoe mooi klink die voetstappe op die berge van hulle wat goeie nuus bring en vrede en verlossing aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God regeer!” Luister! Die wagte roep hard, hulle sing van vreugde. Want voor hulle oë sien hulle hoe die HERE terugkom na Sion toe. Die puinhope van Jerusalem moet sing van vreugde, want die HERE het sy volk getroos. Hy het Jerusalem verlos. Die HERE sal sy heilige mag voor die volke se oë vertoon. Tot aan die uithoeke van die aarde sal hulle God se redding sien. Gee pad, gee pad! Trek weg uit Babel! Moenie wat onrein is, aanraak nie. Kom daar uit en sorg dat julle rein is, julle wat die tempelgereedskap van die HERE dra. Julle sal nie haastig padgee nie. Julle sal nie hardloop soos vlugtelinge nie. Die HERE sal voor julle uittrek en die God van Israel sal julle van agter beskerm.